BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 40
GOD IS GETROU IN NOOD
Dié psalm is ‘n samevattende getuienis oor wat Dawid oor God beleef en geleer het in tye van nood. Dit handel oor die feit dat die gelowige, wat op God vertrou, Hom as betroubaar sal beleef. Dawid word dan ook ‘n tipe van Jesus wat in tye van stryd altyd die wil van God wil doen, terwyl hy dan self die getrouheid van God beleef. Daarom word die psalm ‘n Messiaanse Psalm genoem, want dit is wat Jesus volmaak gedoen en beleef het toe Hy sy lewe geoffer het om die wil van God te doen. So was Hy gehoorsaam tot in die dood (Fil. 2). Dawid was daarin onvolmaak. Daarom moes hy nie net teen sy vyande stry soos Christus nie, maar ook teen sy eie sonde. Die stryd is ook nie verby nie. Hy bid egter met groot vrymoedigheid dat die Here altyd vir hom die oorwinning sal gee.
Die psalm bestaan uit twee dele:
Vers 1-13: Hy het vurig en met alle krag die Here verwag tydens sy nood. Die Here het Hom nie teleurgestel nie. God het hom uit die kuil van vernietiging opgetrek en op ‘n rots geplaas. Sy krisis was soos wanneer iemand in ‘n modderige put gegooi is en nie self daaruit kan kom nie. Die Here het hom van buite uitgetrek en oorwinning gegee. Hy vergelyk die oorwinning met die veilige staan op ‘n rots buite die bereik van sy vyande. Dit bring altyd ‘n spontane lofsang in sy mond. Elke oorwinning bring ‘n nuwe lied na vore, want elke uitredding is uniek en openbaar ‘n ander aspek van God as redder. Baie mense wat die kragtige uitredding van God sien, sal ‘n heilige respek vir God kry en ook leer om op Hom te vertrou. Die wonderdade van die Here in Israel se geskiedenis en Dawid se persoonlike lewe is so groot en heerlik dat die digter dit nie eers kan verduidelik nie. Dit maak dat hy daarvan wil getuig, maar dit is te veel om te vertel. Hy wil in alles God se wil doen en ook aanhoudend vir ander van God vertel. Hy doen dit ook. Vir God is gehoorsaamheid belangriker as die offers. Die Here het Dawid se oor oopgemaak dat hy kan luister en gehoorsaam. Dit is belangriker as brandoffers en sondeoffers. Die eerste offer is ‘n teken van volle oorgawe en die laaste is die offer vir vergifnis van sonde. Albei offers kan nie dit waarvoor hulle staan, in die mens bewerk nie. God moet aan die mens vergifnis gee, asook die wil om te gehoorsaam. Die twee offers gaan saam. Vergifnis van sonde moet saamgaan met die volle oorgawe van jou hele lewe aan God. Daarom het Christus dit wat die Gees deur Dawid gespreek het, kom vervul. In sy leerken van God het Dawid begin verstaan dat dit nie om die uiterlike offers gaan nie. Dit gaan oor dit waarvoor die offers staan. Dawid het sondevergifnis nodig gehad, sowel as ‘n hart van volle oorgawe. Hy was gewillig om God se wil te doen, maar het in die proses bewus geword van sy eie onvolmaaktheid. Maar sy begeerte om die wil van God te doen en die uitspreek daarvan is deur die Gees in hom gewerk. So spreek die Heilige Gees dan ook wat Christus deur Hom wil sê. Op die ou end sal Christus self kom as die Ewige Dawid om die wil van God te doen deur volmaak te gehoorsaam, in volle oorgawe aan God te leef en die offer te bring wat nodig is vir die vergifnis van sonde (Hebr. 10). Dawid sal bly getuig oor die geregtigheid en getrouheid van die Here, ten spyte van sy eie onvolmaaktheid! Christus sou die geregtigheid en getrouheid van God direk kom vervul, openbaar en uitdeel. Laat ons daarvan nog meer en kragtiger getuig. Laat ons van die wonder van Sy vergifnis en beskerming getuig te midde van ons onvolmaaktheid. Ons het immers deel gekry aan Jesus se geregtigheid en is volmaak in Hom.
- 14-18: Dawid bid nou weer vanuit sy ervaring van God se trou en uitredding in die verlede. Hy weet die stryd is nog nie verby nie. Hy sal weer God se vergifnis, uitredding en beskerming. nodig kry. Hy vra dat hulle wat sy lewe soek, self in die skande sal kom en rooi van skaamte word. Dit is ook vervul in Christus in Getsemane, toe hulle wat Jesus gevange wou neem, agteroor geval het van skaamte en vrees. Laat dié wat die Here soek, egter bly en selfs vrolik wees oor die verlossing van die Here waaraan hulle deel het. Dié wat die heil (verlossing) van die Here hul liefde en vertroue maak, sal die grootheid van die Here beleef en besing! Hulle sal oral daarvan getuig. Die Here is die hulp en redder van hulle wat nie sterk in hulself is nie, maar wat op sy redding en hulp alleen vertrou.