Ps 54 Gebed om verlossing van grimmige vyande

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 54

GEBED OM VERLOSSING VAN GRIMMIGE VYANDE!

Dawid was as koning van God se volk voortdurend in stryd teen magte wat teen hom opgestaan het en teen hom saamgespan het. Die oorsaak van hierdie gebed om verlossing was die Sifiete wat vir Saul laat weet het dat Dawid by hulle skuil. Dawid het hulle geen rede gegee om teen hom op te staan nie. Dié wat nie die Here ken en dien nie vind altyd mekaar en staan by mekaar teen die kinders van God. Soort soek soort. Dawid het nie eerste vir Saul aangeval of die Sifiete skade aangedoen nie. Net soos die Seun van Dawid baie later sonder rede gekruisig is, en sy volgelinge onnodig gemartel is, so sal dit altyd wees tot by die wederkoms van Christus. Jesus het sy volgelinge gewaarsku: ”In hierdie wêreld sal julle verdrukking hê . . .” en Paulus maak dit ‘n vaste reël: ”Dié wat godvrugtig wandel, sal vervolg word!” ( Joh. 16:33, 2 Tim. 3:12) Dit bewys dat daar geestelike magte agter die stryd teen die kinders van God sit.

Verse 1- 5 : Dawid bid dat God hom sal verlos deur die Naam van die Here en aan hom reg sal doen deur die mag van die Here. Die Naam van die Here verkondig sy mag, sy almag. Niks is vir God onmoontlik nie. Hy het ook die reg om op te tree teenoor enigiemand wat gestraf moet word omdat Hy regverdig in sy wese is. Dawid vertrou dus op die onveranderlike eienskappe van God wat deur sy Naam geopenbaar word. Die naam “Elohim” wat Dawid God mee aanroep, staan vir sy almag as Skepper, wat reg en beheer oor alles het wat Hy geskape het. Hy stel homself afhanklik van die Here, en sy gebed is so dringend dat hy God vra om doelbewus met aandag te hoor as hy met God praat en na die inhoud van sy gebed te luister. In sy gebed verduidelik hy sy situasie en gee ook die rede waarom God hom moet help teenoor sy vyande wat nie eers tot God bid nie. Hulle maak soos hulle wil en neem hul eie besluite. Die stryd teen sy vyande is nie grappies nie; hulle soek sy dood! Hy is in hierdie stryd omdat God se saak sy saak is.

6 – 9 : Hy getuig in sy gebed. Sy geloof dat God hom gehoor het, begin nou deurbreek en God werk in hom onverskrokke, vaste vertroue dat hy verhoor is. Dawid se gebed verander in getuienis, want nou weet hy God het gehoor. God sal, getrou aan sy wese, optree teen sy vyande. God is getrou omdat Hy nooit verander nie. Dit bring dankbaarheid in Dawid se hart sodat hy graag aan die Here ‘n offer wil bring. Hy wil die Naam van die Here loof, want God se goedheid word telkens aan sy kind geopenbaar as sy gebed beantwoord word. God het weer vir Dawid uit benoudheid gered en oorwinning oor sy vyande laat smaak. Dawid het verwag dat die Sifiete, wat in die Suide van Juda gewoon het, die onderskeiding sou hê dat hy God se wil doen en vir God se saak staan, terwyl Saul sy eie wil doen en sy eie eer soek. Dawid het ook nooit van sy kant af vir Saul aangeval nie. Deur die eeue heen is dit egter die geval. Dit vat geestelike mense om die geestelike stryd te verstaan en te onderskei. Dawid het soveel aanvegtinge beleef dat dit vir die natuurlike mens gelyk het hy is die probleem. Die teenstander, die Satan, het egter mense teen Dawid aangehits omdat hy juis altyd die wil en die eer van die Here gesoek het. Dawid het homself nie aangestel as koning van God se volk nie, maar is deur die Here uitgesoek en gesalf. Hy getuig: ”Kyk, God is my Helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun.” (v. 6) Dié psalm gee aan God die eer. Dawid erken dat hy dikwels benoud was. Hy wil nie die middelpunt van belangstelling wees nie, maar werp die lig op die Here. Dit is nie sy skranderheid en planne wat hom telkens gered het nie, maar die Here wat altyd getrou is. Daarom is die Naam van die Here (v. 8) ook Jahweh, die getroue wat verlos. Daarom kyk hy met oorwinning af op sy vyande, want hy het op God sy vertroue gestel en is weer nie teleurgestel nie.

(Visited 71 times, 1 visits today)