Ps 25 Vergewing en bewaring

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 25

VERGEWING EN BEWARING

Dié psalm is in die styl van akrostigi geskryf, hoewel ‘n gebroke vorm daarvan. Elke vers begin met ‘n letter van die Hebreeuse alfabet. Dit is in vele opsigte ‘n voortsetting van die vorige psalm. Dawid se siel word op die Here gerig. Dit spreek van ‘n voortdurende ingesteldheid op die Here (v. 1). Dit is ‘n psalm van intieme vertroue op God terwyl die digter omring is deur vyande (v. 2). Sy reaksie op die bedreiging is vertroue wat uitgedruk word in gebed (v. 2). Die gelowige verwag altyd hulp van die Here. Hy weet die Here sal Hom lei deur sy lewe heen, soos Hy dit vantevore gedoen het. Hy self kies om gehoorsaam aan God te lewe, al het hy al dikwels gesondig, veral in sy jeug. God sal dié wat in nederigheid sy weg volg, altyd verlos van hul sonde en hul vyande.

 

Vers 1 – 5: Dawid leef in ‘n voortdurende gerigtheid op die Here (v. 1). Hy rus sy vertroue in dit wat hy weet van God (v. 2). Dit sluit onder andere in dat God diegene wat hul verwagting op Hom stel, nie sal terleurstel nie (v. 3). Om sy verwagting van God te stel, is om gerig te wees op wat God vir hom beplan. Dit is daaglikse oorgawe aan die wil van God. Dit beteken die Here bestuur sy lewe en hy val daarby in. Die Here lei en hy volg. Dis op die Here se pad wat hy wil loop en nie sy eie pad nie. God moet hom in sy waarheid lei en leer sodat hy vanuit God se standaarde reg kan leef. God is die Een wat hom altyd uitred. Daarom verwag hy in die toekoms ook God se ingryping.

 

Vers 6 – 7: Gebed. Hy vertrou op God se ewige en onveranderlike eienskappe. Veral as die vrees nog by hom opkom dat God kan toelaat dat sy vyande hom skade aandoen as ‘n straf op sy vorige sondes, bid hy op grond van God se barmhartigheid en goedheid, dat die Here nie aan sy onbesonne sondes van sy jeug sal dink nie.

 

Vers 8 – 10: Geloofstelling. Sy gebed word weer afgewissel met ‘n verklaring oor wat hy van God weet. God is goed en regverdig. Weens hierdie twee basiese eienskappe van God, sal Hy sondaars leer hoe om die regte weg te vind, en gelowiges hoe om op daardie weg voort te gaan. God se weg het twee kante, soos enige pad. Dit is goedheid (genade, “kindness”) en waarheid (trou). Valse weë gee een van die twee prys; God nooit nie. Daarom kan mens God ook vertrou omdat Hyself só is soos die weg wat Hy van die mens verwag. Om getrou te bly aan die verbond, sluit albei in. Ons sal genade en waarheid altyd saam van God ontvang en ons moet dan volgens albei leef. Jesus het hierdie eienskappe van God in volheid in sy mensheid op aarde kom openbaar (Joh. 1:17).

 

Vers 11: Gebed. Iemand wat God in goedheid en waarheid ken, word telkens bewus van waar hy aan een of albei van die eienskappe tekort skiet en bely dan sy sonde.

 

Vers 12 – 14: Geloofstelling. As iemand dié God van genade en waarheid vrees, sal Hy hom hierdie regte weg leer. God openbaar dit wat oor Homself vir die mens verborge was dan aan hom. Só leer iemand God ken deur openbaringskennis. Die verbond is dan nie meer net vir so iemand ‘n uiterlike saak nie, maar ‘n saak van die hart. Omdat Dawid die Here so dien, weet hy God sal sy kant van die verbond nakom en hom beskerm.

 

Vers 15 – 22: Gebed. Dawid se persoonlike vertroue is net op die Here. Daarvanuit word sy gebed nog meer direk, intiem en spesifiek. Hy vertel die Here hoe sy hart en emosies voel. Hy is eensaam, beangs, moeg van bedreiging en gespanne. Hy vra dat die Here moet let op die aggressie en haat van sy vyande en nie toelaat dat hulle oorwin, tot skande vir sy vertroue op God nie. Omdat hy opreg en vroom voor die Here lewe, en nie agterbaks is soos sy vyande nie, vertrou hy dat die God wat goedheid en waarheid verkies, daarvolgens sal optree. Hy vra God moet Israel loskoop deur vir sy skuld te betaal, sodat die volk van God nie gestraf hoef te word deurdat hul vyande seëvier nie. Die gebed van Dawid is tydelik verhoor toe God hom oorwinning oor sy vyande gegee het. Dit is egter finaal verhoor toe God se eie Seun ‘n duisend jaar later die volk met sy eie bloed losgekoop het (1 Petr. 1:19).

(Visited 79 times, 1 visits today)