Ps 34 Die Here beskerm die gelowige

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS: Psalm 34

DIE HERE BESKERM DIE GELOWIGE!

Dié psalm is ook in alfabetiese volgorde geskryf, soos Psalm 25. Dit bestaan hoofsaaklik uit twee dele. Die eerste deel handel oor die ondervinding van uitredding uit ‘n lewensgevaarlike krisis, en die tweede deel oor wat ons daaruit kan leer. Dawid het, op vlug vir Saul, by koning Agis (koninklike naam: Abimelek) van die Filistyne gaan skuil, en lg. het agtergekom wie Dawid was. Hy was nou in lewensgevaar en het na die Here geroep om uitredding. Hy het hom kranksinnig gehou en Abimelek het hom laat gaan. Dit was sinneloos om ‘n kranksinnige dood te maak. Dit was egter die Here wat sy plan laat slaag het en sy lewe gespaar het. Die Here het immers aan Dawid belowe dat hy koning sou word. Daarom sou hy nie toelaat dat hy voor die tyd sterf nie. God moet geprys word, want Hy is getrou aan sy Woord.

  1. 1 – 11 : Dawid sal God altyd loof vir sy uitreddings. Die ootmoediges (hulle wat hul nederig aan die Here onderwerp) sal dit hoor en bly wees oor die lofprysinge wat van God se redding vertel. Gebedsverhoring bring altyd groot vreugde (Joh. 16:24). Hulle wat hul oë op die Here hou, sal nooit terleurgestel word nie. Hulle sal op die ou end straal van vreugde as hul verwagting van die Here tot redding lei. Die Engel van die Here openbaar Hom, as die tweede Persoon in die Godheid, nou reeds in redding uit gevaar (v 8). Persoonlike getuienis is alleen waardevol as dit rus op die onveranderlike waarhede oor God. Wanneer die gelowige prakties in uitredding die karakter van God ervaar, gee dit telkens rede tot groot sekuriteit in God se getrouheid. Dit bemoedig die regverdige om vorentoe nog meer op God te vertrou. So groei sy geloof in die groot waarhede oor God, wat die Woord vir ons leer. Dawid wil hê ander moet ook hierdie goedheid van die Here persoonlik beleef: ”Smaak en sien dat die Here goed is . . . ” (v. 9) Geloof in wie God is, moet in die daaglikse lewe, en veral in krisisse, persoonlik ervaar word. Anders bly dit net ‘n teorie. Die Here laat dan ook probleme en krisisse in die kind van God se lewe toe, sodat hy God in sy krisis persoonlik sal ervaar. Hierdie persoonlike ervarings word nie maklik vergeet nie. So iemand kan na die tyd soos Job sê: ”Van hoorsê het ek van U gehoor, maar nou het my oog U gesien!” So iemand kan nou vir ander iets oor God leer, en hy kan dit met opgewondenheid en oortuiging doen, want hy het God persoonlik ervaar. V. 10 gaan alreeds oor in lering, gekombineer met getuienis uit ondervinding in v. 1: ”Vrees die Here, o sy heiliges . . . ” (v. 9) Dié wat die Here soek, sal geen gebrek lei nie (v. 11).

Vers 12 – 34 : Op grond van sy persoonlike ervaring met die Here kan die digter nou ander leer. Hy wil aan hulle die geheim leer om ‘n regverdige lewe te lei, waarin ontsag en eer vir die Here die sleutel is tot God se sorg oor ons. Die vrees vir die Here moet uitkom in wat in die gewone daaglikse lewe gedoen of ontwyk word. Eerstens moet die gelowige sy lippe bewaar van alles wat verkeerd en oneerlik is (2 Tim. 2:22). Tweedens moet weg beweeg word van wat verkeerd is, maar die rigting van die goeie dinge moet gekies word. In elke optrede moet ek die vrede met God behou (Kol. 3:15). Hulle wat ‘n sinvolle en vervulde lewe wil lei, moet God se waarhede en waardes respekteer en najaag. Na sulke mense luister die Here as hulle om hulp roep. Dawid het dit telkens ondervind en kon nou met vrymoedigheid aan ander, wat op die Here ingestel is (Hom soek), vertel dat dit werk.

  1. goddelose kry geen hulp van die Here nie en Hy sal hul lewe tot niet laat gaan. Hy kyk egter na die regverdige en luister na hulle gebed. Dié wat deur die storms van die lewe so verbrysel is dat hulle verslae is van gees, sal Hy verlos. Niks erger kan met hom gebeur nadat God ingegryp het nie. goddelose se eie kwaad vernietig hom mettertyd. Hulle sal boet vir hul haat teen die regverdige (iemand wat regverdig gemaak is en daarna jaag om regverdig te lewe). Hulle wat die Here dien, sal verlos word, al neem dit tyd. Hulle hoef nie gestraf te word vir hulle sondes nie, want hulle is vergewe omdat hulle op God se genade staatmaak. Hulle skuil by Hom en Hy beskerm hulle. Aan die kruis is die grootste verlossing vir hulle bewerk en dit gee aan hulle ewige beskerming en veiligheid. In die hemel sal daar geen Saul en Abimelek meer wees nie.

 

(Visited 234 times, 1 visits today)