BYBELSTUDIE UIT DIE PSALMS : Psalm 20
GEBED VIR DIE KONING AS HY OPTREK IN DIE STRYD
Dié psalm handel oor gebed voor ‘n oorlog, waarin die koning die bedeiging met gebed tegemoet gaan. Die volk bid saam met die koning in wisselsang. Die lied geld vir alle konings wat só op die Here vertrou. Die psalm begin met die dag van benoudheid en eindig met die dag “as ons roep”. Dit vat die inhoud tussenin goed saam. Gebed is die antwoord op enige bedreiging of krisis. Daar is veral baie krag en seën in gesamentlike gebed (Mat. 18:19-20). Die koning word bemoedig deur die volk wat sy gebed ondersteun sodat dit “hulle” gebed word. Eendragtige gesamentlike gebed van kinders van God is onweerstaanbaar vir God.
Vers 1-5: Die koor sing die gebed van die volk: Die volk vra die Here moet die koning se gebed beantwoord. God se Naam staan vir sy karakter. Hy is die Beskermer van Jakob se kinders op grond van sy verbondsbeloftes. Hy moet die koning op ‘n hoë, veilige plek stel sodat hy onaantasbaar is vir die vyand. God moet antwoord uit sy hemelse heiligdom en hom openbaar op Sion, waar Hy ook in die allerheiligste tussen die volk woon. God se teenwoordigheid bring die oorwinning. Hulle ondersteun dit wat die koning reeds gevra het. Die gebed gaan saam met die brandoffer. So bid die Nuwe Testamentiese bidder op grond van die offer op Golgota.
Vers 6-7: Die gemeente begin nou juig asof die oorwinning reeds behaal is, want God het gehoor. Dit is die vaste oortuiging van hulle wat deurgebid het. Die innerlike “weet” is die oortuiging van die Heilige Gees in die binneste van die bidder dat die gebed verhoor is (Fil. 4:6-7, 1 Joh. 5:13-14). Wanneer klaar gebid en gesmeek is, gaan die bidder oor in danksegging en lofprysing. Dit is ware geloof wat deur God gewerk word in die hart van die bidder. Dan kom lofprysing as uitdrukking van daardie geloof. Hulle juig oor die oorwinning nog voor die oorlog begin is. Vers 7 is waarskynlik deur ‘n solostem (dalk die priester) gesing. Die koning is deur die Here gesalf tot sy groot taak om die oorloë van die Here te voer. Die koning veg nie vir sy eie saak nie, maar vir die voortbestaan van die volk van God sodat God se beloftes vervul kan word.
Vers 8-10: Die koor antwoord weer: Die Here het Hom deur dade, maar ook deur sy Naam bekend gemaak. Hy is die Almagtige en Betroubare in wie hulle hul veiligheid vind. Dit maak die verskil tussen wat met die volk gaan gebeur in teenstelling met hul vyande. Geloof en gebed is op die karakter van God gerig. Dit gee die seker wete van die oorwinning. Dit maak die vegter egter nie passief nie. Hulle bid nie net nie, maar gaan veg aktief. Dit gaan oor “waarop” hulle vertrou. Bybelse gebed maak die mens nie passief nie. Dit maak hom juis aktief en vol moed vir die geveg. Hul vertroue is egter nie op hul eie vermoëns of wapens nie. Telkens gee die Here krag in die stryd. Hy belowe nie net nie, maar help kragtig wanneer die geveg op sy ergste is. Die teenstanders kan nie standhou as Hy sy volk bekragtig nie. Die koning is die Here se dienskneg en daarom sal die Here hom verlos van die aanslag teen hom en die volk. Die Naam Jahweh word altyd gekoppel aan die verlossingsdade van God. Dit dui ook op die tweede Persoon van die Godheid. Hy is in die Nuwe Testament die Here (Kurios) wat sy volk finaal kom verlos uit die greep van Satan en sonde (Kol. 1:13-14). So bevestig die Here sy heerskappy oor al die nasies. Voor Hom sal elke knie buig en elke tong bely dat Hy die Here is (Fil. 2:9-12).