BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 21
DANKSEGGING VIR DIE OORWINNING
Hierdie Psalm is ‘n opvolg van die vorige een. God se sterkte word geloof na die oorwinning waarin God Homself opnuut aan die koning en die volk geopenbaar het, in die wyse waarop Hy die oorwinning gegee het. Die gebed van die vorige Psalm is verhoor. Wat bly anders oor as dankbaarheid wat uitgedruk word in lofprysinge! Die uitredding was ook ‘n bevestiging aan die koning dat God hom in die koningsposisie aangestel het. Die koning se openlike vertroue op die Here, wat ‘n kragtige voorbeeld vir die volk was, is nie terleurgestel nie. In die vorige Psalm het die volk belowe: ”Ons wil juig oor U oorwinning en die vaandels opsteek in die Naam van onse God!” Toe was dit woorde van geloof! Nou word dit gedoen uit praktiese ervaring van die afgehandelde oorwinning. Psalm 21 juig oor God en al die eer kom Hom toe vir die oorwinning.
Vers 1 – 7 : Jahweh het weer verlos, soos hulle Hom gevra het. Sy krag word geopenbaar met die uitredding. Die gebedswens is verhoor (Ps. 20: 5). Die oorwinning word geheel en al toegeskryf aan gebedsverhoring. Dis asof die Here die koning opnuut gekroon het deur middel van die oorwinning. Sy lewe was bedreig, en ook sy koningskap. Die Here het dit aan hom teruggegee. Die oorwinning gee ook groter eer aan die koning in die oë van die omringende volke. Die sterkte van die God van Israel word verkondig, want dit is Hy wat aan die koning ‘n stabiele regering gee. So sal God se getrouheid en goedheid sorg dat die koningskap vir ewig voortbestaan (v. 7). Dit is later vervul toe Christus, uit die nageslag van Dawid, as mens op die troon in die hemel gaan sit het (Open. 12:10).
Vers 8 – 14 : Die gemeente besing nou die lof van die koning, weens sy vertroue op die Here, wat stabiliteit aan die koningskap gee. Vertroue op die Here maak staat op sy goedheid (kindness). As die Here seën, kan geen vyand dit wegneem nie. God openbaar sy karakter van goedheid en getrouheid in die hulp aan sy volk teenoor hul vyande. Die volk se vyande is ook God se vyande. Daarom veg die koning in die Naam van die Here. God sal altyd die oorwinning aan die koning gee, solank hy op Hom vertrou. God se toorn sal die vyande van God se kinders verteer. Die haters van God beveg altyd sy kinders. Hulle planne is agterbaks en skelm. Dis nie God se volk wat ander eerste aanval nie. Die vleeslike mens vervolg altyd die geestelike mens (Gal. 4:29). Die geestelike mens soek altyd die wil van God. Die vleeslike mens soek sy eie wil en maak dan wrede planne teen die gelowige. Tog sal God se goedheid nooit sy kinders in die steek laat nie. Hy sal hulle help en verlos (Hebr. 13:5-6). Op die ou end sal die vyande vlug as God, in toorn, sterk teen hulle optree. Die koning is ‘n tipe van die Groot Koning wat ewige oorwinning sal bring.
Die stryd teen die koning en sy volk duur voort. Die stryd is teen die Here en sy Gesalfde. Soos ons die eindtyd nader, sal die volke nog meer saamspan teen Christus (Ps. 2:2). Die stryd is ‘n geestelike stryd en die magtige wapen van die volk van God is gebed, wat telkens die oorwinning vooraf verkry. In vers 14 vra die volk dat die Here altyd weer sy krag so sal openbaar soos in die vorige oorwinning. So kry Hy al die eer wat Hom toekom. Elke bedreiging is ‘n geleentheid vir onse God om sy sterkte te toon in die wêreld. Christus se lewe is ook bedreig. Hy is doodgemaak en dit het gelyk of sy vyande oorwin het. In God se wysheid is Satan die grootste neerlaag toegedien. Die finale oorwinning is reeds behaal toe die Seun van Dawid uit die dood opgestaan het (Kol. 2:13-15, Hebr. 2:14-15). Die stryd van die kerk is vandag ‘n “na–oorwinning–stryd”. Dis net die afronding van die geveg teen hulle wat die oorwinning van Christus nie wil aanvaar nie. Hy sal die stryd finaal kom afrond wanneer Hy weer kom in krag en heerlikheid om wraak uit te oefen teen hulle wat die evangelie nie gehoorsaam het nie. (2 Thes. 1:7-9)