Ps 41 God bly getrou al is vriende ontrou

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 41

AL IS VRIENDE ONTROU, GOD BLY GETROU !

Die psalm sluit aan by die vorige twee en het dieselfde stryd as agtergrond. Dawid was siek en het ‘n skynheilige besoek van vriend(e) ontvang. Die vriend(e) wat altyd naby aan hom was, en mense op wie hy vertrou het, se ware gesindheid kom nou na vore, terwyl Dawid hulpeloos siek is en dit lyk of hy gaan sterf. Hulle het hom besoek onder die voorwendsel dat hulle omgee, maar praat dan agter sy rug dinge wat wys dat hulle eintlik sy dood begeer. Soos altyd wend Dawid hom na die Here vir hulp teenoor sy teenstanders. Hy self was opreg teenoor ander mense wat hulpeloos en arm was. Hy het nie op mense getrap wat in hul hulpeloosheid en nood weerloos was nie. Tog tree van sy vriende nou so teenoor hom op. God is egter getrou en sal hom help omdat hy nie so oneerlik en skynheilig soos sy vyande is nie.

Verse 1 – 4 : Die Here sien die opregtheid van gelowiges raak in hul optrede teenoor hulpbehoewende mense. Die Here sal hom in die lewe hou as goddeloses hom sonder rede en buite sy wil doodmaak. Hy sal aan hom geluk gun wanneer die vyand ongeluk teen hom beplan. Selfs as hy siek is, sal God bepaal wat met hom gebeur. Hy sal hom nie aan die begeerte van sy vyande oorgee nie. God sal self bepaal wat met hom gebeur. As sy vriende hom dan nie ondersteun nie, sal die Here dit doen. Sy siekbed sal ‘n ontmoetingsplek met God word.

Verse 5 – 10 : Teenoor die ongenadige hardheid van sy vyande, is God genadig. Hy bely sy sonde en roep om genade. Sy siekte was die tugtiging van God oor sy sonde. Noudat hy lê, wil sy vyande van sy weerloosheid misbruik maak en hom vertrap. Hulle praat agter sy rug en beswadder hom. Hulle harte is vol boosheid, valsheid en oneerlikheid. Selfs vriende van hom openbaar nou hul agterbaksheid en skynheiligheid. Hulle bedink onheil en wil hom dood hê. Dit is hoe onregverdiges altyd teen regverdiges sal optree. Daarom het hulle veral teen Christus, die Regverdige, so opgetree. Die kind van God sal nog verder teleurgestel word. Soms sal sy vriend sy vyand word. Hy kan vir jare soos ‘n staatmaker voorkom op wie jy kan vertrou. Dan, wanneer jy hom op die nodigste het, stel hy teleur en verraai jou. So wys hy sy ware kleure. Dit het ook met Christus gebeur. Dit kan ook met Nuwe Testamentiese gelowiges gebeur. Dit moet hom nie so skok dat hy moedeloos word nie. Hy moet na die Here kyk, wat altyd getrou is en hom nooit in die steek sal laat nie.

Verse 11 – 14 : Teenoor sy vyande is God betroubaar. Dawid bid met vrymoedigheid tot Hom. Hul optrede teenoor hom is niks anders as die stryd tussen lig en duisternis nie. Sy vyande is God se vyande. Hy vra nie om hulp vir eie gewin nie. Dit is ‘n stryd teen die vyande van God. Daarom wil hy ’n instrument wees in die hande van die Here om hulle te oorwin. Jahweh is die Verlosser in die stryd, soos sy Naam openbaar. Die God van die verbond sal die ware verbondskinders tot hulp kom. Die vyand sê hy sal nie weer opstaan nie. Hy weet God sal dit bepaal; nie hulle nie. Inteendeel, God se eer is hier op die spel. Daarom sal God hom ondersteun. Hy weet waarom dit vir Dawid in sy hart gaan. Hy is opreg met God en leef in die teenwoordigheid van God. Hy sal Dawid vir ewig in sy teenwoordigheid laat lewe. Hierdie vertroue op God lei tot lofprysing: ”Geloofd sy die Here, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! Amen!

 

(Visited 77 times, 1 visits today)