BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 22
MY GOD, WAAROM HET U MY VERLAAT?
In hierdie Psalm gaan die aanslag teen Dawid verder as die vorige kere. Die Here wag ook langer voor Hy uitred. Daarom brul hy soos ‘n leeu, roep hy aanhoudend om uitredding. Daar is geen antwoord van God se kant af nie. Die hemel swyg. Die lewe van die digter word so bedreig dat uitredding al byna te laat is. Hy is so omsingel en vasgekeer deur die vyande dat daar geen menslike uitkoms is nie. Die lyding van die gelowige, weens vervolging deur die goddelose wêreld, sal alle gelowiges in mindere of meerdere mate tref. Dit is weer die vleeslike wat die geestelike vervolg (Gal. 4:29). Dieselfde vervolging sou Christus as die Groot Dawid later tref. Die Psalm is dus ‘n persoonlike getuienis, sowel as ‘n profesie. Christus sou dieselfde woorde oor godverlatenheid uitroep waarmee hierdie Psalm begin. Hy sou egter ook eindig met dieselfde woorde as die Psalm, naamlik dat God die oorwinning “volbring” het. Hy was weer getrou in Dawid se stryd, maar ook toe Christus vir ons sonde gely het. Hy sal ook getrou wees wanneer die Nuwe Testamentiese gelowige vervolg word. Maar die Nuwe Testamentiese gelowige sal ook aan sy eie siel en liggaam die vervolging voel (1 Petr. 5:8-9). God sal op die ou end die finale oorwinning gee. Almal in Christus sal deel kry aan die oorwinning (Open. 2:7, 11, 17, 26-28, 3:5, 12, 21).
Verse 1- 3: Die uitkoms kom nie. Gebed word smeking en smeking word ‘n aanhoudende gekerm! Só ver kan die stryd gaan. Benoudheid en eensaamheid het die oorhand geneem. God swyg en gryp nie in nie. Die digter vertel in hierdie gedig van sy donkerste ure. Sy moed het tot op die laagste vlak gesak. Só lank het die Here nog nooit gewag voor Hy red nie. So oorweldigend was die bedreiging nog nooit voorheen nie. Hy het nie gedink God sal dit so ver laat gaan nie. Tog woon God onder die lofsange van Israel – lofsange wat ontstaan het uit vorige uitreddings en oorwinnings wat God gegee het. Dikwels het hulle die teenwoordigheid van God in hul harte ervaar wanneer hulle as volk saam die Here geprys het met lofsange. Die gevoel van godverlatenheid strook tog nie met die werklikheid, of liewer met die waarheid nie. Dit moet misleiding wees. Daarom bly smeek hy in sy nood, want sy vertroue is steeds op God, selfs as die nag en lyding op sy ergste is.
Vers 4 – 6: Nou doen die eensame lydende figuur die belangrikste geloofstap. Hy dink logies terug aan God se getrouheid in die verlede. As God in die verlede nooit ontrou was nie, sal Hy mos ook nie nou ontrou word nie. Tweedens redeneer hy logies vanuit die karakter van God. Dis “koue “ geloof op vaste feite waar emosie jou nie meer kan help nie. Inteendeel, Dawid se emosies het hom alreeds in die steek gelaat. God het Hom aan Israel openbaar as HEILIG! God is volmaak en kan dus nie aan Homself en sy woord ontrou wees nie. Elke keer wat hul vaders op die Here vertrou het, het Hy hulle uitgered. Die dodelike kombinasie, gebed en vertroue, het altyd uitkoms gebring (Hebr. 11:6).
Verse 7 – 12: Die bespotting en verwerping deur mense begin sy tol eis. Dit dring diep deur in die siel van die een wat nou absoluut kwesbaar is. Sy lewe word nie net bedreig nie; sy eer word aangetas en hy word emosioneel gebreek deur wrede en gevaarlike vyande. Hulle spot selfs met sy God wat hom op dié oomblik nie help nie. Hy is totaal oorgelewer in die hande van genadelose en wrede mense. Dit is in Christus nog voller vervul. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom. Ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel. Maar sy bittere lyding sou ewige vrug dra (Jes. 53).
