BYBELSTUDIE UIT DIE PSALMS : Psalm 33
DIE HERE SORG
Die psalm begin met ses strofes en eindig met ses strofes. Tussenin is vier stelle van agt strofes. Die twee stelle van ses strofes aan die begin en aan die einde handel albei oor blydskap in die Here. Die volk moet die Here loof en hulle in Hom verbly. God self is die rede vir hulle blydskap, en niks anders nie. Daarom moet die Here met musiekinstrumente en sang geprys word, terwyl die volk hulle verwagting en vertroue net op die Here rig en op sy karakter. Deel van sy karakter is sy goedgesindheid wat deel is van sy verbondstrou teenoor sy volk. Tussen hierdie waarhede in die eerste en laaste perikope word die gedig nou gevul met redes waarom die volk net op God moet vertrou en waarom hulle in Hom bly behoort te wees, sodat dit uitloop op spontane lof aan Hom.
Vers 1 – 3 : Die volk van God word opgeroep om die Here te loof met verskillende musiekinstrumente en sang. Dit pas by die regverdiges. Hulle moet ‘n nuwe lied sing om vars lof aan God op te dra, want Hy openbaar Hom telkens op verskillende maniere aan Sy volk.
Verse 4 – 11 : Daar is oorvloedige rede om God te prys: Eerstens is God se Woord eerlik, betroubaar en vol van reg. Tweedens is God se werk vol trou, waarheid en stabiliteit. Omdat God nie verander nie, verander sy karaktereienskappe ook nie. Dit word in sy werk oor die eeue gesien. Daarom kan die volk van God Hom prys omdat Hy stabiel is. Geloof in so ‘n God maak sy kinders ook stabiel. God is getrou aan sy eie karakter. Derdens kan die volk God loof omdat Hy die reg en geregtigheid liefhet. Ons kan ons nie eens indink hoe angswekkend en onstabiel mense sou wees met ‘n veranderlike God vol nukke en ongeregtighede nie. Nog meer (vierdens): saam met sy liefde vir die reg, is Hy ook vol goedgesindheid en genade (goedertierenheid – “kindness”). Die almag van God (vyfdens) is ook een van die grootste redes om die Here te loof. Deur sy Woord en Gees het Hy alles geskape net deur te spreek en die opdrag te gee dat dit moet ontstaan. Hy beheer die watervloede sodat dit nie lewe op aarde vernietig nie. Sy skepping en onderhouding van die skepping behoort ‘n heilige ontsag vir Hom by ons almal op te wek. Laastens: Hy laat toe wat met die nasies gebeur, of verhinder hulle planne soos Hy wil. Selfs die goddelose nasies kan niks doen as Hy dit nie toelaat nie. Hy regeer oor die volkerewêreld. Dit is ‘n baie groot rede om God te aanbid.
Vers 12 – 19 : Israel kan hulself baie gelukkig ag dat God hulle uit al die nasies uitgekies het om sy volk te wees. Alles wat Hy is en doen, erf hulle. Maar Hy kyk na hul lewe op aarde en gaan rekenskap vra. Hy is alwetend en alomteenwoordig. Elke mens se lewe is oop en bloot voor hom (Hebr. 4:13). Hy bly direk betrokke by elke mens. Hy het nie net die wêreld geskep en daarna alles en almal aan hul eie lot oorgelaat nie. Hy toets en weeg alle mense se werke en handel daarvolgens met hulle. Hy is ook die Verlosser van sy volk wat hulle uitred uit die mag van hulle vyande. Hy bepaal of die wapen en die perd die oorwinning sal behaal in die geveg.
Op ‘n spesiale wyse is sy oog gerig op dié wat op sy liefde en genade vertrou en daarvanuit hul hele lewe inrig. Selfs in tye van hongersnood sal Hy vir hulle sorg en die dood sal hul nie voortydig kom wegneem nie.
Verse 20-22: Die kind van God se hart is ingestel op die beskerming en hulp van die Here. Dikwels is daar ‘n tyd wat die gelowige moet wag voor God ingryp. Dit is deel daarvan om in God se betroubaarheid te rus. Sy Naam “Jahweh” beteken Verlosser; daarom sal Hy doen wat Sy Naam sê. Daarom leef die een wat hulp van die Here verwag, in voortdurende gebed. Gebed en wag gaan altyd saam. Hy wat op die Here se genade (goedgesindheid) staatmaak , kan volhard om te wag op ‘n betroubare God. So ‘n wonderlike God is al ons musiek en lofsange waardig!
Halleluja, loof die Here!