Ps 37 Vertrou God ten aanskoue van voorspoed

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 37

 

VERTROU OP DIE HERE AS JY DIE VOORSPOED VAN DIE GODDELOSE SIEN

 

Psalm 37 is weer ‘n alfabetiese gedig, soos Psalm 25. Dit is geskryf as wysheidsliteratuur. Die digter skryf oor die gelowige wat swaarkry, teenoor die goddelose met wie dit voorspoedig gaan. As mens egter verder kyk, sien jy die voorspoed van die goddelose is tydelik en sy eie sondes straf hom later. Daarenteen sal die regverdige, wat nou swaarkry, eendag veilig woon. Die goddelose beplan altyd teen die regverdige. Hy wil hom altyd sonder rede skade aandoen. God sien dit egter raak, al lyk dit of Hy niks daaraan doen nie. Hy sorg dat hulle self oes wat hulle saai. (Gal. 6:7-8) Die gelowige hoef hom dus nie te veel te ontstel oor die planne en dade van die kwaaddoeners nie, want hulle sal vergaan en hul dade saam met hulle. Hulle is tydelik op aarde, terwyl die gelowiges vir ewig die aarde sal besit.

 

Vers 1 – 11 : Die gelowige moet die lewe op die regte manier en uit die regte perspektief benader. Dit sal hom help om nie toornig op die kwaaddoeners te word nie, maar liewer die Here te vertrou, wat tog alles in beheer het. Vertrou op die Here en doen wat goed is. Die goddelose vertrou nie op die Here nie, maar op sy eie skelm planne. Die gelowige moet egter voluit op die aarde leef, want die lewe is ‘n geleentheid om die Here te leer vertrou. As die goddelose ontrou is, leef jý dan goed. Laat die uiteinde aan God oor wat alles in geregtigheid bestuur. Verlustig jou in die Here! Die lewe bied nie net ‘n geleentheid tot kwaaddoen vir slegte mense nie, maar ook vir die regverdige om in alles God te dien, en in Hom jou vervulling te vind. Moenie jou vrede so verloor oor die slegte dade van die kriminele dat jy nie meer op God gerig is nie. Laat jou hele aardse bestaan, met al sy fasette, aan die Here oor. En vertrou Hom. Hy sal dit bestuur volgens die beste vir jou op die lang termyn. Moenie teen God in opstand kom as jy swaarkry nie; verwag dat Hy sal sorg. Moenie soos die kwaaddoeners raak deur kwaad te word en wraak te wil neem nie. God gee hulle tyd om hulle lewe te lewe. Dan sal Hy hulle straf, terwyl die regverdige se getrouheid beloon sal word. Hierdie lewe is die tydelike voorstadium van die lewe wat kom. Die keuses wat ons nou maak, bepaal die uitkoms en ons eindbestemming. Aanvalle deur mense gaan verby. Krisisse is altyd tydelik. Dit is toetse vir die kind van God om hom te leer om op die Here se getrouheid te wag.

 

Die digter gaan nou voort om prakties die goddelose se ingesteldheid en optrede te beskryf. Hy doen dit in drie lang paragrawe wat telkens begin met die woorde: “Die goddelose . . . “ Dit is in verse 12, 21 en 32. Ons gebruik dit ook vir die indeling van die volgende paragrawe.

 

Verse 12 – 20 : Hy beskryf nou die verskil tussen die gelowiges en die goddeloses. Die goddeloses wil altyd die regverdige vervolg en skade aandoen. Hulle is ook nooit tevrede met wat hulle het nie. Die gelowige is egter tevrede met min en is nie op materiële dinge ingestel nie. Hy ondervind die ondersteuning van die Here in alles. Hulle het ‘n ewige erfdeel waarop hulle wag. Die goddelose lewe vir tydelike en verganklike dinge, en sal oneerlik optree en ander vertrap om meer dinge te bekom. Op die ou end moet hul sonder die hulp van die Here klaarkom en kom hulle om.

 

Verse 21 -31 : Die regverdige word nou beskryf. Omdat hy op die Here vertrou, het hy genoeg aan die noodsaaklike dinge. Dikwels seën die Here hom nog meer as met wat hy nodig het, sodat hy ander kan help. Hy gee graag. Die goddelose het nie die sekuriteit van God se sorg nie. Dikwels werk sy planne nie uit nie en moet hy geld leen. Hy is egter so swak van karakter dat hy nie eers skaam is as hy nie terugbetaal wat hy geleen het nie. Op die ou end sal die getroues, wat God vertrou het, die aarde vir ewig besit. Die verskil lê in die toekoms. Hulle einde verskil.

 

Verse 32 – 40 : Die goddelose het ‘n natuurlike haat vir die regverdige en wil hom dikwels doodmaak. Die Here beskerm egter sy kinders dat niks buite sy wil met hulle sal gebeur nie. Ons moet sy weg hou en op Hom wag tot Hy ons verhoog. Dan sal ons op God se tyd ook sien hoe die Here reg laat geld teen die goddelose. Die voorspoed van die goddelose is tydelik. Wat hy hard aan gewerk het, kan hy nie vir ewig behou nie. Die kinders van God wat altyd vrede met ander mense gesoek het, het ‘n toekoms wat deur die betroubaarheid van die Here gewaarborg word. In tye van benoudheid help die Here hulle. Hy red hulle ook uit die aanvalle van die goddelose. Die gelowiges skuil by Hom en Hy verlos hulle. Daar is vir hulle ‘n ewige toekoms. Dit sal volkome vervul word in die nuwe aarde, waarin geregtigheid sal woon. (Open. 21) Amen!

(Visited 148 times, 1 visits today)