Ps 5 Gebed by die more-offer

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 5

 

GEBED BY DIE MÔRE-OFFER

 

 

Hierdie psalm sluit ook aan by die vorige een. Die dringendheid van sy nood dryf Dawid weer tot gebed. Hy gaan op die tyd van die môre-offer in gebed na God.

 

Verse 1 – 4 : Hy vra die Here om aandag te gee aan sy versugting. Dit is gebed met ‘n groot nood daaragter. Hy erken dat hy koning is onder God, wat sy Koning is. Hy kom dus met ‘n sterk behoefte om hulp, maar steeds met ootmoed en nederigheid na die Here. Daar is ‘n persoonlike verhouding tussen Hom en die Here. Daarom noem hy Hom “my Koning en my God”. Hy ken God en vertrou Hom. Hy vertrou ook op sy beskerming omdat sy aanstelling as koning van God af kom.

 

Verse 5 – 7 : Dawid ken God as ‘n God van geregtigheid, wat nie die goddelose sal help nie. Hy noem ses dinge in verband met God se houding teen ongeregtigheid:

1. God hou nie van goddeloosheid nie.

2. Die kwaaddoener sal nie by God tuis voel en beskerming soek nie.

3. Hoogmoediges sal nie voor God en in sy teenwoordigheid kan uithou en standhou nie.

4. God haat die bewerkers van ongeregtigheid.

5. Leuenaars sal Hy laat omkom.

6. God verafsku moordenaars en bedrieërs. Hierdie soort mense staan Dawid teë juis

omdat hy reg lewe.

 

Verse 8 – 9 : Dawid, as gelowige, leef egter totaal anders. Hy leef uit God se onverdiende goedheid. Hy is afhanklik van die Here en het die voorreg om as kind van God met Hom te kommunikeer en sy leiding te vra. Hy soek altyd die wil van God, maar veral ook nou in die lig van die aanslae van sy teenstanders teen hom. Die goddelose het geen vrees vir God nie en spreek veragtelik van sy dienskneg. God sal juis in geregtigheid teen Dawid se teenstanders se ongeregtigheid optree en hulle planne teen hulle laat draai. Hulle sal maai wat hulle saai. Dawid soek egter die wil van die Here. Hy wil nie sy eie pad loop nie, maar dié wat die Here vir hom wys. Dit toon die gesindheid van sy hart in teenstelling met dié wat hul eie planne maak. Die Here van die verbond sal juis hulle beskerm wat binne sy wil beweeg.

 

Verse 10 – 13 : Dawid se vyande is ook die Here se vyande. Hulle karaktertrekke verraai hulle; hulle is onopreg en daarom is wat hul sê, onbetroubaar. Agter dit wat hulle sê, is slegte planne. Hulle het so min ontsag vir God dat hulle die val van sy kneg beplan sonder om daaraan te dink dat God sy kind sal beskerm. Hulle beplan die ondergang van die man van God, terwyl hulle vleiende woorde teenoor hom spreek. Hulle is eintlik in opstand teen God en maak planne teen God se plan. Daarom vra Dawid dat God hulle skuldig sal verklaar en dat hulle eie planne hul ondergang sal wees. So sal ook die ander regverdiges bly wees omdat hulle sal deel in die oorwinning van die geregtigheid oor die ongeregtigheid. Dawid het ‘n onwrikbare vertroue in die Here dat Hy op die ou end geregtigheid sal laat geskied en die gelowige sal beskerm. Die Here seën die regverdige en beskerm hom op die lang duur, al gaan hy ook deur ernstige aanslae. Hulle wat die Naam van die Here liefhet, is die ware volk van God – wat juig oor elke oorwinning van God oor die bose. Hulle is saam bly as die Naam van die Here geheilig word, as sy koninkryk kom en sy wil geskied. Die koninkryk van God sal op die ou end finaal oorwin wanneer al Jesus se vyande ‘n voetbank vir sy voete gemaak sal word (1 Kor. 15: 25).

 

(Visited 121 times, 1 visits today)