Ps 35 Here stry teen my vyande

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIES OOR DIE PSALMS: Psalm 35

HERE STRY TEEN MY VYANDE !

Hierdie is weer ‘n psalm van gebed om verlossing van die digter se vyande. Die psalm bestaan uit drie dele, waarin Dawid bid om ‘n ingryping van God en optrede teen sy vyande, die rede waarom hy nie sy vyande se aanvalle verdien nie en dat hulle nie moet bly wees oor sy lyding nie, want dit sal tot oneer van God wees. Hy vra twee keer dat die Engel van die Here self sal ingryp. Dit is die tweede Persoon in die Drie-eenheid wat Hom alreeds in die OT as Redder uit die mag van vyande openbaar. Dawid het alreeds die Engel van die Here geken as God self en nie ‘n gewone engel nie.

Verse 1 – 10 : Dawid wend hom weer tot gebed as die enigste finale uitweg in nood. Hy vra God moet optree en oorlog maak teen sy teenstanders. Die Here moet verdedigings- en aanvalswapens inspan om sy kind se lewe te red. Die Here moet as krygsman optree, want hierdie is eintlik ‘n geestelike oorlog. Hy soek ook ‘n duidelike antwoord van God sodat hy kan weet wanneer hy verhoor is: ”Spreek tot my siel: Ek is jou heil” (verlossing). God is self sy Verlossing. Hulle mag moet totaal gebreek word. God moet doen wat reg en regverdig is, want sy vyande het hom sonder oorsaak vervolg. Hulle het vir hom ‘n kuil gegrawe en ‘n net daaroor gesit dat hy die gevaar nie sou sien nie. Hulle is dus gemeen en agterbaks. God moet werk dat hulle self in die gat val wat hul vir ander grawe. So tree God regverdig op deur toe te laat dat hul eie sondes hulle straf. Hy weet dat God hom sal verhoor en dat sy siel sal juig in die Here.

Verse 11 – 18 : Hy pleit voort vir onmiddellike verlossing van onreg. Hulle wat eers geblyk het sy vriende te wees, staan nou teen hom op en openbaar hul valsheid. Hy het net goed aan hulle gedoen, en selfs meegevoel met hulle gehad toe hulle siek was. Nou is hulle egter genadeloos en sonder meegevoel teenoor hom en daarop uit om sleg teenoor hom op te tree. Dit wys dat hulle laag van karakter is. Hy het selfs vir hulle gebid, maar God het sy gebed vir hul genesing nie verhoor nie, omdat Hy toe al geweet het dat hul lae en gemene mense is. Sulke mense hou daarvan om ander te belaster en geniet dit as die regverdige struikel. Hy vra eerlik hoe lank God, wat tog regverdig is, dit sal sien gebeur, sonder om hom van hulle venynige haat te red. Hulle het hom sonder oorsaak gehaat. So ook vir Christus jare later. Die ongelowige wêreld haat van nature die gelowige, en gewoonlik sonder rede. Hy het net één siel, één lewe. As hulle hom doodmaak, het hy nie nog ‘n tweede lewe hier op aarde oor om God hier te dien en God se saak te volbring nie. Ook híérdie lewe is kosbaar en nie net die lewe na die dood nie.

Verse 19 -28 : Hulle wat hom onregverdiglik haat, moet nie die oorwinning verkry, en so ‘n geleent-heid kry om oor sy neerlaag te juig nie; dan seëvier die onreg. Dis asof God slaap terwyl hy bid en Hy reageer nie. Hy wil deur sy gebed God wakker maak vir sy saak. Klem word daardeur gelê op die feit dat God soewerein is en nie deur die bidder beveel kan word om gou te maak nie. Die bidder kan dit egter vra. Hy leer egter terselfdertyd om sy tydskalender by God aan te pas. Die feit is God moet ingryp en Hý besluit wanneer Hý dit sal doen. Terwyl God uitstel om te help, redeneer hy op grond van die beginsel van geregtigheid waarom God behoort te antwoord, en beroep hy hom ook op God se geregtigheid en die feit dat God sy God is: ”Doen aan my reg na U geregtigheid, Here, my God . . . ” Hy was nooit bly oor hulle ellende nie, maar het meegevoel met hul ellende gehad. Daarom moet God nou ook nie toelaat dat hulle die teenoorgestelde met hom doen nie. Hulle wat hierdie gesindheid het van “bly wees oor ‘n ander se val”, moet liewer self rooi van skaamte word, sodat God die mense geregtigheid kan leer deur sy optrede teen sulke mense. God moet so optree dat die mede-regverdiges, wat behae het in geregtigheid, sal juig en bly wees en God sal loof. Ware regverdiges is altyd bly as geregtigheid seëvier. Hulle is bly saam met die waarheid (1 Kor. 13:6). As God so volgens beginsels van geregtigheid optree, sal die bidder ook self God se geregtigheid prys – die hele dag deur!

(Visited 210 times, 1 visits today)