BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 27
DIE HERE IS MY LIG EN MY HEIL!
Dié psalm is weer ‘n uitdrukking van geloof en vertroue op die Here in tye van bedreiging en gevaar. Dit is ook die uitdrukking van die digter se persoonlike begeerte na intieme gemeenskap met God. Die bedreiginge van slegte mense verswak nie sy verlange na die Here self nie, maar verskerp dit. Die gelowige sal altyd aanvegtinge beleef, maar geloof wat bestaan uit ‘n persoonlike verhouding met God, sal hom altyd daardeur dra.
Verse 1 – 3 : Dawid bevestig sy vertroue op die Here in die tyd van aanslag deur kwaaddoeners. Hulle staan hom teë omdat hulle in hul wese boos is. Die Here se teenwoordigheid en beskerming is soos lig teenoor die bedreiginge wat soos duisternis is wat oor hom wil toesak. Hy kyk egter na wie God is. God self is sy lig en verlossing. God gee nie net lig en verlossing nie, maar IS DIT! Daarom sal ‘n hele weermag hom nie laat vrees nie, want hy vertrou op “wie God is”. Geloof staan nie op homself nie, maar op “wie God is”. Daarom is hierdie almagtige en betroubare God die Een waarheen Dawid kan vlug vir beskerming, sy TOEVLUG! Hy kyk nie na hoe groot die bedreiging is nie, maar na hoe groot en betroubaar God is.
Verse 4 – 6 : Dawid is so verseker van die oorwinning en verlossing wat die Here hom sal gee, dat hy alreeds daarna uitsien om weg te wees van die stryd om die Here te dien in die tempel. Hy verlang meer na gemeenskap met Gd self as om oorloë vir die Here te voer. Tog moet hy dit doen,want die Here se vyande val hom aan. Maar na elke oorwinning keer hy terug na gemeenskap met God self. Daarom sal hy na die stryd God dien en loof in die tempel. Die Here se beskerming maak dat die vyand niks met hom kan doen wat God nie toelaat nie. Hy gebruik drie beelde om die beskerming van die Here uit te druk: Die Here steek hom weg in sy hut, tent en rots. Al drie dui op die veiligheid wat die gelowige het onder die bewarende hand van die Here. Die eerste twee beelde gaan oor die feit dat God hom wegsteek sodat die vyand hom nie eers kan vind nie. Die laaste oor die “optel” bokant die stryd. Hy leef so in God dat dit is asof hy opgetel is bokant sy omstandighede. Al is hy in die stryd, is hy in God verhewe bo die stryd.
Verse 7 – 12 : Sy geloof gaan nou oor in gebed. Soms lei deurbid tot geloof. (Ander kere lei geloof tot deurbid. Hebr. 11:6) In hierdie psalm druk die digter eers sy geloofsvertroue uit en bid dan vanuit daardie vertroue. God moet hom genadig wees en antwoord. Hy soek die aangesig van God self. In sy gebed wil hy by God self uitkom en direk van God ‘n antwoord kry. Hy soek nie tweedehandse gemeenskap met God en antwoorde deur iemand anders nie. Daar is geen rede waarom God nie aan hom direkte aandag kan gee nie, want sy hart is op die Here self ingestel en nie net op wat God vir hom moet doen nie. Tog moet God luister na wat hy vra. God is tog nie soos die afgode wat vol grille is en wat deur mense tevrede gehou moet word deur allerhande onnodige offers en selfkastyding nie. God soek ‘n persoonlike verhouding met hom en Dawid leef in so ‘n verhouding. God soek direkte liefde en ‘n verhouding wat gebaseer is op VERTROUE in God. Vanuit daardie verhouding soek die gelowige ook om die wil van God te doen. Daarom vra hy: “Here, leer my U weg . . . “ Hy vra dan ‘n direkte versoek. God moet hom nie oorgee aan die slegte begeertes van sy vyande nie. God beheer selfs sy vyande sodat hulle niks sonder sy toelatende wil kan doen nie. Dit is geloof in die soewereiniteit van God oor elke aspek van die lewe, selfs oor die duiwel en sy trawante.
Verse 13 – 14 : Sonder geloof sal ons nie standhou as gelowiges nie (Jes. 7:9). Ons hele lewe is ‘n stryd teen baie vyande. Geloof is gebaseer op die goedheid van God. Sy karakter is onwankelbaar goed. God verander nooit nie. Sonder daardie geloof sou Dawid moed opgee – en ons ook. Maar hy wat glo dat God goed is, sal op Hom bly wag tot Hy uitred, en so altyd weer sy getrouheid openbaar. Hy besluit hoe lank ons in die lewe sal bly, want Hy het selfs mag oor die dood. Daarom is Hy ons lig en verlossing. Hy sal ons selfs van die dood bly red, tot Hy bepaal dat die dood ons deur moet wees na die ewige lewe!