Ps 55 Gebed tot God enigste antwoord in smart

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 55

GEBED TOT GOD IS DIE ENIGSTE ANTWOORD IN DIEPE HARTSEER

Dawid het al baie aanvegtinge beleef. Sy hele lewe was vol daarvan. Nou het hy egter die ergste beleef. Hy is deur sy vriend in die steek gelaat. Dikwels het sy vyande sy ondergang gesoek. Nou in dit een van sy naby vertrouelinge. Daarom is dit vir hom baie meer traumaties en seer. Hy is so geskok in die goddeloosheid van dié wat hom aanval, dat hy liewer wil wegvlug van die samelewing af. As sy naaste vriend saamspan met sy vyande, wie kan hy dan nog vertrou. Hoe verwerk en hanteer hy die skok dat sy getroue vriend se hart nie suiwer was nie. Die ontrouheid aan Dawid toon dat die vriend in sy hart nooit eerlik met God was nie. Dit kom nou eers aan die lig en skok Dawid in sy wese. Hy het dit nooit van sy vriend verwag nie. Skrik en angs laat sy hart inmekaar krimp. Dit maak dat hy roep tot God in die gebed, en soos voorheen ook nou sy enigste rus in God, wat hom nog nooit in die steek gelaat het nie, vind.

Verse 1 – 9 : Dawid roep na God en smeek tot God om raad en hulp. Hy is geskok oor die krag waarmee sy vyande onreg “op hom afstort”! Hy is mismoedig oor die venyn teen hom en word bang as gevolg van die intensiteit en totaliteit van die aanslag teen hom. Hy weet dat dit onreg teen hom is. Die stryd raak vir hom te veel. Daarom wil hy liewer wegvlug uit die situasie. Hy wil ver weg vlug van mense wat altyd daarop uit is om sy lewe onaangenaam te maak. Hy val húlle nie aan nie, maar hulle doen dit sonder dat daar ‘n regverdige rede voor is. Dit is soos ‘n storm wat so sterk teen hom waai dat hy nie eers daarteen weerstand wil probeer bied nie; hy wil net iewers veilig skuil dat die storm kan verbygaan sonder dat dit hom raak.

Verse 10 – 16 : Die aanslag was nog altyd van buite af. Nou is dit gevaarliker; dit is van binne af. Dit is binne die mure van die stad. Die aanslag kom van sy beste vriend, met wie hy diep dinge in die tempel oor God gedeel het. Die medebroer is toe al die tyd die gevaarlikste vyand. Dit is vir Dawid die slegste en seerste vorm van aanslag wat hy nog beleef het. Sy vriend het sy vyand geword. Die man wat hy absoluut vertrou het, was toe nie so suiwer van hart as wat hy gedink het nie. God self moet teenoor sy vriend en sy vyande, wat nou saamspan teen hom, optree, want hul boosheid is so deel van hul wese dat hul nooit sal verander nie.

17 – 24 : Die enigste uitkoms wanneer Dawid se beste vriend saamspan met die vyand teen hom, is gebed. Die oplossing lê by God alleen. Soos Hy hom die vorige keer verlos het, sal Hy weer doen, want HY is getrou. Al is die seer en die skok hierdie keer veel erger, is sy uitweg Elohim, die Almagtige! Die menigtes wat teen hom opstaan, is niks vir God nie. Deur gebed bly nader hy vir God, tot vrede sy hart vul. God kan nie van sy troon afgesit word nie; Hy beheer dus alles. God sal hom verhoor en Hy sal ook sien dat daar by sy vyande geen verandering sal kom nie. Ook by sy vriend is daar geen gesindheid van spyt of ommekeer nie. Sy ware kleure het aan die lig gekom. Hy het gewaag om die een aan te val wat in vrede met hom geleef het, en hom geen rede vir so ‘n optrede gegee het nie. Hy het die vriendskapsverbond wat daar tussen hulle was, ontheilig. Hy het steeds met mooi en gladde woorde voorgegee dat hy nog steeds Dawid se vriend is en hom respekteer, maar daardie “botterwoorde” het eintlik net die swaarde daaronder weggesteek. Sy vriend is skynheilig en eintlik in oorlog teen hom. So het Christus ook twee duisend jaar later die soen van een van sy vertrouelinge in die tuin van Getsémane ervaar. So sal die ware gelowiges soms ook ervaar dat ‘n beste vriend teen hulle draai as hul eerlik vir God se saak veg. Die geestelike oorlog kan baie fyn en subtiel raak. Hoe meer subtiel, hoe gevaarliker. Dan moet die kind van God sy kommer op die Here werp (v. 23). Hy sal jou onderhou en beskerm, al staan jy alleen. Dit vra vertroue op God. Hy sal sulke agterbakse teenstanders vernietig. Dié wat die dood van die kind van God soek, sal self deur God tot ‘n vroeë dood gebring word. Laat elke gelowige in so ‘n aanvegting sy bekommernis op die Here werp (v. 23 en 1 Petr. 5:7), en bely: ”. . . maar ek vertrou op U!” Volgens Petrus sit die brullende leeu agter sulke aanvalle. Maar ons kan hom teenstaan, standvastig in die geloof (1 Petr. 5:8-9).

(Visited 70 times, 1 visits today)