BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 44
HELP ONS TEEN ONS VYANDE – SOOS VROEËR !
Die volk word sonder rede deur vyande vervolg. Hulle was nie afvallig, sodat God hul op so ‘n wyse kon straf nie. Daarom verstaan hulle nie waarom hulle vyande hulle oorwin nie. Nog minder verstaan hulle waarom God hulle nie gehelp het nie. Hulle vertrou juis nie op hul eie wapens nie, maar op God. God het hulle egter nie gehelp nie. Hulle vaders het hulle van oorwinnings in die verlede vertel. Nou beleef hulle egter nie dieselfde nie. Al wat hulle kan doen, is om in hulpeloosheid na God te roep om sy verbondsgetrouheid weer te openbaar soos in die verlede. As dit nie gebeur nie, sal die nasies dink God kan nie help nie en Israel sal verleë staan voor die nasies.
Verse 1 – 9 : Die groot dade van God is aan die nageslag vertel, soos God beveel het hulle moet doen (Deut. 4). Met hul eie ore het die huidige geslag dit van hul vaders gehoor. God het die nasies uit die land verdryf om vir sy volk plek te maak. Dit het op so ‘n wyse gebeur dat die volk kon sien dit was alles ‘n wonder van God en nie te danke aan hul eie wapens en venuf nie. Dan is dit mos logies dat God dit ook vir die huidige geslag sal doen. Op grond van die getuienisse van die verlede vertrou hulle God nou vir die huidige situasie. Die digter spreek namens die volk hul vertroue op God uit. God is Israel se Koning en gebied die oorwinning. In sy Naam sal hulle oorwin. As hulle aan die geskiedenis terugdink, het hulle rede om God alreeds in die geloof te loof vir die oorwinning wat Hy gaan gee.
Verse 10 – 17 : Hul geloof bring egter nie die oorwinning soos hulle gehoop het nie. Hulle belewenis is die teenoorgestelde en hulle verstaan dit nie. God trek nie saam met hul leër uit nie en hulle is deur die vyand teruggedryf. Die vyand plunder alreeds na hartelus, terwyl die soldate van die Here terugval. Die harde praktyk toon dat God hulle nie help en beskerm nie, maar alleen laat. Die nasies spot nou met die volk van God weens hul nederlaag. Die skande raak te veel vir hulle wat op die Here vertrou het en deur Hom in die steek gelaat is. Geloof bring nie die verwagte resultate soos in die verlede nie. Nie omdat daar by hul vertroue op God iets kortkom nie, maar omdat God nie volgens sy beloftes handel nie. Hulle staan verleë voor hul vyande oor hoe God hulle nou in die steek laat.
Verse 18 – 27 : Al lyk dit of God hulle aan hulself oorgelaat het, het hul harte nog nie begin wantrou nie. Hulle verstaan net nie wat gebeur nie. Dit is tog onmoontlik dat God ontrou kan wees. Hulle gee hul ook nie in terleurstelling oor aan opstand teen God nie. Hulle verval nie in sonde nie. Hulle bly praat liewer met God. Al lyk dit of God hulle in die steek gelaat het, bly hulle vertrou. Al het God hulle vergeet, vergeet hulle nie vir God nie. Hulle bly dus vertrou en bring hul probleem in gebed na God. Hulle het nie tot ander gode gebid nie. Al verstaan hulle nie alles wat God toelaat nie, bly hulle op God vertrou, want Hy weet meer as hulle en ken die geheime van harte. Dis onmoontlik dat God nie hul opregtheid en getrouheid kon raaksien nie. Hulle word juis vervolg omdat hulle die volk van God is. Hulle word deur die vyand as slagskape gereken. Paulus en die vroeë Christene het dit eeue later net so ondervind (Rom. 8:36). Nie altyd is die aanvalle van die vyande God se straf op sy volk nie. Dikwels is dit deel van die vervolging wat sy volk moet deurmaak om vir Hom te ly. As die gelowiges ly omdat hulle die volk van God is en regverdig lewe, is dit deel van die stryd van die lig teen die duisternis. Dit is ‘n geestelike oorlog. God laat hierdie vervolging toe en bepaal in watter mate sy kinders vir Hom sal ly. Elkeen moet dan sy deel dra van die ontberings wat die oorlog meebring (2 Tim. 2:3).
Die kinders van God roep dan nog steeds om verlossing, terwyl hulle ly. God verberg nie sy aangesig nie, maar beheer en monitor die vervolging sodat dit ook dien tot die verdieping van hul geloof. Die vyand kan niks aan die kind van God doen wat God nie toelaat nie. Vervolging en lyding deur haters van die kinders van God kan hul egter nooit van die liefde van God skei nie (Rom. 8:35). Die gelowiges wat ly, kan egter bly roep om uitkoms. Op God se tyd sal Hy die vyand verdryf en straf. Intussen moet hulle getrou bly in die vervolging, soos hulle wel tot nou toe gedoen het. Wanneer die gelowiges wat saam met Hom gely het, se lyding (soos deur Hom bepaal) verby is, sal hulle deel in die oorwinning en heerlikheid van hulle God. By die wederkoms sal dit ten volle en finaal gebeur! “Vrees nie vir wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die kroon van die lewe gee.” (Open. 2:10)