Ps 12 Leuens heers by mense; God is waarheid

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS – Psalm 12

LEUENS HEERS ONDER DIE MENSE;  GOD IS WAARHEID

Dié psalm handel oor die sondige natuur van die mens, wat in sondige planne en dade na vore kom, en dit vir die regverdige moeilik maak om uit te hou te midde van soveel bedrog en oneerlikheid. Die volk van God verval sélf dikwels in so ‘n sondige toestand dat hul nie veel anders praat en lewe as die heidene nie. Daarom is dit nodig dat God telkens moet ingryp met herlewing of oordeel. Op hierdie aarde is die lewe eintlik altyd ‘n direkte of indirekte stryd van die goddelose teen die regverdige. God sal op die ou end, soos in die vorige Psalms, optree teen die goddelose. God se Woord, wat die suiwer waarheid is, staan egter teen die leuenagtigheid van die mens.

 

Vers 1- 5: Wanneer geestelike verval oorgeneem het, word die hele maatskaplike lewe goddeloos en word onreg toegesmeer en verdra. Min eerlike en opregte gelowiges, wat God met toewyding dien, bly oor. Daar is ook geen menslike oplosssing vir die situasie oor nie. God moet red. Die tong het ‘n dodelike slegte mag geword. Leuens en agterbaksheid teenoor mekaar kenmerk die optrede van mense. Selfs wanneer hulle mooi praat, is dit met oneerlike motiewe. Hulle vlei mekaar om die een die ander te mislei. In so ‘n situasie van byna totale verval van die reg kan niemand meer mekaar vertrou nie. Waar sonde totaal oorneem, kan ‘n samelewing in totale wanorde verval. Almal raak skelm en kyk hoe hulle die ander kan uitoorlê en verkul. Die een wat dit die beste kan doen, oorleef die beste in so ‘n situasie. Dié wat die beste lieg en bedrieg neem al meer die leiding in die samelewings, en hul het later geen gewete meer nie, want almal doen dit so. Daarom kan hulle hul lippe gebruik om op oneerlike wyse dinge te kry, of uit die moeilikheid te kom, of ander om te koop, want hulle gewete is nie gekoppel aan hul woorde nie. Die vrome gelowige kan nie in so ‘n stelsel tuis wees nie, en word meestal die slagoffer van die goddeloses. Die gelowige beland dan in ‘n situasie van verdrukking en hy kan geen normale lewe meer voer nie. Die Here sien dit egter en beloof om op te tree en weer ‘n veilige leefruimte vir sy kinders te skep.

 

Vers 6 – 9: Die oplossing lê by die Woord van die Here. God se Woord is, in teenstelling met die leuenagtigheid van die mensdom, suiwer en rein. Soos silwer gesuiwer word deur vuur, so is die Woord van God, wat deur mense gekom het, gesuiwer tot volmaaktheid. Die Woord is volmaak en betroubaar. Dit dra goddelike gesag vir dié wat opreg met God is. Dit alleen kan die ommekeer veroorsaak. God sal sy ware kinders bewaar van die boosdoeners. Sy Woord sal ook die vromes daarvan bewaar om só te verval. Die Woord van God verseker ook die opregtes dat God altyd met hulle sal wees en hul sal beskerm sodat niks buite sy wil met hulle kan gebeur nie. Die twee groepe, die vromes en die leuenagtiges, is soos twee verskillende volke wat langs mekaar in een land moet leef, terwyl hulle totaal verskillende denkwyses het en geen ooreenstemming in doel het nie. Die goddelose wil net alles vir hulleself inpalm ten koste van ander, terwyl die gelowiges volgens die Woord van die Here wil lewe. Die gelowiges is versigtig wat hulle sê, en hulle praat in opregtheid wat eerlik in hul harte is. Die goddelose se lewe draai om hulself en hulle praat net wat tot hul eie voordeel is. So is hulle hul eie god, en hulle leef en sterf net vir hulself. Die vrome leef vir die Here en wil Hom in alles behaag. Op die lang duur sal God die vromes bewaar van die goddelose, sodat hulle later vir ewig van hulle verlos sal word. Daar kom ‘n groot skeiding van die twee groepe. Die goddelose is gedryfde mense, want hul eie begeertes jaag en dryf hulle. Die gelowiges het rus gevind in die Here en vertrou Hom vir die hede en die toekoms, al is dit tans in onuithoudbare omstandighede. Dit sal volledig waar word by die oordeelsdag wanneer regverdiges en onregverdiges vir ewig van mekaar geskei sal word. Dikwels sal die Here gelowiges red uit die vervolging van die ongelowiges, maar hulle sal eers op die nuwe aarde heeltmal vry wees van teenstand, korrupsie teen hulle en vervolging.

(Visited 72 times, 1 visits today)