Ps 13 Gebedsvertroue van Dawid

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS – Psalm 13

GEBEDSVERTROUE VAN DAWID

Dié psalm gaan oor gebedsvertroue wat na vore kom in direkte gebedsworsteling met die Here self, tot daar deurgebid is en die bidder oorgaan in lofprysing. Dit was een van Dawid se groot geestelike geheime dwarsdeur sy hele lewe. Die druk van sy teenstanders het hom uitgeput en klaargemaak. Frustrasie het oorgeneem en dit forseer hom tot kragtige gebed tot God. In die proses gaan hy deur al die fases van “deurbid”. Hy kyk meer na God as na sy teenstanders en dit maak dat hy deur middel van gebed in sy gees opstyg bo die druk van sy omstandighede nog voor dit opgelos is. Gebed en geloof is die twee vlerke wat ons bokant omstandighede laat vlieg (Open. 12:14). Ons leer uit Dawid se gebedslewe dat “hy wat na God toe gaan moet glo dat Hy is en ‘n Beloner is van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6). Lees eers Mat. 15: 21-28 oor die ondervinding van die Kanaänitiese vrou.

 

Vers 1-2: In die eerste fase van die proses van deurbid voel dit dikwels asof God gladnie luister nie. Dit is asof Hy Hom nie eers aan jou steur nie. (Vergelyk die ondervinding van die Kanaänitiese vrou met Jesus in Mat. 15:23.) Die hemel is so stil dat die bidder óf moet opgee óf ernstiger pleit. Dis asof God wegkyk, of sy gesig wegsteek sodat geen tweerigting-kommunikasie beleef word nie. In hierdie fase toets God meestal die bidder se geloof in God se beloftes. Hy moet sonder om iets te voel, volhard om voort te bid op grond van God se beloftes dat Hy sal luister en sal reageer (Ps. 50:15). Twee van die vier dinge wat Dawid frustreer, is die feit dat dit lyk of God hom vergeet het en die feit dat God nie terug-kommunikeer nie.

 

Vers 3-4: Die ander twee dinge wat Dawid geweldig frustreer, is dat sy eie planne geen oplossing bring nie en dat sy vyand die oorhand gekry het, en dat hierdie toestand al te lank duur sonder dat God terug-kommunikeer of ingryp. Sy uithouvermoë word tot die uiterste beproef. Frustrasie gemaal met tyd is gelyk aan ongeduld (of selfs opstandigheid), tensy die uitlaatklep van gebed gebruik word. In plaas van om opstandig te raak , bid Dawid verder dat God nou moet kyk en hoor. Die antwoord van God sal die oplossing bring wat hom van die dood sal red. As God terug- kommunikeer, kom daar insig en perspektief op die situasie. Die gelowige bidder het geen alternatief as God nie. Daarom hou hy aan met smeek in onderworpenheid aan God, al is die versoeking daar om opstandig teen God te raak. Wanneer God reageer, gee Hy ook aan die bidder nuwe krag en uithouvermoë.

 

Vers 5-6: Dawid se vyande is ook die Here se vyande. Eintlik is Dawid se vyande sy vyande omdat hulle God se vyande is. Dawid ly ter wille van God. Hulle is teen hom gekant omdat hy ‘n man van God is. Hulle kan God nie direk aanval nie en kom dus sy dienskneg by. Daarom, in hierdie situasie, as Dawid deur sy vyande oorwin word, sal dit tot oneer van God wees. Die Here se stryd is sy stryd. Daarom kan Dawid nie oorgee en ophou bid nie. Die eer van God is op die spel. As hulle God se kind oorwin, sal hulle glo hulle het God oorwin. Maar, hy as God se kind, sal nie die stryd verloor nie, want God is goed. Daarop maak hy staat. God kan Hom nie faal nie, want een van God se karaktertrekke is goedertierenheid (getrou in goedheid). Deur sy gebed tot God breek Dawid deur na wat die Woord oor God leer. Sy geloof oorwin deur gebed en sy hart begin juig oor God se verlossing. Die sekerheid van God se verlossing is gebaseer op die onveranderlike attribute (eienskappe en karaktertrekke) van God. Daarom oorwin gebed altyd as gelowig volgehou word, want dit gaan oor wie is die God tot wie daar gebid word. Gebed vind nie sy krag in homself nie, maar in die troue Verbondsgod wat getrou is aan Sy eie Wese. So gaan oorwinnende gebed oor in lofprysing as die bidder se gebed hom lei tot ‘n hernude ontdekking van “wie is die God van Israel!!” Halleluja!

(Visited 102 times, 1 visits today)