Ps 26 Dink aan my opregtheid Deel 2

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS: Psalm 26 (Deel 2)

 

DINK AAN MY OPREGTHEID!

 

Dawid word aangeval en beskuldig dat hy nie reg lewe nie, en dat hy net sekere vriende het. Hulle bevraagteken die egtheid van sy verhouding met die Here, sy sosiale omgang met mense en sy aanbidding tot die Here. Hy getuig egter dat sy gewete skoon is en dat hy met die lig wat hy het, opreg en reg met die Here wandel. Hierin sien mens dat dit nie altyd verkeerd is om standpunt in te neem en die teendeel te getuig as mense jou vals beskuldig nie, veral as dit gaan om die eer van die Here wat kan skade ly as daar nie geantwoord word op die valse beskuldigings nie. Dawid deel nie net sy gedig as gesprek met die Here nie, maar gee dit openlik op skrif uit vir almal om te lees. Sy verdediging teenoor sy beskuldigers word ‘n kragtige getuie van hoe hy die Here dien en hoe hy met die Here wandel – sonder om die eer vir homself te neem. Ons getuienis sluit nie net in dat ons gered is nie, maar ook van die genade van God wat dit vir ons moontlik maak om as geredde kinders van God reg te lewe!.

 

Vers 1 – 2: Gebed. In die eerste twee verse rig hy ‘n duidelike versoek dat die Here hom sal beskerm teen die valse aanklagte en reg aan hom sal geskied. Hy is van niks bewus wat tussen hom en die Here staan nie (1 Kor. 4:4). Daarmee bedoel hy nie dat hy sondeloos volmaak is nie. Hy getuig dat sy hart gereinig is van al sy sonde en dat hy nie voortdurend in valsheid of oneerlikheid lewe nie. Dawid het dus alreeds in die Ou Testament die oorwinningslewe van Rom. 6:11-14 geken. Hoeveel te meer kan ons nie in die Nuwe Testament in die reël vry lewe van onbelyde sondes, asook van die oorheersing van die ou natuur nie. God kan maar sy hart, gedagtes en emosies toets. Hy weet dat God weet dat sy verhouding met die Here oop en skoon is.

 

Vers 3 – 8: Getuienis. Hy gee nou in detail getuienis van sy wandel met die Here. Hy wandel vanuit die goedheid van God in integriteit, volgens die waarheid van Gods Woord. Hy maak nie intieme vriende met skelm mense nie en hou nie gemeenskap met hulle nie. Hy het ‘n innerlike afsku aan saamkuier met goddelose mense, en voel homself nie daar tuis nie. Hy voel hom liewer tuis in die teenwoordigheid van die Here in die tempel, en wil God loof met ‘n skoon hart. In sy hart is ‘n opregte en eerlike liefde vir die huis van die Here, waar God teenwoordig is. God se heerlikheid word aan sy hart geopenbaar waar hy vanuit die offers op die altaar die vrymoedigheid het om tot Hom te nader. Die beskuldigings dat hy nie opreg met die Here is nie en dat sy godsdiens onopreg is, verskil ver van dit wat hy in sy hart beleef. As hy met hulle beskuldigings moet saamstem, sal hy self oneerlik wees soos hulle.

 

Vers 9 – 10: Gebed. Hy vra weer dat die Here hom anders sal behandel as sy beskuldigers wat op die bloed van ander uit is, en dus geen barmhartigheid teenoor hul medemens ken nie. God moet hom nie dieselfde lot laat tegemoet gaan as hulle nie, want hulle leef in voortdurende moedswillige sondes. Hulle wat in sonde leef, het die arrogansie om hom wat opreg met die Here wandel, te beskuldig.

 

Vers 11 – 12: Getuienis. Hy leef met integriteit en opregtheid. Daarom vra hy dat die Here hom moet loskoop van hul beskuldigings, dat hy vry kan staan van die valse aanklagte. Omdat hy voor God regverdig is, moet God vir hom optree sodat hy nie deur hulle vernietig word nie, want hulle het geen genade nie. God is egter genadig. Sy eie opregte lewe is nie die eintlike grond waarop hy dit vra nie, maar die genade van God wat hom in staat stel om reg te lewe. Daardie selfde genade moet hom ook nou teen sy vyande se beskuldigings beskerm. Hy staan so vas op wat God se genade in sy lewe gedoen het dat hy soos op gelyk grond staan. Dieselfde genade sal hom vorentoe deurdra en beskerm. Daaroor sal hy God loof as die gemeente saamkom sodat die Here al die eer kry.

(Visited 62 times, 1 visits today)