Ps 53 Die sondige natuur van die goddelose mens

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 53

DIE SONDIGE NATUUR VAN DIE GODDELOSE MENS

Hierdie psalm kom grotendeels ooreen met Psalm 14. Tog is daar verskille. Psalm 53 het meer seldsame en kragtige woorde, en die naam van God, ELOHIM, word dwarsdeur gebruik. Die boodskap van die psalm volg op dié van die vorige psalm, Psalm 52. Albei handel oor die dwaasheid van die goddelose mense wat teen die gelowiges opstaan en die uiteinde van hul hardkoppige verset teen God. Psalm 52 handel veral oor die gesindheid van die onregverdige, terwyl hierdie Psalm veral wys op die oorsaak van daardie gesindheid, nl. die bedorwe natuur van die natuurlike mens na die sondeval.

1 – 5 : Die dwaas is iemand wat nie sy verstand gebruik nie, en onlogies optree in sy ontkenning van God se bestaan. Daardeur sluit hy God uit sy lewe uit en maak hy soos hy wil. Die konsekwensies daarvan is totale geestelike en morele verval. (Ef. 4:19) Ateȉsme lei tot sedeloosheid en humanisme. Die mens word sy eie god en alles draai om die mens. Sy dade word slegter en slegter totdat dit afskuwelik raak. Die onreg wat hy doen, gaan dieper en dieper tot die vlak van roekeloosheid en wreedheid. Dit openbaar wat in die sondige natuur van die mens sit – waarmee alle mense gebore word (Ps. 51:7). Die sondige natuur kan nie goed doen nie. Al lyk dit of iemand uit die ou natuur goed doen, kom dit uit die slinksheid van die ou natuur en is daar altyd een of ander bymotief of gesindheid wat in sy wese sondig is. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, bedorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer. 17:9). Wanneer God in sy volmaakte heiligheid en geregtigheid uit die hemel neerkyk op die mense, sien Hy dat almal onverstandig is, dwaas is, want hulle soek en vra nie na God nie. Die sondige natuur is geestelik so dood dat dit nie na God, wat lewe kan gee, soek nie. Die sondige natuur het geen ware dors na God nie, alleen maar na selfvervulling in “eie wil doen” en selfverheerliking. Dit is dus dwaasheid om sonder God te lewe en Hom uit jou lewe uit te sluit. Die vrug van só ‘n lewe is uiters sleg. Dit gaan van slegtheid tot slegtheid, sodat die mens ontaard en selfs laer kan daal as diere. Niemand in sy sondige natuur kan ooit iets goeds doen volgens wat God beskou as goed nie. (Rom. 3:9-23) Voor God is ons beste werke soos ‘n vuil kleed en soos verdroogte blare sonder lewe (Jes. 64:6). Op die vraag in vers 5 of die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis het nie, selfs in so ‘n mate dat hulle die volk van God vervolg, is die antwoord ‘n duidelike “nee”. Hulle dwaasheid veroorsaak geestelike en verstandelike domheid wat hulle uiteindelik tot selfvernietiging gaan lei (Ef. 4:18). Hulle het geen kennis en onderskeiding oor geestelike dinge nie, en raak dus al hoe meer onverantwoordelik in wat hulle sê en doen teenoor God en die gelowiges. Hulle word genadeloos omdat hulle self geen genade leer ken het nie.

6 – 7 : Die aanval op God se volk is eintlik aanvalle op God self! Hulle aanval op God se volk veroorsaak egter hul eie val. Hulle soek nie hulp by God nie en daarom is gebed nie deel van hul lewe nie. Wanneer God egter optree om hulle te straf en te vernietig, skrik hulle vir niks. God gebruik ”niks” om hulle te laat skrik. (Spr. 28:1) Daar kom ‘n stadium dat die tyd vir die goddelose om tot besinning te kom en hulle gesindheid te verander, verbygaan. Dan word hulle finaal deur God verwerp en oorgegee aan hul eie dwaasheid om hulle skaam te maak. Die volk van God verlang na die finale verlossing van hul vyande. Die kinders van God stel hulself afhanklik van Hom en weet dat verlossing net van God af kan kom. In die Nuwe Testament word dit nog duideliker verkondig dat die mens homself nie kan red van sy sondige natuur nie. Hy moet hulpeloos roep om genade en redding van God as die enigste bron van verlossing. (Rom. 10:13) Die ware gelowige wat net op genade vertrou, ervaar dan dadelik die teenstand en vervolging van die ongelowiges. Eers by die wederkoms van Christus sal die kinders van God finaal verlos word van hul teenstanders. Terwyl hulle self die ewige heerlikheid beërwe, sal hulle die finale straf van God op die onregverdiges sien en juig oor ewige verlossing (Jes. 66:24, Luk. 13: 28-29). Dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees! Halleluja!