Ps 31 Verlos my want my tye is in U hand

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE UIT DIE PSALMS: Psalm 31

TEMA: VERLOS MY, WANT MY TYE IS IN U HAND

Dawid se lewe is ‘n lewe van stryd en oorlog ter wille van die Here. Hy is God se volk se koning en word voortdurend bedreig deur God se vyande. Hulle is samesweerders wat hom voortdurend beskinder en planne maak om hom dood te maak. Hy werp hom in hierdie detail-psalm alleen op die Here en stel sy saak in die fynste besonderhede. Dit dui op ‘n intieme verhouding met die Here. Hy praat in detail sy hart uit deur sy stryd aan die Here te skets terwyl hy weet dat die Here in elk geval alles weet. Dit is gebed. Al weet God alles, wil Hy hê sy kind moet alles met Hom deel. Dit openbaar ‘n vertrouensverhouding. Hier in die midde van ernstige bedreiginge deel Dawid sy benoudheid en frustrasie met die Here. Sy gebed is meer as net versoeke om hulp. Dit is GEMEENSKAP met God. Vanuit sy vertroue in God nooi hy al die gelowiges om ook op Hom te vertrou en hulle harte deur vertroue op God sterk te maak.

Verse 1-9: Die eerste deel van die psalm bestaan uit die uitspreek van vertroue teenoor God, afgewissel met gebedsversoeke. Tydens gevegte het Dawid dikwels in grotte in rotse geskuil. Dit is ‘n beeld van die onwankelbare en onveranderlike God op wie hy vertrou. Hy vertrou sy lewe (gees) aan die Here toe, wat telkens sy lewe in die verlede gespaar het. Hy gee sy lewe so totaal aan die Here oor dat die Here hom bestuur (v. 4). God is die bestuurder van sy daaglikse lewe, en die keuses wat hy moet maak. God se leiding sal hom bewaar van die nette wat die vyand span. Hy kyk heeltyd na God alleen vir uitkoms: ”U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het.” (v5)

Verse 10-19: Die aanslae het ‘n effek op hom. Sy siel en sy liggaam ly onder die druk van verdagmakery en spot. Hulle wat by hom moes staan, verag hom weens die invloed van sy vyande. Hy word van alle kante bedreig (v. 14). Dit is nie ‘n speletjie nie. Dit is wrede mense wat beplan om sy lewe te neem. Maar ten spyte van die benoudheid en spanning in sy eie hart, weens die krag en erns van die bedreiging, vertrou hy steeds op die Here. Hy onthou ook hoe God hom die vorige kere uit die hand van die vyand verlos het en op vrye voet laat gaan het. God sal bepaal wanneer sy lewe beëindig word, en nie sy vyande nie. God se goedgesindheid (goedertierenheid) is sy anker. Dit is ‘n vaste eienskap van die God van Israel. Ander vertrou op afgode, maar hy vertrou op die Here (v. 7, 15). Terwyl sy vyande hom beskinder, kyk hy na die aangesig van die Here wat hom as sy kind goedgesind is. God sal sy vyande se stem stilmaak, al is dit in die doderyk.

Verse 20-25: Dawid het weer deurgebid. Sy gees voel verlig en ontvang ‘n vars openbaring van die GOEDHEID van God. Die gebede gaan oor in getuienis, getuienis oor wie God is en wat hy doen. Hy is vol goedheid teenoor dié wat ‘n heilige respek vir Hom het, en Hy beskerm dié wat by Hom skuil. God wil vertrou word deur hulle wat Hom vrees. Gebed gaan altyd oor in lofprysing wanneer die oorwinning in gebed behaal is. God se Gees vul dan die gees van die gelowige met vrede, krag en die wete dat die oorwinning alreeds in die geestelike realm behaal is. Nou kan hy byna nie glo dat hy so benoud en gespanne was nie. Hy het byna begin wanhoop en gedink hy sal tot niet gaan. Net soos Petrus (baie later) het hy na die golwe gekyk. Hy weet nou egter sy gebed is verhoor (v. 23). Nou het hy ook sommer rede om vir ander gelowiges te preek en teenoor hulle, uit sy eie ervaring, te getuig dat gebed en vertroue werk! Waarom? Omdat God die getroues bewaar en die goddelose vergeld. God is regverdig in sy karakter en tree altyd regverdig op. Hy sal reg en geregtigheid laat geskied – al neem dit soms tyd. Die gelowige sal aangeval word, hy sal soms benoud word en selfs angs beleef, want dit is menslik. Maar die ware gelowige sal juis in sulke tye altyd weer sy toevlug tot God neem en hy sal nooit terleurgestel word nie. Dawid se eerste sin in sy gebed is verhoor: ” . . . laat my nooit beskaamd (terleurgesteld) staan nie. Bevry my deur U GEREGTIGHEID.” (v. 1) God kan nie sy kinders faal nie, want Hy bevry hul altyd deur sy geregtigheid. Die hoogste vervulling daarvan is wat aan die kruis gebeur het. Halleluja !

(Visited 66 times, 1 visits today)