Ps 57 My hart is gerus want ek skuil onder U vlerke

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 57

MY HART IS GERUS, WANT EK SKUIL ONDER U VLERKE !

Psalm 57 kom baie ooreen met die vorige psalm. Albei begin met die gebed om genade. Dawid word hier nog steeds deur Saul vervolg. Hierdie keer vra hy twee keer “wees my genadig”. Dit dui op die dringendheid van die versoek en die moeisaamheid van die stryd. Hy moet al weer vlug, hy is weer in lewensgevaar en die aanhoudendheid van die stryd tap sy kragte. Saul is so hatig op hom dat hy selfs vyf en tagtig priesters laat doodmaak het omdat Agimeleg vir Dawid die Here geraadpleeg het. Hy was dus ook ernstig om Dawid dood te maak. Dawid moes egter elke keer homself versterk in die beloftes wat God aan hom gemaak het. Hy vlug na God in die gebed terwyl hy weet die Here sal vir hom die stryd voleindig. Hy was in die grot waar Saul ingekom het en Saul het nie eers geweet Dawid is daar nie. Dit was ‘n gulde geleentheid om Saul dood te maak, maar Dawid het sy lewe gespaar omdat hy die gesalfde van die Here was.

Verse 1 – 5 : Hy bid twee keer ernstig om genade terwyl hy klaar met sy hart by die Here skuil. Dit beteken hy het reeds die keuse gemaak om die Here in die situasie, waar sy lewe vir die soveelste keer bedreig word, te vertrou. Hy roep die Hoogste Gesag aan, want hy weet God sal vir hom die stryd met oorwinning tot ‘n einde bring, sodat God se beloftes aan hom ‘n werklikheid sou word. Een of ander tyd sal God doen wat Hy beloof het. Op grond van die liefde en getrouheid van die Here weet Dawid dat die Almagtige verlossing uit die hemel sal stuur en hom verlos. Die verlossing wat God sal stuur, sal weer ‘n openbaring wees van sy liefde (goedheid) en trou. Hy word omring met verskillende vyande, soos deur ‘n groep leeus. Hulle is vyandig en genadeloos.

Verse 7 – 12 : God moet homself verhoog bo die hemele en sy heerlikheid bo die aarde laat sigbaar word. God is groter en heerliker as sy skepping. Die vyande van Dawid het vir hom ‘n net gespan. Hulle is soos ‘n groep leeus of jagters wat genadeloos hul prooi se dood soek. Hulle het egter self in die gat geval wat hulle vir die man van God gegrawe het. Daarin word God se almag geopenbaar. Dawid se hart kom weer in oorwinning oor die bedreiging. In die geestelike stryd is dit belangrik om nie onder die aanslag te gaan lê nie. Die wapenrusting moet aangetrek word en die vyand moet so kragtig weerstaan word dat die gelowige staande bly (Ef. 6:13). As ‘n kind van God se hart te midde van die aanslag oorwinnend op God bly vertrou, wil hy sing en psalmsing. Hy wil die Here eer! Die oorwinning bring nuwe vuur in sy aanbidding tot God. Hy is so vol vuur dat hy vroegoggend opstaan om die Here te loof en te prys. Die drúk van die aanhoudende stryd teen sy vervolgers het verdwyn. Die vyande is nog daar, maar sy hart is in oorwinning bokant die aanslag. Twee keer het hy gevra vir genade! Twee keer getuig hy nou dat sy hart rustig is. Hy wil die Here loof voor al die nasies. Die nasies kan die trou van die Here sien en tot bekering kom. Die oorwinning wat God gee, gee vir hom ‘n geleentheid om God te loof onder die volke. Die oorwinning aan die kruis gee ook aan ons die vrymoedigheid om aan die nasies die evangelie te bring. So word God geprys deur hulle wat verlos is, en ander nasies kan die Here leer ken. As die gelowiges God prys, word die kragtigste sendingwerk gedoen. Wie kan sing soos hulle wat die ware God ken? Die heidene ken nie sulke aanbidding nie. God se goedheid en trou is groot! Deur die verlossing wat God telkens aan Dawid stuur, toon Hy sy mag en trou voor al die nasies. So het Dawid later koning geword en geheers oor al die gebiede wat God aan hom beloof het. Al die volke het daarvan kennis geneem. So word God groot gemaak en verheerlik bo die hemel en die aarde.

Christus se oorwinning op Golgota moet besing word voor die nasies. Die blydskap van kinders van die Here wat van hul sondes verlos is, moet bekend word aan die ongelowiges sodat hulle ook ‘n hart wat gerus is, kan bekom. “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus!” (Rom. 5:1) Laat ons ons lofsange vanuit hierdie vrede oor die hele wêreld laat weerklink!

(Visited 129 times, 1 visits today)