Ps 23 Die Here is my Herder

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS: PSALM 23

DIE HERE IS MY HERDER

Die Here, die Verbondsgod, is Dawid se Herder. Hy is die een wat lewe in Homself het en dus alle vorms van lewe skep. Daarom kan Hy in alles voorsien. Omdat Hy in alles voorsien, sal sy kind niks kortkom nie. Hy sal hom ook geestelik verkwik en sielkundig versterk sodat hy die regte pad kan loop. Op hierdie regte pad agter die Herder aan sal Hy hom beskerm. Hy gee aan sy kind veiligheid en volheid teenoor sy teenstanders, wat dan verleë toekyk hoe God hom seën. Hierdie intieme verhouding met die Herder loop uit op ‘n ewige tuis wees in sy teenwoordigheid. Die Psalm kan in drie dele opgedeel word, wat handel oor die

  • voorsiening,
  • veiligheid en
  • volheid wat die Herder bied.

Dit alles is ‘n persoonlike getuienis van Dawid se persoonlike ondervinding met God op Sy lewenspad. Sy geloofsgetuienis sluit ook drie dinge in:

  • Ek sal niks kort nie,
  • ek sal geen onheil vrees nie, en
  • “ek sal woon in die huis van die Here vir altyd”.

 

Vers 1- 3: Die Herder lei die skape na goeie geestelike voedsel en waters wat rus bring. Dit is die Woord en die Gees van die Here wat hom geestelik laat lewe en groei. Die skaap vertrou die Herder. Hy het geleer dat hy die Herder kan volg omdat Hy beter as die skaap weet waar die beste weiding en water is. Hy versterk sy kind ook sielkundig wanneer hy moeg word van die eise en bedreiginge van die lewe. Die Herder se spore lei na ‘n lewe wat reg is, volgens die wil van God.

 

Vers 4: Die Herder beskerm ook die skaap teen alle gevare. Die smal paadjies in Palestina was dikwels gevaarlik, met diep afgronde langsaan. Hulle kronkel vandag nog teen die hange uit, wat skaduwees veroorsaak waarin roofdiere skuil. Veral in die tyd van Dawid was daar baie gevaarlike roofdiere soos leeus, wolwe, bere en jakkalse. Die Herder se stok waarmee Hy hulle beveg, gee rustigheid aan die skape. Hulle hoor die stok se geklop op die grond soos die Herder voor hulle uitloop en hulle lei. Hulle is gewoond aan daardie geluid en dit maak hulle rustig. In gevare en bedreiginge is die Herder self hulle troos en sekuriteit.

 

Vers 5 – 6: Die Here is ook ‘n Gasheer wat Hom met oorvloed versorg terwyl sy vyande die aftog moet blaas. In die Here vind hy, saam met veiligheid en beskerming, ook liefde wat hom ontvang soos ‘n eregas, en wat water in oorvloed gee as hy soos ‘n swerwer in die woestyn wil vergaan van dors. So ‘n God verander nooit. Daarom kan hy altyd staat maak op God se goedheid (wat geluk en vreugde gee) en genade (wat ontferming, meegevoel en begrip gee). Die konings in daardie tyd is gesien as herders wat vir die volk moet sorg. Die Here is ‘n goeie Koning wat die beste vir sy kinders wil gee. Hy doen dit egter nie net vir ‘n tyd nie, maar vir ewig. Hy is die Goeie Herder. Later het die Goeie Herder na die aarde gekom en self sy lewe gegee vir die skape (Joh. 10). Daardeur het Hy dit moontlik gemaak dat almal wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Hulle sal op aarde altyd terugkeer (of bly) in die huis van die Here. Maar meer nog: hulle sal vir ewig veilig woon en deel kry aan daardie volheid in die huis van die Here ereHerein die ewige lewe. Op aarde kan sy skape reeds geestelike lewe en geestelike oorvloed deelagtig word. In die hemel word dit nog ten volle voortgesit – vir altyd.

 

 

 

 

 

(Visited 342 times, 1 visits today)