Ps 39 Gee vir my kwaliteitlewe

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS: Psalm 39

Gee vir my ‘n lewe van kwaliteit

 

Dawid het uit sy siekte, wat in Psalm 38 beskryf word, geleer dat sy lewe verganklik en nietig is. Juis daarom wil hy vir God laat dink aan sy broosheid, sodat Hy nie aanhou om hom so te tugtig dat die lewe net altyd vir hom swaar is nie. Die lewe van alle mense is verganklik, maar daarom ook kosbaar. Hy sien nie die nut daarvan om aanhoudend deur God getugtig te word nie. Hy wil graag nog ‘n kwaliteit-lewe lei waarin hy voluit mens kan wees. Hy besef nou sy eie nietigheid en verganklikheid en bid dat die Here nie sy lewe swaarder sal maak en kortknip weens sy sondes nie. Hy was nog nie heeltemal gesond nie en vra die Here moet nou die tugtiging ophef dat hy weer vrolik kan wees.

Verse 1-4: Dawid het siek geword weens die tugtiging van die Here oor sy sonde. Nou is hy ernstig om van sonde af weg te bly. Hy waak ook daarteen om nie opstandig teen God te word weens die langdurigheid van sy lyding nie. Hy “muilband” sy tong sodat hy nie onverantwoorde-like dinge teen die Here sê voor die goddeloses nie. Hy het in stilte sy lyding gedra, dat hy nie deur opstandige woorde oneer op God se Naam bring nie. Daardeur het hy alles opgekrop en bars dit nou uit in die woorde van die lied. Op ‘n geestelik verantwoordelike wyse praat hy met God oor sy worstelinge.

Verse 5-7: Dawid se siekte het hom dieper laat besef dat sy lewe soos ‘n paar handbreedtes is en dat hy in elk geval moet sterwe. Dit maak die mens nietig omdat hy nie self lewe kan skep of verleng nie. God bepaal wanneer ‘n mens sterf en kan as tugtiging van sy kinders voor die tyd wegneem. Soos ‘n skaduwee iemand afbeeld, maar eintlik niks is nie, so is die lewe en gewoel van die sterflike mens. Alles wat hulle op aarde doen, is ook besmet met verganklikheid. Dit wat jy bymekaarmaak, sal by jou dood hier agterbly en jy weet nie eers wie dit sal kry nie.

  1. 8-14: God alleen is ewig en onveranderlik. Daarom hoop hy op die Here. Hy sal nie teen God praat voor die dwase mense nie. Hy sal liewer met God self praat, want hy besef die tugtiging word deur God beheer en bestuur. God het die reg om die mens te tug. Juis omdat hy verganklik en nietig is, sal hy maklik vergaan onder die straf. Daarom moet God hom verhoor. Hy smeek met hulpgeroep en trane. Hy is totaal op God gewerp in sy nood. In sy nood is hy soos ‘n vreemdeling wat by mense aankom en hul hulp nodig het. Hy het geen reg daarop dat God hom moet help nie. Al is hy God se kind, is hy ‘n sondaar wat soos ‘n vreemdeling sonder verdienste om genade smeek. Soos die verlore seun wou hy bely: “Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor U, en ek is nie meer werd om U seun genoem te word nie; maak my soos een van U huurlinge.” (Luk. 15:18-19) Hy vra die Here moet tog sy oog, wat veroordelend na hom kyk, wegdraai sodat hy nog ‘n kans kan kry om met vreugde te lewe voor hy in elk geval moet sterf. Tweeduisend jaar gelede het God die Vader sy oog weggedraai en weggekyk, toe Sy eie Seun uitgeroep het: ”My God, my God, waarom het U my verlaat?” Daarom kan ons vandag vrolik wees en vrolik leef. Die bloed van Jesus reinig van alle sonde. Tog word ons ook nog in die Nuwe Testament getugtig as ons aanhou sondig (Hebr. 12). Maar in Christus hoef ons nooit weer soos ‘n vreemdeling by God te voel nie. Ons is erfgename in Christus en kan roep: ”Abba Vader!” (Gal. 4:6-7)

 

(Visited 130 times, 1 visits today)