BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 38
VERGEWE MY EN GENEES MY
Dawid is oortuig dat sy siekte die tugtiging van die Here op sy sonde is. Siekte is nie altyd ‘n straf op sonde nie. Dikwels het dit maar net te doen met die feit dat ons deel het aan die verganklik-heid en is die oorsake medies van aard. Tog is siekte ook soms tugtiging weens sonde. Paulus leer dat ons vooraf deur God getugtig word sodat ons nie eendag by die wederkoms saam met die ongelowiges gestraf sal word nie (1 Kor. 11:30-32). In hierdie psalm erken en bely Dawid sy sonde en vra om vergifnis en genesing. Die berou oor sy sonde is alreeds meer as wat hy kan hanteer, en die wonde wat veroorsaak is deur sy sonde, is ‘n liggaamlike uitdrukking van wat in sy gemoed aangaan. God wat Hom met die siekte kasty, kan ook die siekte wegneem. Dit is dan ook een van die sewe boete-psalms waarin Dawid hom voor die Here verootmoedig oor sy sonde. Hy wag in geloof op die Here om hom te vergewe en te herstel. Toe die Messias baie later ons sonde op Hom geneem het, het Hy ook so die toorn van God op die sonde aan sy liggaam ondervind.
Verse 1-5: Sonde vertoorn altyd die Here. Die Here tugtig sy kinders, maar verwerp hulle nie. Siekte is een van die tugtigings- metodes wat die Here gebruik. Dit laat die gelowige die erns van sy sonde besef en ook die gevaar om weer daarmee te speel. Ons word dikwels mak vir sonde en so vervaag die besef dat my sonde opstand en rebellie teen God is. God se tugtiging kan lig of swaar wees. In Dawid se geval was dit swaar. Dit was so erg dat hy dit nie meer kon uithou nie. Daarom roep hy tot die Here om hom nie langer te pynig deur die vreeslike siekte nie.
- 6-11: Hy beskryf wat hy in sy liggaam ervaar weens sy siekte. Sy wonde stink vanweë sy dwaasheid. Sonde is altyd dwaasheid. Dit bring altyd ‘n geestelike depressiwiteit en kan ook ‘n geweldige effek op die liggaam hê. Deur sy liggaam se ervaring van die siekte, wil die Here hom die dwaasheid van sy verkeerde optrede dieper laat begryp. Sonder tug besef selfs die gelowige dikwels nie die erns van sy oortredinge nie. God tugtig ons na ons beswil en nie om ons te vernietig nie (Hebr. 12). Ons moet besef hoe belangrik heiligmaking is. Ons moet wegvlug van sonde. Soos siekte ‘n mens se liggaam swak maak, maak sonde die siel geestelik kragteloos. Die ontsteking van die liggaam is ‘n voorbeeld van hoe sonde die mens geestelik siek maak, en ook jou geestelike insig en onderskeiding laat verdof. In hierdie toestand weet Dawid egter dat die Here sy gesug raaksien en die begeerte om herstel in sy hart duidelik kan sien.
Verse 12-23: Selfs gelowiges verwerp hom nou omdat hulle weet sy siekte is ‘n straf op sy sonde. Die ongelowiges is weer bly dat God hom straf en begeer sy vernietiging. God is egter genadiger as die medegelowiges wat hom vol kritiek veroordeel, want Hy tug met liefde en met die oog op herstel. God is ook veel genadiger as sy vyande wat sy ondergang soek. Hy tugtig sy kinders tot behoud. Hy wil hulle leer en onderrig soos ‘n liefdevolle Vader. Hy is wel kwaad oor die sonde, maar vergewe en onderrig sy kinders dat hulle leer om meer gehoorsaam te word. Hulle leer deur ervaring dat sonde sinloos en dwaas is met slegte vrugte. Dawid bly in hierdie tyd liewer stil teenoor diegene wat hom kritiseer en veroordeel. Hy weet hy is skuldig. Hy sluit ook sy ore vir liefdelose kritiek en wag op die Here wat hom sal verhoor. Terwyl omstanders in hoogmoed kritiseer, bely hy sy sonde en is bekommerd oor die krag van sy ou natuur wat hom so laat oortree het. Sy vyande is sterk in hulleself en in hul eie geregtigheid. Mense kan soms uiterlik reg leef en hulself daaroor verhef bo dié wat gesondig het. Hulle kyk dan neer op die swakkeling wat gedoen het wat hulle tog nooit sal doen nie. Daar is baie sulke mense. Hulle vergoed egter weer goed met kwaad. Terwyl hulle hul van sekere sondes weerhou en daaroor trots is, doen hul ander sondes waarin hulle wreed en hard is op ander. Dawid jaag egter altyd die goeie na. Sy sonde was nie ‘n gewoonte nie, maar ‘n val, waaruit hy weer sal opstaan. God ken sy innerlike gesindheid – dat hy eintlik die goeie en regte dinge in die lewe najaag. God sal hom nie verlaat nie. Hy sal hom weer red uit sy sonde en sondeskuld. Die Here van die verbond, Jahweh, sal getrou wees aan hom, al was hy ontrou.