BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 16
GOD DIE HOOGSTE GOED
Vers 1-4: God is Dawid se vertroue en vervulling. Hy stel nie in afgode belang nie, want die Here self is vir hom meer as alles wat die wêreld hom kan bied. Hy vertrou op die Here vir sy veiligheid, terwyl sy lewe bedreig word. Omdat hy die Here altyd eerste stel in sy lewe, weet hy verseker dat hy ook in die ewigheid by God veilig sal wees. Die psalm is ‘n persoonlike getuienis van vertroue op die Here, wat spontaan oorloop in vreugde van hart en lofprysing tot God. Hy vind al sy vervulling en geluk in God self. Dawid weet dat die Here alles beheer en hom sal beskerm. Hy noem God op sy verbondsnaam as hy sê: ”U is my Here!” Jahweh is sy eienaar, beskikker, heerser en beskerming. Die Here is die Almagtige wat alleen in staat is om die mens te vervul en te versadig! Daarom is daar geen beter beskermer nie, en skuil hy by die Here. Dit beteken hy vertrou homself en sy veiligheid aan God toe, met ‘n aktiewe geloofsdaad! Hier op aarde vind hy ook vreugde en vervulling in die onderlinge gemeenskap van die ware gelowiges wat ook soos hy oor God voel. Hulle is die edeles en adel van die volk. Hulle jaag na heiligmaking omdat hulle besef dat God heilig is. Dawid se getuienis behels vier dinge, wat ook die kenmerk van ‘n ware gelowige is:
1. Hy vertrou op God vir sy aardse en ewige bewaring.
2. Die Here is vir hom kosbaarder as alle skatte op aarde.
3. Hy soek na koinonia met ander gelowiges wat wil groei in heiligmaking.
4. Hy verwerp elke afgod en weet dat om ‘n afgod te dien, is altyd die weg van selfvernietiging.
Verse 5-8: Dawid vind in God vier dinge wat daarvan getuig dat hy sy volle vervulling in God alleen gevind het:
1. Die Here, en nie dinge nie, is sy belangrikste erfenis vanuit die verbond, en daarom sal die Here hom ook as sy eiendom bewaar. Die Here is sy sekuriteit.
2. Alles wat hy by God kry, ontvang hy uit die hand van God. God meet egter sy erfenis vir hom af en hy is tevrede daarmee. Inteendeel, dit is vir hom mooi (kosbaar).
3. Die Here is sy belangrikste Raadgewer en hy is dankbaar vir hoe hy die leiding van die Here ervaar. Hy kan daarop staatmaak.
4. Die Here se teenwoordigheid maak dat hy altyd van Hom bewus is, en daarom nie sommer maklik in die sonde sal val nie. Die Here is aan sy regterhand om hom te versterk en te help in alle situasies.
Dawid sê die Here is al wat hy nodig het om sy honger en dors te vul. Hy het dit in die God van die verbond gevind. Daarom skryf hy uit ‘n versadigde hart. Die Here is GENOEGSAAM! Dawid begeer nie meer dínge van God nie, maar God sélf. Dan vind hy by God in elk geval alles wat hy nodig het. Baie gelowiges vind nooit hierdie volle rus en versadiging in God nie, omdat hulle eers dinge by God soek, in plaas van God self. So kry hul God nie in sy volheid nie, en dikwels ook nie die dinge wat hul by God soek nie. Dawid is so vervuld in God dat hy ook tevrede is met die tydelike dinge wat God voorsien, sowel as die pad wat die Here vir Hom uitgelê het. Hy loof die Here, terwyl hulle wat aan afgode vashou, neerslagtig is en veel smarte ondervind.
Verse 9-11: Die digter het sy volle versadiging, versorging, beskerming en innerlike vrede in die getroue Verbondsgod gevind, daarom juig sy hart en weet hy sy aardse lewe is ook onder die Almagtige se beskerming. Daarom sal selfs die dood hom nie skade kan aandoen nie, en die Here sal hom lei om so te lewe dat hy die ewige heerlikheid sal ingaan. Volle geestelike versadiging is alleen in God te vind. Dit bring permanente vervulling en stabiele vreugde is sy deel. God alleen is sy Bron van vervulling. Uiterlike dinge affekteer nie sy blydskap nie, want hy het tot rus gekom in die ewige God in wie hy die ewige lewe gevind het. Hierdie ewige lewe is soos ‘n opborrelende fontein van vreugde in sy hart, wat iets van die heerlikheid (glorie) van die hemel nou al aan hom meedeel. Daar moet ‘n ewige lewe van glorie op hom wag, want hy beleef nou al die voorsmaak daarvan. By God is daar nou al op aarde oorvloedige blydskap wat innerlik versadig. In sy regterhand hou Hy nog verrassings van lieflikhede (genietinge) wat hy aan sy kinders wil meedeel tot in ewigheid. Ja, God het die ewigheid nodig om vir ons goed te wees. Hulle vir wie God die hoogste goed in hul lewe is, sal sy ewige goedheid nou al beleef, en tot in ewigheid. Die Here van die Verbond is niemand anders as die Here Jesus wat gesê het: “Ek is die Brood van die lewe. Wie na My toe kom sal nooit weer honger kry nie en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (Joh. 6:35)