Ps 42 en 43 Verlange na God en hoop op God

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 42 – 43

VERLANGE NA GOD EN HOOP OP GOD !

Hierdie psalm begin die tweede deel van die psalms, naamlik Psalms 42 – 72. Psalm 42 – 43 was baie waarskynlik een psalm. Die digter was heel moontlik in ballingskap, waar sy vyande hom terg en vra: ”Waar is jou God?” Hy was nie meer naby die tempel en die heiligdom nie, en het van God verlate gevoel. Dit maak sy siel onrustig en moedeloosheid dreig om oor te neem. Hy hoop egter nog steeds op God en sy verlossing, en dit maak hom weer rustig.

Verse 1 – 3 : Soos ‘n bokooi dors na die waterstrome by die Hermonberge, so verlang sy siel na God self. Hy verlang na die tempel om God daar te aanbid. Omring van die nasies se afgode, verlang hy nog meer na die lewende God. Terwyl die vyand hom spot, dink hy terug aan die tye toe hy singende saam met die skare na die huis van God gegaan het.

Verse 6 – 12 : Die vele verlossinge waarmee God (Elohim, die Almagtige) Israel telkens weer verlos het, maak dat hy nog steeds op God bly hoop. Soos die waters uit die berge noord van die Jordaan met geraas van golwe afloop na die rivier, het rampe oor hom gekom. God het die golwe toegelaat. God self bly egter, ten spyte van die omstandighede, die rede waarom hy nog steeds kan sing en bid. Dit raak ondraaglik weens die gespot van die teenstanders wat bly terg: ”Waar is jou God?” Hoe sal hulle verstaan dat as God sy volk in ballingskap laat gaan, Hy steeds nie sy volk verwerp nie, maar dat Hy hulle net tugtig! Daarom sal Hy weer verlossing stuur. God bly egter die Rots vir die digter en vir die volk. Die geestelike waarheid oor God moet die siel van die gelowige optel bo neerdrukkende omstandighede. Die geestelike krag van geloof in God moet die denke en emosies van die digter beheer sodat hy nie toegee aan neerslagtigheid nie. As die gelowige regtig op God vertrou, is daar geen rede vir onrustigheid nie. Die digter praat met sy eie siel daaroor. Hy bemoedig homself: ”Hoop op God, want ek sal Hom nog loof!”

Ps. 43 : 1 – 5 : Hy bid nou direk en spesifiek vanuit sy vertroue op God. God moet sy saak verdedig teen die vyande, wat in elk geval vol bedrog is. God is sy toevlug! Waarom moet die verdrukking van die vyand aanhou, terwyl dit eintlik vir God is wat hulle tart? In moeilike tye van geweldige aanvegtinge moet die gelowige sy denke nugter rig op die waarhede van God se Woord oor Homself. Dan moet sy hart daarop bly vertrou. Hy soek persoonlike leiding van God. Persoonlike leiding van God aan die gelowige bring rus in die moeilikste omstandighede. God sal weer Sy kind teruglei na intieme gemeenskap met Hom. Hy beleef nou dat God ver weg is, maar weet hy kan steeds op God hoop. God sal verseker uitkoms gee, al neem dit nog ‘n rukkie. Hoop is ‘n vaste sekerheid dat God in die toekoms sy volk sal verlos. Dit maak dat die digter weer sy eie siel aanspreek en beveel om kalm te bly. Dit is geloof. Drie keer vra die digter sy eie siel waarom hy neerslagtig is. Drie keer gee hy self die antwoord: ”Hoop op God!” So het God ook die finale verlossing in Christus gestuur vir die volk wat op Hom gewag het. So sal Hy ook vir die Nuwe Testamentiese kerk die finale verlossing van sy vyande bring. As die gelowige persoonlike verlossing uit enige situasie beleef, besef hy of sy altyd weer: Omdat Hy my God is, sal Hy altyd verlos en ek sal Hom loof!

Die verlossinge wat God aan sy kinders gee, openbaar altyd aspekte van sy almag op ‘n dieper manier aan hulle. Dit leer hulle om in die toekoms nog meer op Hom te vertrou. Elke verlossing is ‘n nuwe geleentheid om God te loof. So kry Hy die eer wat Hom toekom. Ons verleentheid word God se geleentheid! Krisisse en bedreiginge versterk ons verlange na God en na sy ingryping. So laat God ons groei in vertroue op Hom sodat ons uit ondervinding vir ons eie siel kan sê: ”Hoop op God!”