BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : PSALM 49
MOENIE OP RYKDOM VERTROU NIE
Hierdie psalm het ‘n boodskap vir alle volke en vir alle mense van elke volk. Dit is dwaas om op rykdom te vertrou. Net so dwaas is dit om vir ryk mense bang te wees. Materialisme is ‘n universele probleem. Die mens neig nou maar een maal om besittings te vergader en op die hoeveelheid daarvan te vertrou. Dit gee hom die onrealistiese gevoel van sekuriteit en mag. Hy dink later dat dit vir ewig so sal gaan en besef nie dat geld jou nie ‘n permanente lewe op aarde kan gee nie. Almal moet eenmaal sterf. Materiële besittings is tydelik en verganklik, net soos die aardse lewe self. Die mens se siel het egter ewigheidswaarde. Geen geld is genoeg om vir die ewigheidswaarde van ‘n siel te betaal nie. Daar is net twee eindbestemmings in die doderyk: dié van lig of dié van duisternis. Die mens wat nie daarvoor gereed maak nie, is so dom soos ‘n dier wat vergaan.
Verse 1 – 5 : Die psalmis wil ‘n dringende boodskap oordra aan alle mense van alle volke. Hy praat van ondervinding, want hy het self wysheid geleer uit wat hy met ryk mense beleef het. Die voorspoed van die goddelose is altyd vir hom ‘n struikelblok, want hy vertrou daarop en dink dat hy ander mense daardeur kan manipuleer en beheer.
Verse 6 – 16 : Die verstandige vrees nie mense met rykdom nie, want hy vertrou op die Here. Die dwase vertrou op die hoeveelheid van hul besittings en hoe hulle ander daardeur kan beheer. Hulle spog met die hoeveelheid van hul besittings, maar besef nie dat hulle dit nie kan saamneem as hulle sterf nie. Die dood maak almal gelyk. Geen mens kan ‘n ander mens loskoop uit die mag van die dood nie. Daarom sal die wyse mense die ewige lewe soek. Wyse mense en dwase mense moet by hul sterwe alles agterlaat vir ander mense om te gebruik. Die dwase dink dat hul nageslag alles erf en gee hulle name aan lande, dorpe en strate. Maar die name kan verander word en die bekendheid van die beroemdes word vergeet. Die mens wat op materiële besittings vertrou, sterf terwyl hy eintlik op homself vertrou. Soos skape wat geteel word om geslag en geëet te word, is hulle lewe sinloos en eindig in ewige sinloosheid. Die ewige dood in die doderyk is hulle bestemming. Dit is egter anders met die gelowige. God sal sy siel loskoop van die dood in die doderyk en aan hom ewige verblyf in sy teenwoordigheid gee. God sal die losprys aan God self betaal vir die siel wat op Hom vertrou. Dit het aan die kruis gebeur, want ons is daar losgekoop, nie met goud en silwer nie, maar met die kosbare bloed van Christus (1 Petr. 1:19). Die Seun het aan die Vader sy liggaam geoffer as losprys vir baie wat dit wil aannneem (Mat. 20:28).
Verse 17 – 21 : Die kind van God moet dus nie bang word as mense om hom ryk word, maar hyself dalk bly swaarkry nie. Die ongelowige ryke wat op die arm gelowige neersien en hom selfs wil kwaad aandoen, se einde sal ewige duisternis sonder lig wees. Die Here sal egter vir die verstandige wat op Hom vertrou, sorg in dié lewe en ook hierna. Hulle vir wie aansien en bekendheid alles was, sal op aarde vergeet word en in die doderyk sonder hul besittings in ewige duisternis wees.