BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS – Psalm 6
'N BOETEPSALM IN GROOT BENOUDHEID
Hierdie is een van die sewe Psalms wat deur die kerk as Boetepsalms beskou word. Net soos die vorige psalms is dit ook ‘n gebed onder aanvegtinge van sy vyande. Die druk van die aanslag maak dat sy geestelike kragte begin meegee en selfs sy liggaam word siek. Hy beleef sy siekte as ‘n straf van God en sy vyande wys hom ook daarop. Vir hulle is sy siekte ‘n bewys dat God hom straf. Die regte reaksie op so ‘n benoudheid is altyd gebed. Hy is baie eerlik met die Here en wil seker maak dat daar nie sondes in sy lewe is wat die verlenging van sy straf sal veroorsaak nie.
Verse 1-8 : Hy vra dat God hom nie verder straf in Sy toorn nie. Straf en toorn staan in die grondteks met klem geskrywe. God laat sy vyande toe om hom aan te val weens sondes wat getug moet word. Daarom smeek hy om genade. Dit is al ‘n hele tyd dat hy onder die siekte ly en dit lyk nou of God hom nie wil help nie. Daarom is hy geskok en het groot geskrik. Hy pleit op drie gronde om hulp. Eerstens oor die toestand van sy liggaam en sy siel. Hy is by breekpunt. Tweedens ken en bely hy God as vol van goedheid (goedertierenheid). Derdens wys hy God daarop dat as hy sterwe dit vir God op dié stadium tot geen voordeel sal wees nie. As God hom uit die situasie red en hy God daarna voor sy vyande loof, sal God baie meer eer daaruit kry. Hy is ook geestelik by breekpunt omdat hy na baie intense en aanhoudende gebed net nie kan deurbreek tot by ‘n punt waar God reageer nie. Dit is nou tyd dat God antwoord en genade betoon, want hy kan nie meer nie. Hy het ook geen ander oplossing as om na God self te gaan nie. God alleen kan sy sonde vergewe en hom dan op grond van daardie vergifnis verlos van sy vyande. Die alternatief is te erg om oor te dink, naamlik om te sterf soos iemand wat nie met God versoen is nie. Mense wat onversoend met God sterf, sal hom nie in die doderyk loof nie. Hy is tog wat dit betref nie soos die ongelowiges nie; hy is immers iemand wat God se goedheid en genade ken.
Verse 9-10: Wanneer dit lyk of God hom verlaat het en sy nag op die donkerste is, begin sy gebed die oorwinning behaal. Hy weet skielik in sy hart dat God hom gehoor het nog voor die uiterlike bewyse daar is. Daarom bestraf hy alreeds sy vyande. Gebed is worsteling met God en terselfdertyd ‘n stryd teen Satan. God het sy geween, sy smeking en gebed gehoor en dit gee dadelik oorwinning oor die vyand. Nou sal sy vyande skaam die aftog blaas en selfs verskrik word soos hy verskrik was. Die bordjies is omgeruil. God het die verskil gemaak. Gebed het die deurbraak gegee. Dit het gebeur omdat God presies so is soos Dawid Hom ken: ‘n God wat genadig is teenoor dié wat in nood is en hul toevlug na Hom neem. Nou sal presies gebeur wat Dawid voor geredeneer het in sy gebed: God sal al die eer kry. Wanneer God gebed verhoor, is dit telkens God se soewereine besluit. Niemand kan God daartoe dwing of beveel nie. Nederige staatmaak op God se soewereine genade en ‘n gesindheid van gebrokenheid is al wat in gebed God “oorwin”. Gebrokenheid is oorgawe aan God se soewereine wil. God het mag oor lewe en dood. Dawid besluit nie self wat hy wil hê en spreek dan uit wat hy wil laat gebeur nie. Dit is wat die “Word of Faith”-dwaling vandag leer gelowiges kan doen. Nee, Dawid weet lewe en dood lê nie in die mag van die mens se tong nie, maar in die besluit van die almagtige, soewereine God.
Let op die verskil tussen die twee gedeeltes van die Psalm. Kyk na die verootmoediging en smeking van ‘n kind van God wat alleen staat maak op God se genade. Selfs sy eie sonde van die verlede sal nie ‘n antwoord weerhou as hy hom daaroor verootmoedig nie. Wanneer die biddende hart begin deurbid, verander die smekende houding in ‘n gesindheid van oorwinning en geloof oor die antwoord wat verkry is. As gebed verkry het, antwoord God en Hy SKEP die geloof in die hart van die kind van God dat die oorwinning behaal is. Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het: julle geloof (1Joh. 5:4). Hierdie geloof is nie uit die mens nie, maar elke keer ‘n gawe (geskenk) van God. Dit geld vir saligmakende geloof, sowel as geloof in enige krisis.