Ps 17 Gebed om redding

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS :  Psalm 17

GEBED OM REDDING

Hierdie psalm gaan weer oor die harde werklikheid van vervolging en verdrukking deur die goddelose. In die OT was die geestelike oorlog ook ‘n fisiese oorlog omdat dit daar nog gegaan het oor die fisiese volk van God wat bewaar moes bly, sodat die Messias volgens die belofte uit hierdie volk gebore sou word. Die digter is oortuig dat sy saak regverdig is en daarom beroep hy hom op God.

Vers 1- 5: Hy bid: ”Hoor geregtigheid!” God moet raaksien dat hy eerlik is en kant kies vir geregtigheid, en optree. Hy stel sy saak duidelik met argumente sodat hy met voorbeelde getuig van sy geregtigheid voor die Here. Die Here het reeds sy hart en niere getoets en niks by hom verkeerd gevind nie. Hy is self nie van iets in sy lewe bewus waarmee hy teenoor die Here oortree het nie (1 Kor. 4:3-4). Die Woord van die Here het direk tot hom gepraat en dit het hom van sonde af weggehou. Hy het die paaie van die geweldenaar nie gekies nie, hoewel hy die mag daartoe gehad het. Maar nou val die goddelose hom met geweld aan en het geen genade vir hom nie. Hy het met ‘n doelbewuste keuse die Here self gevolg, soos iemand in sy leier se spore volg (Psalm 119:101-105). Die Here het dus nie rede om hom deur middel van sy teenstanders oor iets te straf nie. Die teenstanders in dus moedswillig en hul aanval is nie uit die Here nie.

Vers 6-12: Dawid roep die Here aan, want ondervinding het hom geleer dat die Here na hom luister. Omdat hy na God se Woord luister, is daar geen rede waarom God dan nie nou ook na sy woorde sal luister nie (1 Joh. 3:19-21). Gehoorsaamheid is nie ‘n grond vir gebedsverhoring nie. Maar ongehoorsaamheid is grond vir verhindering van gebedsverhoring. Die vyande is gevoelloos en hoogmoedig. Die Here is egter bekend as Verlosser vir dié wat by Hom skuil, soos ‘n arend se kuikens onder sy vlerke skuil. Dawid weet dat hy vir God kosbaar is, soos die appel van sy oog, en vra op grond daarvan dat die Here hom so sal beskerm. Die vyand is wreed soos ‘n leeu wat wil verskeur. Die gelowige skuil egter by God se regterhand, waarmee Hy heersend in krag optree om sy kinders te beskerm.

Vers 13-14: Die Here word duidelik en met harde geroep gevra om in te tree vir die onskuldige gelowige wat vervolg en verdruk word. Die goddelose veg vir aardse skatte, want sy lewe draai daarom. Daarom is hy fanaties en arrogant om vir tydelike gewin die regverdige te beroof (Jak. 4:1-2). So word die stryd ‘n geestelike stryd van goddelose teen regverdige. Daarom moet die Here met toorn aan die goddelose ‘n geskenk van vergelding gee, wat so erg gaan wees dat selfs die nageslag daaronder sal ly, soos wanneer iemand erf (Eks. 20:5).

Vers 15:  Daarteenoor weet Dawid dat die Here juis in die verlossing van sy vyande Homself weer dieper aan hom sal openbaar, sodat dit hom in meer innige gemeenskap met sy Verlosser sal bring. Dawid se vyande is ook God se vyande, en andersom. God se vyande is Dawid se vyande, want Dawid is deel van God se volk, aan wie die belofte van die komende Messias gemaak is. Die stryd is eintlik teen Satan wat die volk van God wil vernietig om die koms van die Verlosser te stuit. Daarom is gebed so ‘n magtige wapen in die geestelike stryd. Wanneer Dawid deurbid, sal God as Verlosser Hom voller aan hom openbaar en ook die oorwinning oor sy vyande gee. So sal hy ook deel kry aan die ewige, volle openbaring van God, as sy stryd in diens van die Here verby is. Dawid se hele lewe was geestelike oorlogvoering vir die koms van die koninkryk van God. So het die Koning dan ook gekom in die volheid van die tyd. Hy is die wortel en die geslag van Dawid! (Open. 22:16)

(Visited 92 times, 1 visits today)