Ps 45 Bruilofslied vir die Messias

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 45

BRUILOFSLIED VIR DIE MESSIAS

Dié psalm is ‘n lied vir die Koning van die konings se bruilof wat plaasvind saam met sy troonsbestyging. Dit gaan oor ‘n aardse koning wie se skoonheid en heerlikheid groter is as dié van ‘n mens. Die Koning is vir ewig deur God geseën en self is Hy ook God. Sy septer is ewig en regverdig. Die digter het ‘n bonatuurlike openbaring van die Koning gehad en daarom word sy tong soos die pen van iemand wat vining moet skryf, want soos uit ‘n fontein vloei die gedig om die Koning te beskryf en te verheerlik! Die psalm bestaan uit sewe dele, wat ook die Goddelikheid van die Koning beklemtoon. Die gedig gee roem aan ‘n aardse koning, maar gaan dan bo dit uit en verkondig die heerlikheid van die komende Messias.

Verse 1 – 2 : ENTOESIASME VIR DIE KONING

digter gee uitdrukking aan die vreugde by die Koning se troonsbestyging en huweliksfees. Sy hart is soos ‘n fontein waaruit goeie of blye woorde stroom. Wat hy verkondig, is ‘n gewigtige en belangrike saak. heerlikheid en wonder van hierdie Koning is goeie nuus wat verkondig en besing moet word.

Vers 3 : DIE KONING SE SKOONHEID

Die rede vir die opgewondenheid is die skoonheid van die Koning uit wie se mond genade en vriendelike woorde kom. Daarom seën God die Koning. Sy karakter en skoonheid is veel meer volmaak en voortrefliker as dié van ‘n gewone mens.

Verse 4 – 5 : DIE KONING SE OORWINNING

Die Koning word aangemoedig om sy Koningskap te laat geld, juis omdat Hy so ‘n wonderlike Koning is. Met sy swaard veg Hy vir drie belangrike dinge wat in volmaakte harmonie in ‘n regering moet wees om dit regverdig te maak: waarheid (wat seker en stabiel is), ootmoed (sagmoedigheid) en geregtigheid (dit wat reg is). Die nuwe vertaling stel dit baie mooi: ”Kom Held, maak U reg vir die stryd, kom in koninklike luister. Mag U oorwin. Knoop die stryd aan vir die waarheid en vir die reg van die hulpelose. U is geroepe tot magtige dade.” Aan die Koning is alle gesag in die hemel en op die aarde gegee (Mat. 28:18). In sagmoedigheid sal Hy geregtigheid laat geskied (Jes. 9:5-6). Daarvoor wens sy onderdane Hom vooruitgang en sukses toe in sy stryd. Sy oorwinnings is deel van sy heerlikheid.

Verse 6 – 10 : DIE KONING SE REGVERDIGHEID EN HEERLIKHEID

Die Koning oorwin met sy swaard, want Hy tref die vyande in die hart (Hand 2:37-39). Al die volke word aan Hom onderwerp. Die Koning is vir ewig deur God aangestel as Koning en heers regverdig. Hy veg omdat Hy regverdigheid liefhet en goddeloosheid haat. Daarom is Hy vol blydskap as Hy oorwin. Sy klere is so deurtrek van die heilige salfolie dat die salfolie as’t ware sy bekleding self is. Die geur van salfolie saam met musiek gee luister aan die fees en beeld die vreugde van sy heerskappy en Bruidegomskap uit. Die Koning is ook Bruidegom. Sy bruid staan aan sy regterkant en kry nou die status van Koningin, wat saam met Hom sal regeer. Haar klere is met fyn goud uitgewerk. Sy is daar vir Hom en vestig die aandag nog meer op sy majesteit.

Verse 11 – 16 : DIE BRUID SE TOEWYDING AAN DIE KONING

Die bruid word toegespreek. Die bruid moet haar volk en familie verlaat om haar ten volle aan die Koning te verbind en toe te wy. Maar vir die prys wat sy daarvoor betaal, ontvang sy veel meer. Sy moet haarself ten volle aan die Koning oorgee, maar kry juis só deel aan sy heerlikheid. Weer word gesê dat haar klere met goud deurweef is. Dit wys dat sy deel kry aan die koninklike status omdat sy die Koning se bruid word. In die Nuwe Testament is goud ‘n simbool van geloof. Sy word deel van die Koning se paleis. Die huweliksplegtigheid word gekenmerk deur groot vreugde en gejuig.

Verse 17 – 18 :

Die Koning word nou weer toegespreek. Die koningskap sal nooit tot niet gaan nie. Die kinders uit die huwelik moet die koningskap voortdra. Die Koning sal seuns hê wat die koningskap vir ewig sal bevestig. Die Naam van die Koning sal dus deur al die volke vir ewig geloof word. God het belowe dat daar altyd iemand uit die nageslag van Dawid op die troon van Israel sal sit (Ps. 132:11-12). Dit is in Christus vervul. Hy alleen kon die profesie van die psalm vervul. Hy alleen was mens uit die koninklike nageslag van Israel, en ook God. Ons, as sy seuns en dogters, sal saam met Hom heers. (1 Petr. 2:9; Open. 2:26-27)

(Visited 80 times, 1 visits today)