BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 58
DAAR IS TOG ‘N GOD WAT REG LAAT GESKIED!
Sien Ps. 11. Psalm 58 is ‘n gebed dat God die ongeregtigheid van goddelose leiers en slegte mense tot niet sal maak. Dit is baie sleg vir ‘n land as goddelose mense, met geen norme, in leiersposisies kom. Hulle misbruik dan hul posisies om in daardie posisies korrupsie te pleeg en ander mense daaronder te laat lei. Hulle gebruik hul magsposisies om goeie mense, wat reg lewe, uit die beheer van die samelewing uit te werk sodat hulle vryelik hul verkeerde dade kan pleeg sonder dat iemand hulle iets kan aandoen. Onskuldige mense word dikwels in so ‘n situasie onregverdig behandel sonder dat hulle hul op die reg kan beroep, want die reg behoort aan die onregverdiges. Leiers is soos gode wat oor ander moet heers en toesig hou. Maar as hulle korrup is, gaan die hele samelewing tot niet. Al wat die gelowiges dan kan doen, is om na God te roep om in te gryp en hulle mag te breek en hulle te straf.
1 – 6 : Die onregverdige leiers word direk aangespreek met die vraag: ”Spreek julle waarlik geregtigheid? Oordeel julle die mense regverdig?” Die antwoord daarop is: “Nee!”. Hulle wat soos gode moet heers, is soos slange wat gif in hulleself dra. Hulle harte bedryf ongeregtighede en daarom doen hulle goddelose dinge. Van geboorte af is hulle vol leuens en geweld. Hulle is inherent so goddeloos dat hulle ook vir niemand luister nie. Hulle kan hulself nie beheer nie. Hulle goddelose natuur het onhanteerbaar en onbekeerbaar geraak soos ‘n slang wat nie luister na sy besweerders nie. Hulle pleeg korrupsie sonder remme.
Verse 7 – 10 : Net God kan in so ‘n situasie, waar kriminele die leierskap en reg oorgeneem het, help. Die digter gebruik vyf beelde as hy bid dat die onregverdiges se mag verbreek moet word. Laat hulle word soos leeus wat se tande uitgeslaan is, soos water wat wegloop, soos pyle wat stomp geword het, soos ‘n misgeboorte wat nie lewe bring nie en soos doringtakke onder ‘n pot wat weggewaai word voor hulle nog die vleis daarbinne kan laat kook. Hulle werke moet dus tot niet gaan sodat dit nie verder slegte vrugte dra in die land nie. Soos doringtakke weggewaai word deur ‘n sterk wind voor die vleis in die pot die hitte kan voel, so moet die effek van die goddeloses se optrede tot niks kom sodat dit nie die samelewing verder besoedel nie. God moet optree en die goddelose stuit.
11 – 12 : As dit gebeur, sal die regverdige bly wees. Hy sal hom verheug in die optrede van God teen die goddelose. Die regverdige verlang na geregtigheid op aarde. Hy het ‘n ander gesindheid as die onregverdige regters. Hy verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid (1 Kor. 13:6). Hy stem saam met God se geregtigheid as Hy die moedswillige kwaaddoeners straf wanneer hulle hul nie wil bekeer nie. As God nie ingryp nie, sal hulle vir altyd so aangaan, van kwaad tot erger. Daarom is God regverdig as Hy optree teen dié wat mag misbruik. Die regverdige sal sy voete dan was in die bloed van die goddelose. Dit beteken hy sal deel in die oorwinning oor die goddelose. Die stryd teen hulle is ‘n oorlog. Dit is die stryd van die waarheid teen die leuen en van geregtigheid teen ongeregtigheid. Na die sondeval laat God die ongeregtigheid toe. Hy gee aan die goddeloses baie tou tot almal kan sien dat hulle nie wil hoor nie. As die maat van hul sondes vol geraak het, tree Hy dan met krag en heilige woede op. Hy oefen wraak uit op die hardkoppiges en straf hulle volgens verdienste (Rom. 2:6-11). Dan sal die mensdom sien dat dit die moeite werd is om reg te lewe en die Here te dien. Hulle sien dan daar is ‘n God wat op die aarde oordeel! Die mens het ‘n ingebore begrip vir geregtigheid, hoewel dit deur die sondeval baie beskadig is. Enigiemand wat te na gekom is, wil hê daar moet geregtigheid geskied. Selfs die ongelowiges. Wanneer God optree teen die onregverdiges, is die gelowiges bly, en selfs van die ongelowiges kan dan sien dat God regverdig is. “Wanneer die Here die aarde straf, leer die inwoners daarvan wat geregtigheid is. (Jes. 26:9)