Ps 46 Hooglied van die geloof

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR PSALMS : Psalm 46

DIE HOOGLIED VAN DIE GELOOF!

Dié psalm word genoem DIE HOOGLIED VAN DIE GELOOF! Dit is ‘n hoogtepunt in die Bybelse liriek. Dit is ‘n lied oor die betroubaarheid van God, wat maak dat die gelowige veiligheid en vastigheid by Hom alleen vind, ten spyte van alle omstandighede. Selfs die vastigheid van die hemel en die aarde hang van God af. Hy is die ewige Vaste Veiligheid waarop ons kan vertrou. Vanuit hierdie psalm het Martin Luther die bekende psalm “’n Vaste Burg is onse God” geskryf. Die psalm het moontlik ontstaan uit die verlossing van Jerusalem uit die mag van Sanherib (Jes. 36). Dit is ‘n viering van God se koningskap oor die wêreld. Die psalm is ‘n belydenis van geloof op grond van vaste feite oor God se krag en beskerming.

Verse 1 – 4 : God is ‘n skuilplek en bron van krag vir die gelowige. Die volk se vastigheid en veiligheid lê nie in Jerusalem se mure of selfs die vastigheid van die aarde nie. Al sou die aarde en die berge wat stewig lyk, vergaan, sal God nog altyd daar wees as onverganklike sekuriteit en die Een wat totale beheer oor die skepping het. Al is die see ook hoe onstuimig en dreig hy om met magtige golwe alles te vernietig, IS God soewerein en in volle beheer. Hy is reeds in die geskiedenis met sy volk in ‘n hoë mate beproef as betroubaar. Selfs ‘n magtige kosmiese ramp is onder sy volle beheer.

Verse 5 – 8 : God se teenwoordigheid bring kalmte in Jerusalem, te midde van bedreiging. Die stroompies in die Godstad staan teenoor die onstuimige see. Dit is ‘n teken van God se stille, maar kragtige teenwoordigheid wat lewe bring. Die geestelike lewe wat uit die teenwoordigheid van die Here vloei, is kalm en vol vertroue in die Allerhoogste. God is binne-in die stad. Hy spreek en skep verlossing met sy stem. Sy stem verdryf die vyand! Sy stem laat die aarde bewe! Jahweh is die Verlosser wat mét sy volk is. As God vir ons is, wie kan teen ons wees? (Rom. 8:31) Hy is die Here van die leërskare! Sy onsigbare krag is sterker as die sigbare gedruis van die nasies. Sy onsigbare engele is sterker as die sigbare soldate van die vyand. Hy, God die Almagtige, is ‘n rotsvesting vir die nageslag van Jakob, aan wie Hy met ‘n verbond verbind is.

Verse 9 – 12 : Die digter nooi die nasies om te kyk na God se “verlossings-getuienis” uit die verlede. Sy dade staan duidelik oor die wêreld uit as die optredes van God self en nie dié van ‘n mens nie. Dis nie die moeite werd om teen God te probeer stry nie. Hy kan oorloë laat ontstaan of stop. Hy is nie op die mens se vlak nie. Hy is hoog bo die nasies en sy optredes bewys dit. Hy het aan sy volk met ‘n verbond belowe dat Hy altyd met hulle sal wees . (Gen 48:21, Deut. 4:31). Dit is hul troos en veiligheid. God self praat in v. 11: ”Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde”. Al die nasies saam is klein teenoor Israel se God. Hierdie God is met sy volk! Dit is die kern van hul rustige vertroue. Dit is rede om te sing! Die Here van die leërskare se teenwoordigheid in die midde van die volk, is hul veiligheid. Hy is die onveranderlike en vaste Rotsvesting, want Hy is die God van Jakob. Soos Hy met Jakob was en sy beloftes aan die aardsvader nagekom het, sal Hy met die nageslag van Jakob wees en sy beloftes van versorging en beskerming vervul.

(Visited 74 times, 1 visits today)