Ps 14 Goddeloosheid van die mens

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS – Psalm 14

GODDELOOSHEID VAN DIE MENS

Die mens is in sy wese sondig en goddeloos. Dit is sy natuurlike geaardheid. Daarom redeneer baie van hulle God uit hul lewens uit, leef dan soos hulle wil en vervolg selfs die volk van God. Die Here is egter vír die regverdiges en sal hulle op die lang duur verlos uit die vervolging van die goddeloses. Hulle wat nou die regverdige bevrees wil maak met hulle aanvalle, sal eendag skrik as God self teen hulle begin optree. Die lewe bestaan eintlik uit die stryd tussen die regverdige en die goddelose.

 

Vers 1 – 3: Die dwaas is ‘n mens wat leef vir nietigheid. Hy redeneer God uit sy lewe sodat hy kan doen wat hy wil sonder dat sy gewete hom pla, of dat hy daaraan moet dink dat hy teenoor God verantwoording sal moet doen. Die dwaas is ook boos (evil) en doen daarom bose dade. Van nature is alle mense so en niemand doen van nature goed nie. Daarom moet die goddelose deur God verander word om regverdig te lewe. Die Here kyk na die lewe van die sondige mens en sien dat niemand vanuit sy sondige natuur God ooit soek nie of vir God wil leer ken nie. Almal is deur die sondeval van God af weggeruk en onttrek hul van God en het geen behoefte om Hom weer te soek en te vind nie. Nie een mens het die vrug van die sondeval ontkom nie.

 

Vers 4 – 7: Die gelowige wat van hierdie toestand gered is, verbaas hom dikwels om nog te sien hoe vervalle die goddelose mens is. Hy het van nature geen kennis van God en van reg en geregtigheid nie, en gee ook nie daaroor om nie. Hulle roep die Here nie aan om hulle uit die sondige toestand uit te red nie en gaan so ver in hulle blindheid dat hulle selfs die regverdige vervolg sonder om te besef dat hulle God daardeur tart. Hulle het ‘n ongenaakbare wreedheid in hul optrede teen die ware volk van God. Hulle is so selfsugtig in hul hele wese dat hulle die gelowige verslind in hul liefdelose optrede en geen meegevoel met hom het nie. Die goddelose kan die hulpelose (die een wat afgebreek of onderdruk word) se planne so stuit dat hy teleurgesteld is, maar dan neem laasgenoemde sy toevlug na die Here self. Die kind van God weet dat die soewereine God ook heers oor die goddelose en sy optredes. Wanneer die onregverdige die regverdige skade aandoen, het hy nog God self om by troos en hulp te vind. Die slegte mens is net op homself aangewese, al juig hy oor sy sukses. Na sy sukses is sy lewe nog steeds sinloos weens sy dwaasheid.

 

Die digter sug in gebed tot God om verlossing. Die uitredding moet van God self kom. Die gelowige is soos in ballingskap of in gevangenisskap in hierdie wêreld, wat meestal deur die goddelose beheer word. Maar wanneer God hulle eendag sal verlos en hul situasie verander, sal die ware kinders van God juig. Paulus verkondig, na aan leiding van hierdie psalm, in Rom. 3:9-20 dat Jode en heidene so totaal onder die mag van die sonde gebore word dat hulle hulself nie kan red nie. Alleen deur die geloof in Christus se kruisdood kan hulle uit genade vergewe en verlos word (vers 21-26). Dié wat só kinders van God word, sal dan by die wederkoms finaal geopenbaar word as God se volk, en verlos word van die tirannie en verdrukking van die bose mense van hierdie goddelose wêreld (Rom. 8:19-21). Inteendeel, hulle sal dan saam met Christus oor die goddelose oordeel en heers tot in ewigheid. Die “bordjies sal verhang word” wanneer die gebed van vers 7 finaal by die wederkoms vervul sal word, en Israel sal vir ewig juig!