Ps 50 Ware godsdiens eer God in die praktyk

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : PSALM 50

WARE GODSDIENS EER GOD IN DIE PRAKTYK !

Die vorige psalm was ‘n wysheidspsalm. Hierdie psalm is ‘n profetiese gedig wat aansluit by die boodskap van die profete. Die volk word aangespreek, en selfs ook spesifiek later die goddeloses binne die volk van die Here. Die vorige psalm is tot alle volke gerig. Die Here roep die hele aarde op tot getuienis in ‘n hofsaak teen sy volk. Die Here self is die Aanklaer in die regsgeding met sy volk. Die verbondsvolk word opgeroep om voor God, die Regter, te verskyn. God is dus Aanklaer en Regter! Die Here dagvaar sy volk (net soos in Jes. 1 en Miga 1) voor die hele skepping. Hy kla die volk aan oor twee dinge:

Die volk dien God met uiterlike offers en rituele sonder harte wat innerlik vol is van dankbaarheid vir sy goedheid en barmhartigheid. God verwag dat hierdie dankbaarheid openbaar sal word in gehoorsaamheid en gebedsvertroue.

Hulle praat oor die wet , maar doen nie wat die wet sê nie. Hulle teologiseer oor die wet terwyl hulle dit aanhoudend verbreek.

Verse 1 – 6 : Die hofsitting word saamgeroep. In vers 1 word die drie name van God gebruik: El, Elohim, Jahweh. Dit spreek van God die Almagtige, God van die hele Skepping (en van al die nasies) en die Verbondsgod wat verlos. Die drieënige God praat en roep die hele aarde, en selfs ook die hemel op om sy volk te oordeel. Al drie persone van die godheid kan nie meer swyg nie, en kom in vuur en storm vanuit Sion met verblindende ligglans om sy verbondsvolk te oordeel. Die Heilige God kan nie meer die volk, wat die voorwerp van sy liefde is, se sorgelose godsdiens sonder terugkerende liefde verdra nie. Die skepping wat die sonde van die volk aanskou, sal ook die optrede van die Almagtige, die Universele en Verbondsvolk sien plaasvind.

7 – 21 : Die aanklag word gestel: “Ek is God, jou God! Ek soek ‘n persoonlike verhouding met jou, en nie net uiterlike rituele en offers sonder dankbaarheid, gehoorsaamheid en vertroue in gebed nie.” Israel het God soos die gode begin sien asof Hy, soos hulle, afhanklik is van die offers. God word nie honger dat Hy die offers as voedsel nodig het nie. Al die wilde en mak diere is sy eiendom. Hy soek by sy volk dat die offers en rituele die uitdrukking sal wees van ware liefde vir Hom. Hulle moet met hul harte aan Hom behoort sodat hulle met vrymoedigheid na Hom sal kom met al hul behoeftes. In krisisse en benoudheid moet hulle Hom aanroep vanuit harte wat voluit oorgegee is aan Hom. Dié van hulle wat in ‘n liefdesverhouding met God lewe, se lewens sal dankbaarheid openbaar. Die dankbaarheid sal gestalte kry in gehoorsaamheid aan God en gebedsvertroue in Hom. Dit help nie jy ken die gebooie uit jou kop en hou besprekings daaroor terwyl jy in sonde voortlewe nie. Sonde is verbreking van die wet (1 Joh. 3:4). Die sonde het, ten spyte van hul getroue offers, gefloreer en selfs binne-in die gesinne ingedring. Die ergste is dat baie binne die verbondsvolk wel die Naam van die Here bely en die wet verkondig, terwyl hulle saam met die ander sonde doen as hul die geleentheid kry. God spreek sulke mense aan as “goddelose”. Nog erger: Hierdie goddelose godsdienstiges het begin dink God is ook soos hulle en Hy redeneer soos hulle. Hulle het begin dink dat God nie deur hulle sonde gepla word nie, net soos hulle eie sonde hulle nie pla nie. Hulle sê versigtig met hulle monde die regte dinge, maar hul lewens weerspreek hulle woorde. Hulle leef in doelbewuste ongehoorsaamheid, korrupte gesprekke en kompromie met sonde in hul verhoudings. Leë formalisme kenmerk hul eredienste. Hulle dink God is moreel ongeërg oor sonde, soos hulle is.

Verse 22 – 23 : God bied nog weer genade aan na die waarskuwing. God spreek hulle aan as Godvergeters. Dit was die kern van die probleem van hulle harte. In hul alledaage lewe en in hul godsdiensbeoefening het hulle God vergeet. Hulle het ook vergeet wie die God van Israel is. Hy is die Almagtige en Heilige wat sonde haat en straf. Hulle moet betyds tot insig en bekering kom; anders sal God die finale oordeel laat kom en hulle verskeur soos ‘n woedende leeu sy prooi verskeur. Waarom vra God dankbaarheid in reaksie op sy verbondsgoedheid? Dankbaarheid eer God vir wie Hy is en wat Hy vir sy volk gedoen het. Iemand wat God uiterlik dien sonder om Hom regtig te eer, se hart is ver van Hom af. Dit was ook die kern van wat Jesus aan die geestelike leiers van sy tyd wou deurgee (Mat. 15:8-9). Die een wat sy lewe met God regmaak en reg lewe, sal die verlossing van God as ‘n werklikheid beleef. God se verlossing is juis verlossing van die skuld en mag van sonde! Iemand wat hierdie verlossing deelagtig geword het, kan nie meer sorgeloos in sonde voortlewe en tevrede wees met leë vormgodsdiens nie. Dankbaarheid, gehoorsaamheid en gebedsvertroue vloei spontaan uit sy lewe in reaksie op die genade en goedheid van God. Vir hom is sy verhouding met God belangriker as uiterlike rituele en hy eer God in alles!

(Visited 68 times, 1 visits today)