BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 18
DANKLIED NA DIE OORWINNING
Dié lied word ook in 2 Sam. 22 aangetref. Dawid is deur die Here gered uit lewensgevaar. Hy is weer veilig en verklaar sy liefde en lof aan die Here. Hy dien die Here en lewe gehoorsaam aan Hom. Daarom gee God aan hom die oorwinning en dit versterk dan nog weer sy geloof in die betroubaarheid van sy God. Dawid was ‘n kranige krygsman, maar het in situasies gekom wat sy eie vernuf hom nie kon help nie. Hy het hom dan net op die Here gewerp en God het hom nie teleurgestel nie. Sy hart is so vol lof en dankbaarheid dat hy daaraan uiting gee deur te dig en te sing.
Vers 1-7: Hy verklaar eerste sy liefde aan die Here. Hy staan met God in ‘n verhouding van innige liefde. Die Here is sy redder en ook sy skuilplek teen die baie vyande. In die Bybelse tyd was grotte in rotse natuurlike vestings om in te skuil. Die berge en rotse was onbeweeglik en sterk en kon nie omgegooi word soos die mure van ‘n stad nie. So is God. Hy is vas en sterk en onwankelbaar. Dawid was ook spesiaal geroep om die Here as koning te dien. Die koning is ‘n kneg van die Koning. Sy vyande is eintlik God se vyande. Daarom vertrou hy op die Here. Die Here is sy krag (horing) en skild (beskerming). Dit is die twee basiese dinge wat nodig is vir oorlog: krag om te veg en beskerming teen die aanval van die vyand. Die Here gee nie net die twee dinge vir hom nie, maar ís dit ook vir hom. Hy beskryf sy benoudheid wat daartoe gelei het dat hy die Here met alle mag aangeroep het. As man van groot geloof was hy tog ook bang en benoud in tye waar sy lewe ernstig bedreig is. Mense wou hom werklik doodmaak. Sy gebed het tot by God se ore gekom. God het gereageer!
Vers 8-30: Hy erken sy eie beperkinge. Dit is so anders as die “positiewe denke-teologie” van glo net jy kan “alles” doen. Ons kan nie alles doen nie en daar is situasies waar ons eie wysheid ons nie kan uitred nie. Dan is ons enigste hoop dat God sal ingryp. Op kragtige wyse het God ingegryp, en hom só as Verlosser geopenbaar. God kan op gewone natuurlike wyses werk, maar ook bonatuurlik ingryp in die natuur. Hy het Dawid uitgelei in die ruimte terwyl daar menslik geen uitkoms meer was nie. Daarin het Hy sy Almag geopenbaar en ook hoeveel Hy vir sy kind omgee. Dawid was soos ‘n drenkeling in groot waters, maar die Here het Sy hand uitgestrek en hom daaruit getrek. Die rede was omdat hy by God geskuil het, maar ook omdat hy in die regte verhouding met God bly leef het. Hy het altyd die wet van God gehou – soos ‘n mens op ‘n pad bly en nie afdraai nie. Hy was opreg met die Here, en waaksaam teen die gevaar van sy eie sonde. Sy eie sonde was vir hom ‘n groter gevaar as die vyande wat hom wou doodmaak. Ook sy reaksie teenoor die goddelose wat sy lewe soek, moes nie in ‘n gesindheid van vergelding wees nie. Ware geloof kyk na God. Met sy God sien hy vir alles kans.
Vers 31-51: In die laaste deel van hierdie gedig beskryf hy sy belewenis van God. Hy het God al hoe meer leer ken in die harde ondervinding van geestelike oorlogvoering. God is volmaak in die wyse waarop hy dinge laat gebeur en wanneer en hoe Hy ingryp. Sy Woord is absoluut betroubaar en dus ook volmaak. Daarom kan Dawid daarop vertrou. Al is Dawid beperk, moet hy ook oorlog voer. God wil hom ook gebruik in die stryd. Daarvoor rus God hom toe met krag en met ‘n geloofsingesteldheid wat sy gees oorwinnend maak. Die Here gee die oorwinning en Dawid deel ten volle daarin. Ook daarin gebruik die Here hom. Hy het geleer om sy vyande heeltemal te verdryf as God die oorwinning gee. In die Here se ingryping en in Dawid se oorwinning kan almal sien die Here leef. Daarom sal hy, as kneg van die Here, God loof voor die nasies sodat Hý al die eer kry. God se getrouheid is nie net aan Dawid bewys nie, maar sal aan sy nageslag bewys word tot in ewigheid. God se Woord is waar en geen vyand kan dit ongedaan maak nie. Daar sal vir ewig iemand op die troon van Dawid sit. God het dit in Christus vervul. Halleluja !