Ps 19 Openbaring in natuur en Skriftuur

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 19

OPENBARING IN NATUUR EN SKRIFTUUR

Die heerlikheid van God word geopenbaar in die natuur en in die Skrif. Die natuur praat sonder woorde terwyl die Woord van die Here woorde gebruik. In die natuur openbaar God Hom as Elohim en in die woord (wet) as Jahweh. El beteken sterk, groot, prominent en die een wat almagtig en soewerein is. Hy is die Een wat in ‘n verhouding met mense wil staan en daarom van Sy kant af die verbond met die mens begin het (Gen.17:7). Hy sluit ook die nuwe verbond met sy volk (Jer. 31:33). Elohim openbaar Homself verder as Jahweh, die Een wat LEWE in HOMSELF HET. Dit doen Hy deur sy Woord. Sy Woord is net so onveranderlik soos Hyself is. Deur sy Woord openbaar Hy sy geestelike en morele karakter sodat Hy ook van sy volk ware geestelike lewe en ‘n heilige lewe verwag.

 

Verse 1-7: Die sterrehemel bring eer aan die almag van God en verkondig woordeloos die werklikheid van Sy oneindige krag. Elke dag getuig die onmeetlikheid en die skoonheid van die skepping van God se grootheid. Hiervan is die son die kragtigste getuie omdat hy elke dag sy lig laat skyn oor die hele skepping en so die lig laat val op God se skeppingswerke. Soos ‘n gelukkige bruidegom uit sy slaapkamer die nuwe dag aanpak, so begin die son elke nuwe dag wat God gee. Hy is soos ‘n oorwinnaar wat deur niks gestuit kan word nie. Die son is egter net die skepping van God en getuig dat sy Skepper baie groter moet wees as die geskapenheid. Die son domineer alles en gee hitte aan alles. Die Skepper gee so aan alles lewe en niks kan sy heerskappy ontvlug nie.

 

Verse 8-12: Die Woord van die Here is nog duideliker en laat sy lig val op elke aspek van die lewe. Die gebooie bring geestelike verligting sodat die volk van God kan weet wat is reg en verkeerd. Die verordeninge van God is regverdig en leer heilige respek vir die Here. As die digter oor die skepping praat, gebruik hy God se algemene naam: Elohim. Wanneer hy egter oor die openbaring van God deur Sy Woord praat, gebruik hy die naam Jahweh. Die Skepping is God se algemene openbaring. Die Woord is sy besondere openbaring, wat God se geestelike en morele karakter meer spesifiek openbaar. Die ware vrees van die Here het ‘n geweldige reinigende invloed op die ingesteldheid en lewe van die kind van God. Hoe meer hy besef hoe rein God in sy wese is, begeer hy ook om meer rein te wees. Daardie begeerte na innerlike reinheid en geregtigheid veroorsaak ‘n honger na die wet van die Here. Vir so iemand is die lees en verstaan van die wet en die wil van die Here begeerliker as fyn goud en soeter as die heerlikste heuning. Die doen van die wil van die Here bring tydelike en ewige loon.

 

Vers 13-15: Die wet is so heilig dat die heiligste mens dit dikwels onwetend oortree. Maar die gelowige kan ook nog met ‘n bewuste keuse sondig en dit sal altyd slegte gevolge hê. Die Here tugtig dikwels sy kinders as hulle aanhoudend oortree. Die ware dienskneg van die Here begeer in sy hart om nie te sondig nie, want hy het die openbaring van God in sy hart. Hy wil God in alles behaag, want hy staan nie net onder die lig van die wet nie, maar het God self deur Sy Woord leer ken. Die kneg van die Here wil nog meer van die wet en die wil van God leer, omdat hy God self beter wil leer ken, sodat hy Hom in gedagtes en woorde kan behaag. As hy tog soms sondig, is die Regter ook sy Verlosser wat vir hom telkens vryspreek. God is nie veranderlik soos die afgode nie. Hy verander nie en sy Woord ook nie. Daarom is God die Rots wat standvastigheid aan Dawid gee. Daarom noem hy die Here “my Rots en my Verlosser”. Die onveranderlike geregtigheid van God is nie vir Dawid ‘n bedreiging nie, maar gee aan hom vastigheid.

(Visited 167 times, 1 visits today)