BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 24
DIE HERE IS DIE MAGTIGE KONING
Dié Psalm is moontlik gedig toe die ark oorgebring is van die huis van Obed-Edom na Jerusalem nadat Dawid die stad verower het (2 Sam. 6). God woon in Sion, daarom hoort die ark daar. Tog is Hy Skepper van die hele wêreld. Hy woon bo die gerubs van die ark, maar is ook oral teenwoordig in die wêreld en onderhou alles wat Hy geskep het. Die see speel ‘n groot rol om lewe op die aarde moontlik te maak (v. 2).
Vers 1 – 2: Hy begin die gedig met lof aan die Skepper. Die skepping laat mens altyd die Almag en Grootheid van God besef. Tog het Hy die Heiligdom in Sion uitverkies om daar te woon op ‘n besondere manier. In die Hebreeus begin die sin met die Naam van die Here: ”Die Here, die aarde behoort …” Die klem lê op die Here. Die aarde behoort aan Israel se Verbondsgod, die Een wat in Homself lewe het. Hy is die Bron van alle lewe! Met goddelike wysheid het Hy die balans tussen vasteland en see so geskep dat lewe op aarde moontlik is. Dit kon nie toevallig so gebeur het nie. Geen ander planeet het daardie delikate balans tussen water en vaste grond, sodat lewe moontlik is, nie.
Vers 3 – 6: God se heiligheid is so groot soos sy Almag en Majesteit. Wie kan in sy teenwoordigheid kom, en hoe kwalifiseer die sondige mens daarvoor? Waar God woon, is alles heilig. Hyself is so heilig dat die sondige mens in sy teenwoordigheid verteer sal word. Die kondisies (voorwaardes) om in sy teenwoordigheid te kom, is volmaakte heiligheid. Die berg Sion en die allerheiligste van die tabernakel is sy woonplek. Hoe kan die sondige mens opklim op die berg om God te ontmoet en daar in sy teenwoordigheid te staan om vergifnis (geregtigheid) en seën van die Here te verkry. Sonder vergifnis kan geen sondaar geseën word nie. Hy moet eers beklee word met geregtigheid wat van buite homself kom. Dié God wat rein is, moet die mens rein maak voor hy in sy teenwoordigheid kan kom. Daarom was die offeraltaar so geplaas dat die gelowige eers sy offers kon bring en belydenis doen van sy sonde voor hy kon aanbid in die tabernakel. Daar moes eers bloed vloei en reiniging van hart plaasvind. Die aanbidder moet van alle daadsondes en gesindheidsondes gereinig word. Dan sal hy seën wegdra van die Here, en met God se geregtigheid in vrede weggaan van die ontmoetingsplek van God. Dan kan hy die seën gaan deel met ander. Dit is die kenmerk van ware gelowiges: hulle wat regtig die Here soek sonder bymotiewe. Hulle erken en bely hul sonde en kom dan met skoon harte na God om sy aangesig te soek. Dit beteken hulle soek direkte intieme gemeenskap met God self. Hulle wil nie eerstens dinge van God verkry nie, maar God self dieper ontmoet. Hul verlossing (heil) is by die Here alleen te vinde en hul hou hul nie meer met verbygaande nietighede op nie. Hulle soek die ewige dinge bo die tydelike.
Vers 7-10: Alleen hulle wat van alle sonde gereinig is, kan die berg opgaan. Die prosessie wat die ark inneem na die tabernakel neem die Here se teenwoordigheid saam met hulle tot binne-in die tabernakel. Die eeue-oue poorte is egter te klein en te laag om God se teenwoordigheid deur te laat God. Ja, God self kom terug na sy woonplek na die oorwinning wat Hy oor die vyande gegee het. God is die eintlike Koning en nie Dawid nie. Hy is die Erekoning. Aan Hom kom al die eer toe vir die oorwinning oor die vyande van sy volk. Die poorte moet opgelig word, want God is te groot om daardeur te gaan. Sy Almag en Majesteit is oneindig groter as dié van aardse konings en maghebbers. Wie is hierdie groot God aan wie die eintlike eer en Koningskap toekom? Dit is die Here van die leërskare! In die hemel aanbid miljoene engele Hom en Hy stuur hulle uit as sy soldate. Die Here is die opperste gesag en mag in die stryd. Hy veg vir Israel en openbaar sy almag in die oorwinning wat Hy gee. Die oorwinning het gemaak dat Hy nou weer in Sion kom woon. Die ark het teruggekeer (2 Sam. 6). Dit is die teken van sy teenwoordigheid wat terugkeer. In die NT reinig die bloed van Jesus die gelowige van alle sonde sodat hy met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God kan kom (Hebr. 10:19 – 21). Dit alles omdat Jesus as “die Here” die oorwinning behaal het aan die kruis (Kol. 2:15), en opgevaar het na die hemelse tabernakel om daar vir ons ‘n nuwe lewende weg oop te maak, om direk met God in die hemelse heiligdom te kommunikeer.