BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 32
GETUIENIS OOR DIE VREUGDE VAN SKULDVERGIFNIS
Hierdie psalm is die persoonlike getuienis van ‘n gelowige wat vir ‘n tyd lank in sonde en afvalligheid gelewe het, en die gebrek aan vrede en vreugde, wat dit meebring, baie intens beleef het. Sy skuldige gewete het hom dag en nag gepla soos kanker die liggaam van die mens wegvreet. Selfs sy liggaam het gely onder die effek van die skuldlas van sy sonde. Hy het probeer om sonder sondebelydenis voort te lewe in ‘n houding van opstandigheid teenoor God. Hy het vir ‘n tyd lank die smarte van die ongelowiges beleef, wat hulle hele lewe elke dag voortlewe sonder daardie vrede van ‘n regte verhouding met God! Die gedig is heel moontlik deur Dawid geskryf na sy sonde met Batseba.
Vers 1 – 2 : In die eerste twee verse word drie woorde vir sonde gebruik: oortreding, sonde en ongeregtigheid. Daar word ook drie woorde gebruik vir vergifnis: vergewe, bedek en “nie toereken nie”. So beskryf die digter drieledig die wese van sonde, asook die drieledige inhoud van vergifnis. Die woord oortreding beteken die doelbewuste verontagsaming van God se wil, nl. opstandigheid en rebellie. Die woord “sonde” spreek van verkeerde dade, gedagtes of gesindhede. Die laaste woord wys op die slegte sondige natuur wat die oorsaak van die sonde is. Sondevergifnis beteken dat God ons sonde wegneem, toemaak en nie toereken nie. Wanneer die kind van God dit besef, na hy sy sonde bely het, vul dankbaarheid, vrede en vreugde sy hart. Hy is drie maal gelukkig. Hy is geseënd en gelukkig. Hy het die vergifnis nie verdien nie. Dit geld vir die opregte mens sonder valsheid en oneerlikheid, wat sy sonde bely en erken.
Verse 3 – 5 : Die mens wat opreg is in sy gees, kan nie te lank in teruggevallenheid leef nie. Sy sonde pla hom aanhoudend, soos die warm son in Palestina die aarde verskroei. God se hand van tug rus voortdurend op die gelowige wat dink hy kan soos die ongelowige ‘n ruk lank in die sonde bly voortlewe. God se Gees spreek hom voortdurend aan in sy gewete. Hy bly onrustig en krop alles op in sy binneste. Die sonde wat hy wegsteek en weier om te bely is soos kwaad in sy binneste wat hom geestelik siek maak. Selfs sy liggaam kry swaar om die las van onbelyde sonde te dra. Hy wou hardkoppig sy eie weg gaan en het geweier om sy sonde te erken en tot berou te kom. Die behoefte om te bely en reg te maak raak egter te groot, tot die sweer oopbars. Sonde is oortreding teenoor God self en verbreek die intieme verhouding met God. Alle sonde is eerstens teen God gedoen. Daarom moet sonde altyd eers teenoor God bely word. Sondebelydenis sluit in om OOP TE MAAK, om op te hou om die sonde weg te steek. God weet tog alles. Ek kan niks vir hom wegsteek nie, maar die poging om dit te doen, versteur ons verhouding met Hom. Die wil moet weer buig onder God se wil, want die sonde was ‘n keuse tot eie wil: ”Ek WIL aan die Here my oortreding bely . . .” Die oomblik van berou en belydenis bring ook hernieude oorgawe aan God. Meer nog: dit bring weer vertroue op God: ”Ek wil aan die Here . . . ” my sonde bely. God vergewe dadelik. God was weer betroubaar, die verhouding is herstel.
- 6 – 11 : Na vergifnis kom spontane getuienis oor wie God is, soos die gelowige Hom in die proses van vergifnis weer eerstehands leer ken het. In die tyd van genade sal die ware gelowige altyd weer van genade gebruik maak om sy verhouding met die Here te herstel. Hy sal nie te lank ”speel” met genade en dit misbruik nie. Die Here beskerm sy kind selfs in die tyd van struikeling, en ook daarna, as die aanvalle weer kom. Die Here is ‘n skuilplek teen verdere versoekings en aanvalle van die vyand. Wanneer die gelowige geval het, sal sy teenstanders hom verder in die grond wil trap. God se vergifnis maak hom egter so vry dat hy sing van vreugde. Sy skuldige gewete het tot rus gekom. Nou wil die psalmdigter ander waarsku vanuit sy eie ondervinding. Die Here wil ons leer en lei hoe om te lewe volgens sy wil. Ons moet nie wees soos ‘n perd of muil wat met toom en tuig beheer en gestuur moet word nie. Ons behoort op ‘n ander wyse as diere te lewe. Ons hart en denke moet deur God in gewillige onderdanigheid gelei word. Alles gaan om vertroue op die Here. As ons die Here vertrou, volg ons sy leiding, ondervind ons sy goedgesindheid en juig ons harte. Dan leef ons opreg en reg, en ons verhouding met God word nie versteur nie. Ons beleef dan voortdurende blydskap in die Here en juig tot sy eer. Die digter waarsku ons dat die onderbreking van so ‘n vreudevolle verhouding met God, deur tydelik terug te val in die sonde, nie die moeite werd is nie.