BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 47
GEE EER AAN DIE KONING VAN DIE NASIES
Hierdie psalm is ‘n lied van oorwinning! As God aan Israel die oorwinning gee teen hul vyande, word die ander nasies gedwing om te erken dat God Koning is oor die hele aarde. Hy is die Allerhoogste en moet deur die hele wêreld geëer en geprys word. Al het Hy Israel tussen al die nasies uitgekies om sy volk te wees, wou Hy nie die ander nasies daarmee verwerp nie. Hy wou en het Hom juis deur sy verhouding met Israel geopenbaar aan al die nasies, sodat hulle Hom ook kan leer ken. Hy is die God van die hele wêreld en al die nasies moet Hom as Koning leer ken. Die psalm sluit nou aan by die vorige een, aangesien albei vanuit God se verlossingsdade God se lof wil verkondig en Hom die eer wil gee wat Hom toekom.
Verse 1 – 5 : Alle volke word opgeroep om God met gejuig te eer! Met handeklap gee hul uitdrukking aan hul respek vir God en hul blydskap oor Hom as Koning. Wanneer konings aangestel is en hulle die troon bestyg, het dit gepaard gegaan met groot gejuig en blydskap! Die koning se nuwe regering het ‘n tyd van hoop en verwagting ingelui. Hoeveel te meer die hemelse Koning. Sy koninkryk bring ewige oorwinning. Dit sou in Christus finaal vervul word. So moet God geprys word as die Allerhoogste. Hy dwing ontsagwekkende eerbied en respek (vrees) af deur sy magtige dade. Deur sy verlossingsdade toon Hy sy oneindige grootheid bo alle aardse konings. Sy optrede het gemaak dat nasies aan Israel onderwerp is. Hy plaas hulle onder sy volk se voete. Hy het hulle erfdeel vir hulle uitgekies en ‘n land aan hulle gegee waarop hulle trots kan wees.
Verse 6 – 8 : Na die Here se oorwinning in die stryd, vaar Hy op om weer op sy troon te gaan sit en te heers vanuit sy afgehandelde oorwinning. Net soos die aardse konings na ‘n oorwinning weer opgegaan het en rustig in die paleis gaan woon het, so vaar die Here op om te regeer, maar as die Koning van die hele aarde. Nou word die verbondsnaam Jahweh gebruik om aan te toon dat dit die Verbondsgod van Israel is wat hulle verlos het, en wat egter ook Koning van die hele aarde is. Die basuin blaas om sy heerlikheid as Koning te proklameer. Almal word opgeroep om met psalms tot eer van die Koning, wat opgevaar het, te sing! Psalmsing is ‘n wyse van eer aan God wat Jahweh (heerser) is. Weer word die rede vir die lofprysing gegee: God is Koning oor die hele aarde. Die lofpsalms moet ook lering gee oor wie God is. Gelowiges sing die waarhede van God se openbaring, en nie net klakkelose emosionele liedere nie. Elke lied het ‘n boodskap. Dit gee die rede vir die gejuig in lering weer. Daar is goeie rede vir die lofprysing! Dit is onderwysing oor God in die vorm van aanbidding. Almal moet weet God is Koning oor die hele aarde. Almal moet meer en meer verstaan wat dit beteken. Hy moet erken en geëer word vir wie Hy is en wat Hy doen.
Verse 9 – 10 : Die boodskap oor God moet duidelik aan die hele wêreld verkondig word! God regeer oor die nasies. Hy sit op sy heilige troon. Sy hoogheid word veral vertoon deur sy absolute heiligheid. Sy troon is heilig. Dit is afgesonder van enige onheiligheid of ongeregtigheid. God SIT op sy troon. Hy het sy vyande finaal oorwin. As gevolg van daardie oorwinning heers Hy oor alles en almal. Net in Christus kon dit vervul word. Hy het opgevaar en in heerlikheid gaan sit na die finale oorwinning aan die kruis (Hebr. 10:12). Die sit op sy troon dui op totale heerskappy sonder bedreiging. Niemand kan sy heerskappy ooit weer bedreig nie. Jesus het gesê: ”Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde!”
Die leiers van alle volke sal aan hierdie Koning eer en lof toebring! Hy is nie net Israel se God nie, want deur Abraham sal al die nasies van die aarde geseën word (Gen. 22:18). Aan Israel se God behoort al die skilde van die aarde. Hy het gesag geneem oor alle vorms van gesag. Hy is hoog verhewe bo alle vorms van aardse heerskappy. Die feit dat die aardse konings die knieë voor Hom sal buig, bring nog groter eer aan Hom toe.
Hy is die Koning van die konings en die Here van die Here!
Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is! (Fil. 2:9-11)