Ps 52 God is goed

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIES OOR DIE PSALMS : Psalm 52

GOD IS GOED

het voortdurend stryd teen ongelowige vyande gehad. Hy het gevlug vir Saul en by die priester Agimelek in Nob gekom, en van die toonbrode by hom gekry as padkos vir sy manskappe. Die hoof van die veewagters van Saul, Doëg, was egter ook in die huis van God, en het later vir Saul alles vertel. Saul het toe die hele priesterlike gesin laat doodmaak. Net ‘n seun, Abjatar, het ontvlug. Toe Saul die hardlopers beveel het om die priesterlike gesin uit te roei, wou hulle nie. Doëg was egter ‘n Edomiet en hy het dit toe gedoen (1 Sam. 21). Dit het gewys hoe goddeloos Saul geraak het en Doëg was vir ‘n tipe van die goddelose wat teen die kinders van God opstaan. Die goddelose moet egter weet dat God altyd self teen hulle sal optree en dat Hy hulle vir ewig sal neergooi en tot niet maak. Die Edomiete was die nageslag van Esau, en ook ‘n simbool van die vyande van die verbondsvolk. Die psalm handel dan veral oor die feit dat die goddelose op sy eie krag vertrou, teenoor die gelowige wat op die goedheid van die Here vertrou.

Verse 1 – 7 : Die ongelowige vertrou op sy eie planne en eie krag. Hy soek sy eie voordeel en is vol selfvertroue en arrogansie, sonder heilige ontsag vir God. Daarom het hy ook geen respek vir die kinders van God nie, en tree maklik wreed teenoor hulle op. Hy is dan ook trots en selfvoldaan as hy die gelowige skade aandoen en oorwin. Wat hy praat, toon dat sy binneste so vol bedrog is dat as hy tog die waarheid praat, daar leuenagtige motiewe agter sy optrede skuil. Daar is altyd selfsugtige bymotiewe en oneerlikheid agter sy gepraat. Die sondige vlees beheer sy denke en dade, en hy is genadeloos teenoor die mense wat opreg die Here wil dien. Die natuurlike mens hou meer van kwaad as van goed. Die sondige natuur van die gevalle mens is in sy wese selfsugtig, wreed en onbekeerlik. God sal dit egter nie vir altyd so laat voortgaan nie. HY sal die arrogante en roekelose mens hard straf en sy eie wreedheid hom laat tref. Hy sal hom neerwerp en verwyder uit die teenwoordigheid van die gelowiges waar hy nie gehoort het nie. Die goddelose sal op die ou end soos ‘n ontwortelde boom wees, vir ewig afgesny van die lewe van God. In die ewige verdoemenis gaan hy dan die ewige dood in. Dit is die konsekwensie en eindbestemming van die mens wat teen God en sy kinders opgestaan het en wreed en hard van hart gebly het. Hulle kom nooit tot insig nie, en stort hulself deur hul eie dwase keuses in die ewige verderf in. Hulle sterf soos hul geleef het. Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23).

Vers 8 – 11 : Die regverdige sal die oordeel van die Here oor die goddelose sien en nog meer ontsag vir Hom hê. Hy sal lag oor die dwaasheid van die vyande van God, wat altyd op hul eie rykdom en vermoëns vertrou, eerder as om afhanklik van die Here te wees. Hy lag nie in ‘n meerwaardige gesindheid van weerwraak nie, maar vol heilige vrees vir die Here wat sy geregtigheid openbaar in die straf van die goddelose wat Hom tart. Die straf van God bring heilige ontsag by die gelowige en ‘n groter besef van sy heiligheid en sy haat vir die sonde (Jes. 26:9b). Die gelowige, wat egter nederig afhanklik van God bly en nie op sy eie vermoëns en planne staatmaak nie, sal wees soos ‘n groen olyfboom in die huis van God. Die boom bly groen en vol lewe, want uit die huis van God kom die openbaring van wie God is wat hom laat groei in sy verhouding met God. Deur op God te vertrou, kry hy deel aan die goedheid van God en leef hy in alle opsigte uit genade. Hy bly met sy hart “in die huis van die Here” al gaan hy voort met sy gewone verantwoordelikhede en dagtake. Hy bedink die dinge wat daarbo is, waar Christus is (Kol. 3), en sy lewe is saam verborge in God. Die goddelose het nie geestelike oë om die verhouding wat die gelowige met God het, te onderskei nie, want hy ken nie self so ‘n vehouding nie. Die gelowiges se harte is egter vol lof teenoor God omdat Hy regverdig optree en vir die mens gee wat hy verdien. Hulle verwag altyd dat God in sy optrede sy karakter van geregtigheid sal openbaar, en dit gebeur ook altyd, want God is getrou aan wie Hy is!

(Visited 58 times, 1 visits today)