BYBELSTUDIES OOR DIE PSALMS : Psalm 56
EK PRYS GOD WAT MY RED VAN DIE DOOD!
Klaagliedere 3 en Ps. 37:7. As Dawid bang is, kies hy om op God te vertrou. Hierdie vertroue vind by hom altyd uitdrukking in gebed om hulp. Die digter vertrou op die beloftes van God. As God hom beskerm, kan ‘n mens niks aan hom doen nie. Dit was vir Dawid ‘n baie moeilike tyd. Niemand wou vir hom ‘n tuiste gee waar hy kon bly nie. Hy moes aanhoudend swerf. Almal was hom vyandig, of het hom as ‘n bedreiging gesien. Hy kon nêrens rus nie, en moes aanhoudend veg of vlug. Toe hy by Akis in Gat kom, het hy gedink hulle sou vir hom ruimte maak. Hulle het dit egter gesien as die groot geleentheid om ‘n baasvegter te vang en dood te maak. Hy moes hom waansinnig hou om uit die situasie te kom. God het sy plan laat werk en hy het ontvlug! God was weer die Enigste op wie hy kon staatmaak.
Verse 1 – 5 : Dawid het baie vyande gehad omdat hy vir baie ‘n bedreiging was. Die volk van God, onder Saul, sowel as die heidense groepe, het hom die hele tyd verdruk en vertrap. Hulle veg teen hom, nie hy teen hulle nie. Daarom wend hy hom tot gebed en smeek om genade. Agter hul stryd teen hom sit hoogmoed. Dit maak hom bang. Hy vlug egter dadelik met sy vrees na die Here toe. Hy besluit om weer net op die woord van die Here te vertrou, in so ‘n mate dat hy alreeds begin om die woord van die Here te prys. Die betroubaarheid van God se woord is sy sekuriteit. God doen altyd sy woord gestand. Daarom hoef Hy nie mense te vrees nie. God het immers vir hom beloof dat hy koning sou word.
Verse 6 – 12 : Die vyande verdraai sy woorde om hom in ‘n slegte lig te stel, en ander nasies wantroue in hom te gee. Hul bedoelings is om hom kwaad aan te doen sodat hy kan vlug. Leuens en bedrog is hul metode om nog meer mense vyande van Dawid te maak. Hy vra die Here of hy sulke mense sal laat ontvlug. Hy roep na God om sulke oneerlike en agterbakse mense neer te gooi in sy toorn. God het gesien hoe hy moes rondswerf, en hoeveel trane dit hom gekos het. Hy weet egter dat God aan sy kant is, want God self het hom geroep om koning te word. Dit is God se plan vir hom. Hulle gee egter nie om wat God se plan met Dawid is nie. Een of ander tyd sal die Here aan hom die oorwinning gee en hulle sal agteruit beweeg. God se woord sal in vervulling gaan, en daarom prys hy nou al God se woord. In sy gesprek met God groei sy geloof, soos soveel vorige kere. Wat kan ‘n mens aan hom doen as hy onder God se beskerming is. Paulus het moontlik aan hierdie psalm gedink toe hy dieselfde gesê het: ”As God vir my is, wie kan teen my wees?” (Rom. 8:31)
13 – 14 : Dawid het tydens sy gebed ook geloftes aan God gedoen, as God hom sou uitred. Die Here het hom verhoor en hy sal sy beloftes vervul. God het hom gehelp om nie te struikel nie, maar om in hierdie moeilike omstandighede met God in sy volle lig te bly wandel. Hy het oop en eerlik gebly voor God en mense. Dit het sy verhouding met die Here reg en suiwer gehou. Hy het ondervind waarvan Johannes veel later skryf: “As ons in die lig wandel, soos Hy in die Lig is, het ons gemeenskap met mekaar en die bloed van Jesus reinig van alle sonde.” (1 Joh.1:7) Dit is moontlik om ook in moeilike omstandighede en swaar aanvegtinge van die vyand met God in voortdurende gemeenskap te lewe. Inteendeel, dit is die geheim van voortdurende oorwinning !