Die digter doen ‘n derde geloofstap in die atmosfeer van godverlatenheid. Hy dink doelbewus terug aan hoe God hom in die verlede mens laat word het en hom van kleins af vir Homself afgesonder het. God het hom nog altyd beskerm. Waarom sal Hy hom nou in die steek laat? Hy roep steeds vanuit hierdie wete om hulp!
Verse 13- 22: Die lyding word erger en die uitkoms lyk verder. Hy ervaar selfs in sy liggaam die effek van die bedreiging, asof hy alreeds fisies gemartel word. In die proses spreek die Gees verborge profesie deur die digter in sy ellendige toestand. As God hom nie help nie, sal die volgende gebeur: ”Sy kragte gee in, sy bene raak los, hy word verskriklik dors en sy vyande verdeel alreeds sy klere asof hy reeds sterwende is. Die digter sien wat met hom sal gebeur as God nie ingryp nie. Dit is al so ver heen dat dit is asof dit reeds met hom gebeur het. Hy sien vooruit wat sal gebeur as hy totaal in hulle hande val. Hy beleef dit so erg dat hy dit beskryf asof dit alreeds gebeur het. Die Gees van die profesie is egter in hom. In die proses spreek die Wortel van Dawid deur hom, wat eendag met Hóm sou gebeur. Dawid gee nie op om aan te hou bid nie. Hy roep weer om verlossing!
Vers 23 – 27: God verhoor, soos altyd, en red hom uit. Wat hy fisies sien kom het, gebeur nie met hom nie. Dit gebeur veel later met die Wortel en Saad van Dawid: die groot Gesalfde. Dawid hoef nie verder te ly nie. Christus sal ten volle kom ly tot die volle oorwinning behaal is. Dawid het altyd die behoefte om saam met medegelowiges God te loof as God die oorwinning gee. Die samekomste van die gelowiges en onderlinge getuienis van God se redding versterk die onderlinge eenheid en vrees vir die Here. Hulle wat die Here vrees, verstaan mekaar en hulle juig saam oor die Verlosser se ingryping. Die gevoel van godverlatenheid was net ‘n toets vir Dawid. Nou juig hy saam met die volk van die Here omdat Hy nie sy aangesig aanhoudend vir die ellendige verberg het nie. Die profesie wat hy uitgespreek het in sy benoudheid, sal egter later letterlik vervul word wanneer God sy Seun aan die kruis werklik sal verlaat, tot Hy alle mense se straf volledig op Hom geneem het.
Vers 28 – 32: As die nasies, met ander gode, sien hoe God sy volk verlos, sal van hulle tot bekering kom en ook in gebed na die God van Israel gaan. So sal sy koninkryk oor die hele aarde uitbrei (Open. 5:9-10). Selfs ander wêreldleiers sal Hom dien. So sal daar ‘n nuwe geslag ontstaan wat God dien (1 Petr. 2:9). Een volk uit alle volke! Die volgelinge van HOM WAT EWIG OP DIE TROON VAN DAWID SAL SIT, voor wie Dawid nóú reeds buig! Só gee die Here aan Dawid ‘n ewige oorwinning. Die EEN uit sy nageslag sal die Koningskap vir ewig bevestig. Hy wat gely het tot by die punt van godverlatenheid en wie se hande en voete letterlik deurboor is, wie se liggaam so geslaan is dat Hy elke been kon tel, wie se klere verdeel is en oor wie se gewaad die lot gewerp is, Hy het God se finale oorwinning gebring. Hý sal alles afhandel. Onder al die nasies sal aan die nageslagte van hierdie GEREGTIGHEID vertel word. Dit beteken volke wat nou hul kinders vir die afgode grootmaak, sal die God van Israel kies en hulle kinders van die kruis vertel. So word ook baie van hulle se ongeregtigheid verruil vir Christus se geregtigheid. Die rede: “Want Hy het dit gedoen (v. 32). Letterlik vertaal: ”Hy het dit volbring”. Daarom het Jesus, die Seun van Dawid, die oorwinning teen al God se vyande uitgebasuin toe sy lyding die diepste punt bereik het: ”Tetelesthai – dit is volbring!”. Anders as die begin van die Psalm met “My God, my God, waarom het U my verlaat?”, eindig die Psalm met die goeie nuus, die evangelie: “Hy het dit volbring!”. Hy was van God verlate sodat ons nooit weer van God verlate hoef te wees nie.
Halleluja! Amen!