Ps 29 Gee die Here eer oor sy stem in die natuur

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIES UIT DIE PSALMS : Psalm 29

 

GEE EER AAN DIE HERE WEENS SY STEM IN DIE NATUUR

 

Die Here openbaar Homself in die natuur. Veral in kragtige natuurverskynsels soos in weerligte, donderstorms en watervloede sien ons die krag en majesteit van die Here. Paulus leer dieselfde: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, nl. sy ewige krag en goddelikheid . . . “ (Rom. 1:20) In die krag van wind, water en weerlig kan mens die stem van die Here hoor. Sewe keer sê die digter dat die stem van die Here in die natuur gehoor kan word. Die volmaakte getal dui hier op die volledigheid en die Goddelikheid van die openbarings. Die hemelinge en die gelowiges moet die Here die eer gee wat Hom toekom as gevolg van hierdie openbarings. (Ook in Psalms 8, 19 en 104 word God op soortgelyke wyse geprys.)

 

Verse 1 – 2 : Die hemelinge beleef die volle openbaring van God se krag en heerlikheid en moet Hom daarvoor eer. Hy moet geëer word vir sy sterkte. Sy krag is rede tot lof aan Hom. Die erediens op aarde in die tempel is ‘n skaduwee van die volmaakte ewige erediens in die hemel. In die hemel en op die aarde moet die Naam van die Here geprys word. In volmaaktheid (in die hemel) en in onvolmaaktheid (in die aarde-tempel) moet die Volmaakte en Heilige geëer en aanbid word. Die gee van eer moet oorgaan in aanbidding. Aanbidding erken dat Hy God is.

 

Verse 3 – 9 : Sewe keer word die stem van die Here beskryf. Die stem van die Here openbaar sy krag en almag! Die stem van die Here bring nuwe lewe en lewensvreugde! Die stem van die Here boesem ontsag in in die harte van mense wat sy stem kan hoor. Die storms, wat soms skade en ander kere nuwe lewe bring, openbaar altyd iets van die karakter van God. Die aarde bestaan meestal uit geweldige groot massas water. Die reën en storms bring ook nog groot massas water af vanaf die hemel na die aarde. In die krag van water hoor die gelowige dat God spreek van sy eie onmeetbare en eindelose mag. Die storms kom van bo en tref die aarde, dat die berge van die Libanon en selfs die hoë Hermongebergte (Feniciese naam: Sirjon) skud en bewe soos in ‘n aardbewing. Die weerligte steek die gras aan die brand en verldbrande laat sidder die mense. Die digter sien daarin nie net gewone natuurverskynsels nie. Dit is die Here se skepping wat voortdurend spreek. Hael slaan die bosse kaal, maar die reën bring nuwe lewe en laat die takbokke lam. Die gelowige sien in dit alles die handewerke van die Here. Dit heers oor die aarde, wat aan verganklikheid en skades onderwerp is, maar wat ook telkens nuwe lewe kry om die skades te oorwin. Die hemelinge en die gelowiges wat God met heilige ontsag aanbid, moet God se openbarings in ag neem en leer om na sy stem te luister. Sy stem self bring ontsag vir God. Hy is Jahweh, die een in wie lewe self is en wat alles instand hou. Sy naam is immers Jahweh! “Gee aan die HERE DIE EER VAN SY NAAM!” (v.2) Deur die natuurkragte openbaar Hy Homself as Jahweh, die LEWE! In die NT openbaar Jesus Homself aan die apostels as Jahweh, Woord van die Lewe en nog meer, die LEWE self! (1 Joh. 1:1-2)

 

Verse 10 – 11 : Die Here laat die storm verbygaan en kalmte bly oor. Dit is ook ‘n openbaring van die karakter van God. Hy is die God wat vrede gee. Hy werk nie net in die natuur nie, maar ook in die harte van mense. In sy krag en sterkte is Hy ook die ewige HEERSER, die Koning! Hy heers oor natuur en mense. Hy is veral Koning van sy volk. Daarom deel Hy sy eienskappe met hulle. Hy gee ook aan hulle sterkte. Hy seën hulle met vrede. Soos die stilte na ‘n storm, is die kind van God se hart telkens na ‘n openbaring van die Here. In sy hart kom daar telkens dieper rus en vrede namate die almag van God aan hom geopenbaar word. Alhoewel sy openbarings ontsag bring in die harte van sy kinders, bring dit nie vrees nie. Inteendeel, sy almag bring juis vir hulle veiligheid en vrede. Hy sal vir sy volk die twee belangrikste dinge gee wat hul nodig het om voort te gaan in die lewe: sterkte en vrede! Met krag en vrede wat van God af kom, kan die nietige mens met moed en rustigheid voortlewe! Hy moet altyd weer die stem van die Here hoor om dit te ontvang.

 

(Visited 105 times, 1 visits today)