Ps 51 Vergewe my op grond van U genade

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 51

VERGEWE MY OP GROND VAN U GENADE !

Dit is een van die boete-psalms en een van die mooiste psalms. Nadat Dawid moord en owerspel gepleeg het (2 Sam. 12), erken en bely hy nou sy sonde tot in diepte sonder om verskonings te maak. Dawid is hier baie diep onder oortuiging van sy sonde en skuld. Hy het ‘n lewe geneem en owerspel gepleeg. Hy het ‘n tyd lank sy sonde weggesteek en dit nie bely nie, totdat die Here die profeet Natan na hom gestuur het. Daarna het hy die diepte en omvang van sy skuld besef en onder diepe besef gekom dat net onverdiende genade hom kan vryskeld van sy sonde. Hy beroep hom net op die goedheid van God en pleit hartroerend om genade. Die gedig spreek van ‘n innige en opregte begeerte om reiniging en herstel van gemeenskap met God.

Verse 1 – 8 : Dawid bely sy sonde. Hy begin deur hom te beroep op die onverdiende genade (kindness) en goedheid (goedgesindheid) van God. Dit dui op ware berou as iemand geen verdienste het wat hy voorhou vir vergifnis nie. Daar is geen poging meer om homself te verontskuldig nie. Hy gebruik drie woorde vir sy sonde: ongeregtigheid (oortreding van die wet), sonde (om die doel te mis) en oortredinge (rebellie teen God). Dan gebruik hy later ook drie woorde vir vergewing: reinig my, delg uit en skep vir my (v. 9-12). Sy sonde staan voor hom soos ‘n muur tussen hom en God. Sy sonde teen mense was ook sonde teen God self. God is rein en regverdig as hy deur Natan vir Dawid skuldig verklaar. Sonde-oortuiging is soos ‘n vroeë oordeelsdag wat plaasvind wanneer daar nog genade is. Hy besef sy sondige natuur, waarmee hy gebore is, was die grondoorsaak van sy oortreding. Hy gebruik nie sy ou natuur as ‘n verskoning nie, maar juis as ‘n bewys dat sy sonde ‘n bewys is dat hy nog steeds ‘n ingebore geneigdheid het na die sonde, en dat hy nie daaraan moet toegee nie. Teenoor sy eie sondigheid staan God se reinheid, wat hom bring tot die punt van erkenning en die kom tot waarheid. Dit is om in die lig te wandel en eerlik te wees oor sonde, om dit dan met ware berou te bely. God werk ook telkens die ware berou in die hart van die gelowige wat gesondig het. Ook dit is deel van sy onverdiende genade.

Verse 9 – 19 : Gebed om vergifnis en reiniging. Soos die hisoptakkie gebruik is as ‘n kwas om die melaatse te besprinkel met bloed vir reiniging, so moet hy deur God self gereinig word. Sy sonde is soos melaatsheid wat aan hom bly kleef tot God vergewe. God moet sy sonde uitdelg (stroke, rub, smooth). Die effek van die sonde op homself moet herstel word, soos olie hout herstel nadat dit weer gelyk geskaaf is. God moet wegkyk van sy sonde, want hy kan nie meer God se heilige blik daarop verdra nie. Hy vra om weer deur ‘n skeppingsdaad sy hart te herstel van onreinheid en die liefde vir die sonde wat weer ingekom het, sodat hy weer ‘n vaste gees kan hê wat teen verleiding bestand is. Die Heilige Gees wat hy bedroef het, moet tog nie van hom af weggeneem word soos hy gesien het met Saul gebeur nie. Hy begeer weer die vreugde wat hy voor sy oortreding in sy verhouding met die Here gehad het. Die vrede en vreugde wat die verlossing van God bring, dui op ‘n herstelde verhouding met God. Dan verander die ingesteldheid van sy gees weer na dié van gewillige gehoorsaamheid, en haat hy innerlik weer die sonde, in plaas daarvan om dit te begeer. Dan sal hy weer vrymoedigheid hê om ander te leer om hulle te bekeer, terwyl hy voor hulle juig en teenoor hulle getuig van sy eie ondervinding van vergifnis en die vreugde wat dit bring. Die offers wat vir sonde gebring word, neem nie self die sonde weg nie. God neem dit weg as Hy sien die hart van die sondaar of gevalle kind van God keer ten volle na Hom toe terug. Saam met sondebelydenis moet daar ‘n volle oorgawe van die hart aan God wees. Dit bring ‘n gebroke (sagte) gesindheid en selfs verslaenheid oor die sondigheid van ons ou natuur. Dawid was letterlik geskok om terug te kyk na wat hy aangevang het, en moes besef hoe goddeloos sy natuur nog steeds is as hy daaraan toegee.

Hy bid ook dat die Here die skade wat hy veroorsaak het om as geestelike en politieke leier voor die volk gruwelik te sondig, in die volk te herstel, sodat hulle sal besef dat hulle alleen hul offers kan bring as hulle harte rein en reg voor God is. God sal ‘n behae hê in sulke offers, wat die uitdrukking is van ‘n hart wat gereinig en oorgegee is aan Hom. As dit met die volk so geestelik goed gaan in hul verhouding met God, sal God self hulle beskerm en moreel sterk maak.

(Visited 574 times, 1 visits today)