BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 48
GOD SE TEENWOORDIGHEID GEE VEILIGHEID !
Hierdie psalm sluit aan by die vorige, deur God te eer as die veilige Vesting van sy volk, na onlangse verlossing van ‘n gekombineerde aanslag van verskillende konings met hul leërs. Die stad van God se beskerming is God self en nie sy goeie en hoe hoë mure nie. Nou waardeer hulle die heerlikheid van die stad nog meer! Jerusalem is God se stad omdat Hy gekies het om daar te woon. Hy woon op die berg Sion. Soos Sion ‘n bergvesting is wat vasstaan, so is die God van Israel wat daar woon. Hy is die Koning van Israel en op Sion is sy paleise. Hy is alle lof waardig, want Hy gee aan sy volk ewige sekuriteit en beskerming. Die veiligheid wat God gee, bring nog groter heerlikheid aan die stad toe. Alle nasies kan die God van Israel só leer ken: Hy oordeel regverdig en Hy beskerm dié wat op Hom vertrou.
Verse 1 – 3 : Die hoofgedagte van die loflied is die onaantasbaarheid van die stad van God, omdat God daarbinne woon en die stad beskerm. Die Here is groot en verdien alle lof! Wanneer die pelgrims Jerusalem genader het uit die omringende laagliggende gebiede, het die stad hoog gelê, en veral die berg Sion aan die noordekant, wat gesien is as die woonplek van God. Die stad wat geografies hoog lê, was ‘n beeld van die geestelike heerlikheid van die openbaring van God wat sigbaar was vir al die nasies. Hy het Homself openbaar in die uitreddings en oorwinnings wat Hy aan Israel gegee het. God se openbaring vanuit Sion voor die oë van die nasies, is geestelik hoog verhewe bo dié van die afgode. Sion is die ware berg van God en ‘n afbeelding van die hemelse Sion waar God woon. Die suiwer openbaring van God bring ware vreugde in die harte van almal wat dit glo en aanneem. Die God van Israel is die Koning van die aarde. Daarom word Hy genoem: DIE GROOT KONING!
Verse 4 – 9 : In die onlangse vernietiging van die vyande van Israel, het die Here Homself geopenbaar as die Beskermer van Sion. Hy woon in die pragtige paleise wat van ver af gesien kan word. Die alliansie van heidense konings wat teen Jerusalem opgetrek het, het in verbasing die stad se heerlikheid aanskou en van vrees in angs weggevlug. Dit kan moontlik verwys na God se magtige ingryping teen Sánherib (2 Kon. 18-19 ). Soos die gevaarlike oostewind die groot en magtige skepe van Tarsis (uit Spanje) kon vernietig, so het die vrees van die Here die magtige koalisie van leërs verdryf. God self het vir sy volk geveg, en sy stad en sy woonplek beskerm. Die oorwinning is oral verkondig en die pelgrims aanskou nou die heerlikheid van die Godstad met nuwe bewondering as hul opgaan na die stad.
Verse 10 – 15 : Die pelgrims dink met heilige respek na oor die goedheid van God wat in die tempel openbaar word en in sy beskerming ondervind word. Deur sy verlossingsdade maak God Hom bekend aan al die nasies sodat hulle kan sien Hy is die God wat getrou is aan sy Naam. Hy is God, die Almagtige en Here, die Verlosser. Hy tree op in geregtigheid en is nie vol onreg-verdige eise soos dié van die afgode, wat altyd tot sonde en ongeregtigheid lei nie. Sy regterhand is vol geregtigheid. Hy openbaar dit in sy optredes teenoor al die nasies vanuit Sion. Daarom het Israel rede om te juig! Die regverdige oordele van God word in sy optredes duidelik sigbaar. Daarom kan God se volk bly wees en juig. Hulle het die onverdiende voorreg om die instrument te wees waardeur God Hom openbaar aan die hele wêreld. Hulle stad is die stad wat God uit al die stede uitgekies het om in te woon. Dit het niks met hulle goedheid en verdienste te doen nie. Dit was God se keuse om aan hulle hierdie voorreg te gee. Israel moet hierdie voorreg raaksien en waardeer. Die digter roep die volk op om weer rondom die stad te beweeg en deur sy paleise te stap en sy torings te tel, en dit raak te sien as die sigbare uitdrukking van die vervulling van God se beloftes aan Abraham, Dawid en die hele verbondsvolk. Dit is vaste bewyse van die feit dat God werklik hulle God is, en dit vir ewig sal wees, soos Hy beloof het (Gen. 17:7). Hy sal sy volk lei op die pad wat Hy met hulle wil loop in die vervulling van die beloftes van die ewige verbond. Elke gelowige kan weet dat God tot in die dood en na die dood met Hom sal wees, want Hy is vir ewig hulle God!