BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 11
WEES NIE KLEINGELOWIG NIE!
Psalm 11 gaan oor kalme vertroue in God in tye van groot gevaar, soos ook in Ps. 7 en 10.
Dit gaan weer oor die stryd tussen die gelowige en die ongelowige en God se rol in die beskerming van die gelowige wat op Hom vertrou. Die psalm begin met die bevestiging van geloof in God, die argument om liewer weg te vlug van die gevaar, die reaksie van geloof daarop en dan sluit dit af met die oplossing en finale standpunt van die geloof.
Vers 1-3: Die digter begin met die inneem van ‘n duidelike geloofstandpunt voordat hy die probleem beskryf. Hy argumenteer dus verder oor die oplossing van die bedreiging vanuit ‘n reeds duidelik ingeneemde vertroue in God by wie hy skuil. Vriende van Dawid en sy volgelinge gee die welmenende raad dat hulle liewer na die berge moet vlug. Die goddelose is vas gedetermineerd om die aanval so direk, aggressief en openlik te loods dat dit lyk of hulle op geen manier weerstaan kan word nie. Daarom moet hulle wat aangeval word liewer vlug na ‘n veilige skuilplek. As daar ‘n groot opstand teen die koning en sy paleis kom, lyk dit of nie net die gebou hier en daar beskadig sal word nie, maar dat die fondament omgegooi sal word sodat die hele huis vergaan. Dit kon die tyd wees toe Saul, of later Absalom, Dawid wou vernietig. In plaas daarvan om na die berge te vlug vir beskerming, vlug die digter in vertroue na die Here. Die vlerke van die geloof bring hom veilig in die Ewige Veilige Vesting in – God self. Dis die God wat die berge gemaak het. Die fondamente kan nie omgegooi word nie, want God is die fondament waarop hy sy vertroue bou.
Vers 4-5: Al word die aardse paleis van die koning bedreig, God in sy hemelse paleis is onaantasbaar en Hy regeer oor die hele aarde. Daarom is gelowige en ongelowige onder sy beheer. Hy kyk beoordelend na almal se doen en late en toets só die optredes van alle mense. Hy is die Regverdige God wat téén onreg is, en Hy haat dus die ongeregtigheid. Hy haat veral onreg wat so erg is teen mense dat dit oorgaan in geweld. Onskuldige mense word dan onnodig seergemaak deur wrede mense wat niks vir ander se smarte voel nie. Maar God gee om. Hy haat die onreg teen onskuldiges en waak vanaf sy troon in die hemel om op te tree wanneer dit nodig is.
Vers 6–7: God sal teen die goddelose optree. Goddelose mense is immers mense wat God uit hul lewe uitskuif en uit hulself optree. God bestaan nie in hul planne nie en hulle vyandigheid teen die gelowiges dui juis daarop dat hulle nie respek vir God of vir sy wet het nie. Hy laat hulle vang in vangnette en laat vuur en swael op hulle reën. Hy wag dus lank voor Hy optree, maar wanneer Hy dan straf, is dit kragtig en genadeloos. Die goddelose is so besig met hul eie planne van vervolging, dat hulle nie opmerk dat genadetyd verbygaan nie, en dan tree God GENADELOOS op. Wanneer die maat van hul sondes vol geword het, tree Hy genadeloos op (Dan. 9:24, 1Thes. 2:16). Dit loop uit op die groot oordeelsdag waarin God GENADELOOS vir EWIG vuur en swael op die goddelose sal laat reën. “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodsdienaars en al die leuenaars – hulle deel is die poel van vuur wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood (Open. 21:8). God is regverdig. Daarom het Hy ook die reg lief en sal Hy vir dié wat so in Hom glo dat hul by Hom skuil, ‘n ewige skuiling wees.