Ps 8 Wat is die mens?

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 8

 

WAT IS DIE MENS?

 

Ps. 8 is ‘n meditatiewe liriek wat handel oor die grootheid van God, soos geopenbaar in die skepping, en in vergelyking daarmee die nietigheid van die mens. Eers praat hy namens “ons”, al die gelowiges, en dan getuig hy van wat hyself persoonlik ondervind (“as ek” – vers 4). Die Psalm sluit met dieselfde reël as waarmee dit begin. Dit maak ‘n stelling, verduidelik dan waarom hy dit sê, en bevestig dan weer die stelling. Dieselfde stelling aan die begin en die einde vorm die raamwerk waarbinne die digter God se grootheid besing.

 

Verse 1 – 3 : Die God van die verbond is die Alleenheerser oor die skepping. Dit werk geloof in die hart van hulle wat Hom ken – geloof dat Hy alles in die skepping beheer. Die sterrehemel getuig dat Hy almagtig en soewerein is. Daarom is Hy Koning van alles. Die wonder van die skepping getuig van die grootheid van die ware God. Die heidene aanbid die hemelwesens, maar vir die digter is dit net die handewerk van God wat van Hom getuig. Hy sit die stempel op sy grootheid, op die geweldige heelal, maar ook op die lippe van ‘n kind wat van Hom getuig. Die vyande van God wil dikwels sy rol as Regter oorneem, maar sy handewerk maak hul stemme van teenstand stil.

 

Verse 4 – 6 : Die Here word nou vergelyk met ‘n skeppende kunstenaar wat met sy vingers kunswerke voortbring. Die grootheid daarvan laat die digter besef dat die mens baie nietig en klein is in vergelyking met God, en selfs die skepping. Die paradoks dat God aan so ‘n nietige skepsel so ‘n heerlike posisie in die skepping gee, is net aan God se goedheid en guns te danke. Die mens het nooit ‘n rede om op te roem nie. Hy is weinig minder as die engele (Hebr. 2:5-9). Die woord vir “mens” in die grondtaal dui op ‘n swakke sterweling, en “mensekind” dui op die mens as ‘n eie soort apart van God en die engele of die diere. Ten spyte van die nietigheid van die mens teenoor die grootheid van God, maak God altyd bemoeienis met die mens. Hy dink aan die mens en openbaar Homself aan die mens. Die mens dra die beeld van God en is gekroon tot ‘n koning onder die soewereiniteit van God.

 

Verse 7 – 10 : Hy het selfs die mens as ‘n heerser oor alles op aarde aangestel! Die mens heers oor die mak en die wilde diere, oor die voëls en die diere op land. Hy heers egter oor die ”werk van God se hande”. Hy moet altyd onthou dat hy dit nie geskep het nie. Die wetenskaplikes kan die natuurwette ontdek en formuleer, maar behoort nederig te bly by die besef dat hulle niks self kan skep nie. Dié God wat alles uit niks geskape het, is baie wyser en verhewe bo hulle wat die skepping bestudeer. Die feit dat God die gesag oor die skepping van sy hande aan die nietige mens delegeer, vul die digter met lof aan God. Dit loop uit op die digter se laaste lofprysing aan God, soos aan die begin. Die mens het egter in sonde geval en baie van sy heerlikheid en eer verloor. Die Mens Jesus het egter gekom om weer alles te herstel en om namens ons te heers. Hy is egter na Sy opstanding met Sy hemelvaart verhef bokant die engele tot aan die regterhand van God op God se troon (Hebr. 2:5-9). Ook 1 Kor. 15:27 en Efes. 1:22 getuig dat Jesus die heerskappy kom herstel het. Aan Hom as mens is alle “gesag” gegee in die hemel en op die aarde. So word die posisie van die mens, wat in Gen. 1:26-28 aan hom gegee is, in beginsel herstel. Eendag sal die gelowiges weer saam met Christus heers, wanneer alles nuut gemaak word by sy wederkoms (Open. 3:2; 5:9-10).

(Visited 190 times, 1 visits today)