BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 7
DOEN AAN MY REG
Dawid beleef ook in hierdie Psalm, soos in die voriges, dat hy deur goddelose mense aangeval en vals beskuldig word. Hy stel sy saak eerlik aan die Here en getuig dat hy onskuldig is aan die beskuldigings wat in die openbaar teen hom gemaak is. Valse beskuldigings is van die mees afbrekendste vervolgings wat enigiemand kan beleef, omdat dit die karakter van iemand beswadder. Daarom sing hy “vir die Here” en deel sy hart met sy God wat hy ken as die God wat regverdig is en reg sal laat geskied.
V 1: Iemand uit die stam van Kus het hom beledig en vals beskuldig, moontlik Saul of een van sy volgelinge.
V 2 – 6: Hy vra die Here moet hom verlos van sy vervolgers en hom red, want net God kan werklik in so ‘n situasie die uitkoms gee. Hy voel so sterk oor sy onskuld dat hy selfs sê dat God kan toelaat dat sy vyand hom oorwin en vernietig as hy skuldig is aan hul beskuldigings, of as hy iets verkeerds aan hulle gedoen het. Hy het hulle nie kwaad aangedoen nie, maar selfs van hulle se lewens gered. Nou kry hy hierdie slegte beloning vir sy goeie optrede teenoor hulle.
V 7-10: God moet as regverdige Regter optree en met woede teen die onreg optree. God het tog die reg ingestel en daarom doen hy ‘n beroep op God om volgens Sy reg op te tree en Sy reg te laat geld. God moet ook die reg gebruik om sy onskuld in die openbaar te bevestig. God oordeel nóú al die dade van alle mense van alle volke en straf alreeds voor die oordeelsdag om sy geregtigheid nou al teenoor die nasies te openbaar. Hy oordeel nie net die uiterlike optrede van mense nie, maar kyk na die motiewe en gesindhede agter die optredes. God sit reeds oordelend op Sy troon, en is so op pad na die groot dag van Sy toorn. Hy sal nie die onskuldige skuldig verklaar nie, maar hom beskerm teen onreg. Dawid wil hê Hy moet afkom en oordeel en weer op Sy troon in die hoogte gaan sit.
V 11-18: God is die regverdige Opperherder wat die onskuldige sal beskerm. As die goddelose hom nie bekeer nie, sal God toelaat dat sy sonde sy eie ondergang word. Goddelose mense gee plek aan sondige gedagtes (soos bevrugting plaasvind) en laat dit dan groei tot hulle geboorte gee aan groter verkeerde optredes. Die sonde waaraan hy “geboorte gee” sal hom self op die ou end vernietig. Daarom prys Dawid nou al die Here, want Sy geregtigheid gee hom oorvloedige rede daartoe. Dit is vir hom wonderlik om so ‘n God as sy Verlosser te hê. Hy noem God die Allerhoogste. Daar is geen ander gesag bokant die God van Israel nie. God oordeel nie net oor Israel nie, maar oor al die nasies. God sal teen die goddelose binne Sy eie volk optree en so sal die nasies sien dat die God van Israel regverdig is en alle gesag het oor almal op die aarde. So kry God al die eer. Die feit dat God die onreg in hierdie wêreld sal straf en stop, maak dat Hy geloof moet word. Dawid wil nie self vergeld nie, maar gee die wraak aan God oor. Hy loof God “na Sy geregtigheid”. Dit is een van God se belangrike karaktertrekke. Die Regter is sy Verlosser! God het afgekom in die volheid van die tyd in Christus. Die oordeel op die goddelose het Sy Seun getref. Hy het weer opgevaar na die hoogte. Alle goddeloses wat dit glo en aanneem, word vergewe en vrygespreek (Rom. 4:5).