BYBELSTUDIE UIT DIE PSALMS : Psalm 30
LOOF DIE HERE DAT HY MY VAN DIE DOOD GERED HET!
Hierdie is ‘n lofpsalm uit dankbaarheid. Toe dit met Dawid goed gegaan het, het hy hoogmoedig geword en op homself begin vertrou. Die Here het ernsige siekte oor hom laat kom, om hom te leer dat sy voorspoed nie met sy eie goedheid of vermoëns te doen het nie. As die mens voorspoedig is, is dit God wat dit vir hom gun. Dié psalm is die doodsteek vir die “prosperity gospel”. Hulle leer dat God net gesondheid en voorspoed gee en dat alle siekte en skade net altyd van die duiwel af kom. Hierdie psalm leer dat God soms die gelowige kan tug of lesse leer deur siekte of teëspoed. Die vrug daarvan by die ware gelowige is dat hy meer afhanklik van die Here word en nederig bly as God hom seën.
Verse 1 – 6 : Die digter gee aan die Here die eer, want Hy het hom uit die greep van die dood verlos, soos wanneer iemand uit ‘n kuil opgetrek word. Hy kon self nie uit die kuil uitkom nie. Dit het hom weer laat besef hoe swak en nietig hy is. Hulpeloos het hy ontdek dat hy homself nie kan genees van ‘n ernstige siekte nie. Sy vyande het toegekyk hoe hy agteruitgaan en het gewag dat hy moet sterf. Hulle is juis vyande omdat hy die Here dien. God het mag oor lewe en dood. Hy het Dawid se lewe verleng. Jahweh, die een wat “self bestaan” en lewe in Homself het, besluit aan wie Hy lewe gee en wie Hy laat sterf. Die duiwel het nie beheer oor die dood nie, maar God. God verlos sy gunsgenote; daarom moet hulle God prys. Die gelowiges moet onthou wat sy Naam is en wat dit beteken. Die naam van die Here verklaar wie Hy is en sy dade openbaar Hom. Sy uitredding openbaar telkens wie Hy is. Die Naam van die Here vertel wie Hy is. Dit moet ons altyd onthou in ons verhouding met Hom. Dawid het vergeet dat dit Jahweh is wat hom seën en het onafhanklik en selfvoldaan geword. Dit het die kortstondige toorn van die Here ontlok sodat Hy sy kind ‘n les moes leer. Sy toorn teenoor sy kinders is soos dié van ‘n Vader wat sy kind reg wil leer. Dit is nie soos sy toorn teen die ongelowiges nie. God se tugtigings is kort oomblikke in die hele leeftyd van sy kinders, waarin hulle sy voortdurende goedheid ervaar. Soos ‘n Vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom vrees (Ps. 103:13). Daarom moet God geprys word en al die eer moet aan Hom gegee word, want Hy is en doen wat sy Naam sê. Hy is Jahweh, die Lewe, die Redder!
Verse 7 – 13 : Dawid beskryf sy oortreding. Hy het in sy goeie en gemaklike omstandighede sekuriteit gevind. Sy posisie was, volgens hom, vas en seker en sou nooit weer verander nie. Hy kon nie beweeg word van sy berg van voorspoed af nie. Toe sien die Here dit raak. Hy doen twee dinge: Hy laat ernstige siekte in sy liggaam toe en onttrek die bewussyn van sy teenwoordigheid uit Dawid se hart. Hy was sterwende en kon nie met God kontak maak nie. Hy het egter bly roep na die Here soos hy gewoond was. Soos in vorige psalms, sien ons weer Dawid se vrymoedigheid en volharding in gebed. Hy bid nie net nie, maar smeek om genade. Die Here moet twee dinge doen: Hy moet hom genadig wees en vanuit die genade uitred. Wanneer iemand om “genade” smeek, is hy altyd by die punt van totale afhanklikheid weens sy totale hulpeloosheid. Dit bring nederigheid voort. Iemand wat nederig is, gee nie om om te smeek nie. Dan is die logiese gevolge dat God alleen geloof word as Hy uitkoms gee. Sonder Hom was daar geen uitkoms nie. As die uitkoms kom, kry Hy al die eer en lof. God het hom genees. Dit het weeklaag in koordans verander. Sy hoogmoed en selfvoldaanheid is hom vergewe en hy het die les geleer wat God hom wou leer. Dit bring ook weer die herstel van ‘n intieme verhouding met God, waarin Dawid weer sy plek ken, die plek van nederigheid: “Here, my God, vir ewig sal ek U loof!” Dit is “my God” wat geloof word. En lof is die hoogste vorm van geloof! Daarom kon die lied ook gesing word by die inwyding van die paleis of die tempel. Alle oorwinnings en voorspoed kom van God af. Soms is voorspoed ‘n groter toets as teëspoed! Dit vra geestelike volwassenheid om in tye van voorspoed te onthou: Alles kom van Jahweh en hy kan dit net so vinnig wegneem as wat Hy dit gegee het. Verhoog Hom in voorspoed en teëspoed!
“Vir ewig sal ek U loof!”