BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 15
WIE MAG VERTOEF IN U TENT, O HERE?
Die hoogste begeerte wat ‘n mens kan hê, is om in God se teenwoordigheid te kom en daar te bly. Weens die sondeval is dit onmoontlik. God is heilig en geen onreine kan in sy teenwoordigheid kom en bly leef nie. Hierdie psalm is geskryf uit die oogpunt van ‘n gelowige, iemand wat reeds in God glo. Hy is ‘n pelgrim wat God in die tempel wil dien. Hy is egter nie daarmee tevrede nie. Hy sou graag voortdurend in God se teenwoordigheid wou bly. Hy wil nie net God se teenwoordigheid beleef as hy van tyd tot tyd in die tempel kom nie. Sy honger en dors na gemeenskap met God maak dat hy voortdurend in die heiligdom wil bly. Hoe kan die gelowige dit doen as hyself onvolmaak is?
Vers 1: Wie mag as ‘n nuweling sonder eie regte as gas by God vertoef? Die mens het deur die sondeval die reg verbeur om met God gemeenskap te hê en in sy direkte teenwoordigheid te kom. Tog wil die digter, terwyl hy besef dat hy geen reg daartoe het nie, permanent in die heilige teenwoordigheid van God bly, met al die voorregte van ‘n gas. Hy wil so na as moontlik by God wees en daar as ‘n burger met vaste regte bly.
Vers 2: Die voorwaardes is ‘n opregte en eerlike hart wat altyd in die waarheid bly. Hy moet ‘n hart hê wat deur God gereinig is van alle onopregtheid en oneerlikheid sodat sy daaglikse optrede daarvan getuig. Die gebondenheid aan waarheid in sy hart moet in sy woorde na vore kom. Die gelowige moes dan dikwels offers bring sodat hy van sy sondes gereinig kon word, indien hy wel gesondig het. (Hebr. 9:11-13) In die Nuwe Testament het Jesus deur sy bloed vir ons dit moontlik gemaak om met vrymoedigheid in die heiligdom te lewe. (Hebr.10:19-23)
Vers 3: Hy moet in so ‘n verhouding met God staan dat hy sy naaste geen skade wil aandoen nie. Hy belaster nie ander mense nie, en breek ook nie sy vriend se beeld teenoor ander mense af nie. Hy is dus versigtig dat hy nie sy naaste se naam slegmaak en afbrekende dinge van hom sê wat sy beeld skade kan aandoen nie. Dink aan die wyse waarop Dawid altyd teenoor Saul opgetree het, selfs na laasgenoemde se dood.
Vers 4: Die ware gelowige stem saam met God se oordele teen die goddelose en kies nie kant vir die volhardende sondaar as God hom straf nie. Hy verkondig dat God regverdig is in al sy weë, ook as Hy na baie geduld op die ou end diegene straf wat God verag. Hy word nie intiem vriende met hulle wat God verag nie, maar respekteer hulle wat God vrees omdat hulle sy kinders is. Hy kies nooit kant teen God saam met hulle wat God aankla nie. Sy ontsag vir die heilige God maak dat hy God se oordele vertrou en Hom dien saam met hulle wat ‘n heilige ontsag vir God het. Dit sien mens duidelik in Petrus se optrede teen Ananias en Saffira (Hand. 5). So ‘n verantwoordelike gelowige bly ook altyd by sy woord en sy beloftes. Hy bedoel elke woord wat hy sê en sal nie op sy woord teruggaan nie, al kos dit hom skade.
Vers 5: Die ware gelowige aanvaar nie omkoopgeskenke nie, want sy hart is by die waarheid en hy lewe in ‘n voortdurende verhouding met God. Hy vertrou God om vir hom deure oop te maak en aanvaar as God deure sluit. Hy is nie geldgierig nie, want geld is nie sy god nie. Die Here is sy God en hy vrees Hom. Daarom is hy nie ingestel op onregverdige wins uit die nood van ander nie. Sy begeerte is na die ewige dinge. Sy behoefte is na voortdurende gemeenskap met God self. Iemand wat so vry is van alle wêreldsgesindheid sal nie in die sonde bly voortleef nie. Die dinge van die wêreld het hul skynglorie vir hom verloor. Hy soek die voortdurende teenwoordigheid van God totdat hy in die ewige teenwoordigheid van God ingaan in die lewe hierna. Die bloed van Jesus het dit vir ons alles moontlik gemaak (Hebr. 9:14).