BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 10
TEEN HOOGMOEDIGE VYANDE NEEM TOEVLUG TOT GOD!
Dié psalm is ‘n verlenging van die vorige. Albei die psalms se meeste strofes begin met ‘n opvolgende letter van die alfabet wat vanaf Ps. 9 deurloop na Ps. 10. Waarskynlik was dit oorspronklik een psalm. Albei psalms gaan oor die onreg wat die goddelose aan hulpelose regverdiges doen, en die behoefte en gebed dat God, wat dit sien, moet ingryp. Psalm 9 gaan oor buitelandse vyande en Psalm 10 oor binnelandse goddeloses wat die hulpelose verdruk. Psalm 10 begin dan ook om te vra waarom God nie ingryp nie.
Vers 1 – 11: Die Psalmis beleef dat God nie ingryp teen die goddelose nie en dat dit lyk asof God ver weg is van dié wat Hom nodig het, terwyl die goddelose hulle eie god is en maak soos hulle wil en juig oor hul suksesse. Dit bring oneer op die Naam van God omdat die onregverdiges sê God stel nie belang in dit wat op die aarde aangaan nie; daarom kan hulle voortgaan met hul slegte dade. Hulle maak staat op hul eie sluheid en roem daarin dat niemand hulle kan teëgaan nie, want hul kry alles wat hulle begeer. Hulle wens mekaar geluk as hul dinge op onregverdige maniere verkry. Die goddelose is so voorspoedig dat hulle praktiese ateïsme begin beoefen deur te glo God gaan nie ingryp nie. Omdat God toelaat dat dit met hulle goed gaan, floreer hulle kriminele bedrywighede openlik en niemand doen iets daaraan nie. Die digter wil hê God moet geregtigheid laat geskied deurdat Hy omstandighede so reël dat hul eie planne teen hulle sal draai. God hoef nie self direk te straf nie. Hy kan net toelaat dat die slegte mense se planne aan hulself vervul sal word. Dis mos hul eie dade wat hul dan straf (v. 3). Hulle sê openlik daar is nie ‘n God nie, of as Hy daar is, stel Hy nie in die mens op aarde se doen en late belang nie.
- 12 – 18: God moet nou, volgens die digter, vinnig en kragtig optree sodat die rebelse mense Hom nie meer so verag nie. Die digter weet God is nie ‘n ongeïnteresseerde toeskouer nie. Hy kyk na die aarde en sien wat gebeur en daarom kan die hulpelose die probleem in God se hand gee en aan Hom toevertrou (v. 14). Die digter bid nou direk dat God se hand in beweging sal kom en dat Hy die krag en sukses van die slegte mense sal stop en tot niet maak. Die Here is Koning vir ewig en geen opstandige goddeloses kan Sy gesag aantas nie. Soos God ‘n hart vir weeskinders het, so sal God sy kinders wat vervolg en beroof word, weer versterk en moed gee en hul gebede verhoor. Hy sal reg laat geskied en optree. Omdat God dikwels die straf van die goddelose uitstel, word hulle al meer vrymoedig in hul sonde en gesindheid teen God. As die gelowige egter sy saak aan die Here toevertrou, sal God op die ou end optree en direk ingryp. Die gelowige se gebede word dan ‘n teenvoeter vir die kwaad in die wêreld. Daarom het Jesus ons geleer om te bid: ”Laat U koninkryk kom”. God is ewig Koning, maar het nog teëstanders wat Hom en sy kinders aanval. As hulle sy kinders vervolg, vervolg hulle eintlik vir God self, soos Jesus aan Paulus gesê het (Hand. 9). Die gebede van die gelowiges wat as gevolg van verdrukking opgestuur word, maak dat God vanaf sy troon sy oordele uitgiet op die aarde (Open. 8:1-5). Die Nuwe Testamentiese kerk het later dieselfde vervolging deur die ongelowiges beleef as in die Ou Testament. In die eindtyd sal hierdie vervolging op sy ergste wees sodat die kinders van God sal roep om ingryping en verlossing. Hul gebede sal uitloop op die grootste en finale ingryping en verlossing ooit, die wederkoms van die Seun van God (Open. 6:9-10; 19:1-3). Dan sal Hy alle geregtigheid vervul en alle ongeregtigheid vir ewig tot niet maak (2 Petr. 3:13).